Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all 263 articles
Browse latest View live

Hare waai tussen Leeus en Koedoebulle

$
0
0
Hare waai tussen Leeus en Koedoebulle

Andrew Poolman - Die botsing vandag tussen twee van die onoorwonne o.19-spanne in die nasionale skolerugbyliga van Momentum lyk toenemend na ’n geleentheid wat nie misgeloop moet word nie.
Samsung Windhoek Hoërskool het om 16:00 die tuisvoordeel by sy Vegkopstadion vir die besoek van Ricoh Windhoek Gimnasium se Leeus.
Die twee afrigters, Henry Kemp (WHS) en Vince Dreyer (Gimnasium) het tot die afgelope naweek nog saamgespan om die nasionale o.18-span by die Cravenweek in Durban suksesvol te maak. Die Namibiese span is grootliks uit spelers van dié twee skole saamgestel, met net Walvisbaai (3) en Windhoek Affies (2) wat ook enkelinge tot die 23-tal bygedra het.
Al hierdie vriendskapsbande sal vir vandag se 70 minute opsy geskuif word vir ’n geleentheid wat die twee spogskole – asook elke neutrale liefhebber van skolerugby – behoorlik sal aangryp.
Met soveel afwagting op die pawiljoen sal die afrigters en kapteins beswaarlik nodig hê om hul manne op te sweep en sal klem op kalmte en fokus dalk ewe nodig vir dié taak wees.
WHS takel die wedstryd sonder sy ervare heelagter André van der Berg, wat ná sy vertoning as kaptein van die Cravenweekspan verlede week met ’n beseerde boudspier sukkel. Dit behoort hom egter nie uit die naderende uitklopwedstryde van die Momentum o.19 Superliga te hou nie.
In Van der Berg se plek sal die belowende spoedvraat Warren Ludwig die Koedoebulle se 15-trui dra.
Die rooi-en-swart span wemel ewe veel van talent voor- en agterlangs, met hul kaptein Frederick van Zyl dodelik op die aanval.
Gimmies, WHS en Elnatan is die drie onoorwonne spanne sover vanjaar nadat laasgenoemde twee se ligawedstryd op Stampriet met 31-31 geëindig het. Gimmies se ontmoeting met Elnatan op 30 Julie in Windhoek sal die ander bepalende uitslag wees.
Die groot aansporing in dié stadium is om met ’n eerste posisie ’n “makliker” semifinaal te verseker.
Toe WHS onlangs by Gimnasium se sportweek meegeding het, het die blou truie die vriendskaplike kragmeting met 19-15 gewen. As daar ’n individuele held was, was dit sekerlik hul losskakel Delron Brandt wat al die wenpunte met ’n drie, doelskop, skepdoel en drie strafdoele aangeteken het.
Gimnasium kon geen van sy drieë deur senter Chrischen Olivier, stut Sam Kuvare en losskakel Denzo Bruwer verdoel nie.
• Tussen die skole se tweede rugbyspanne was Gimnasium daardie aand met 28-7 baas.
Hul herontmoeting vandag om 14:45 is vir beide ook van deurslaggewende belang – Windhoek Gim II en WHS II ding beide ook in die premierliga mee en vandag se wenner sal ’n sterk kans staan om in die topvyf (Superliga) se enkele kwarteindstryd betrokke te wees. Walvisbaai is ook nog nie uit hierdie wedloop nie.
WHS II het onlangs met 34-26 teen Dr. Lemmer I op Rehoboth gewen.

Samsung WHS: 1 Wander Augustyn, 2 JT Basson, 3 Andries Jacobs, 4 Rainer Augustyn (kapt), 5 Loandro Erasmus, 6 Prince !Gaoseb, 7 JD Nel, 8 Oderich Mouton, 9 Duan Fourie, 10 Delron Brandt, 11 Isaya Mohinda, 12 Justin Muir, 13 Handré Klazinga, 14 Elmarco Beukes, 15 Warren Ludwig.
Die reserwes sal die manne wees wat die tweede spanne se wedstryd oorleef, sê Kemp.

Ricoh Windhoek Gimnasium I: 1 Sam Kuvare, 2 Darius von Solms (o.kapt), 3 Jano Rieckert, 4 Armand Kotze, 5 Le Beau du Preez, 6 Pieter Diergaardt, 7 Dylan Farmer, 8 Franco Opperman, 9 Niko Davin, 10 Denzo Bruwer, 11 Ethan Mouton, 12 Chrischen Olivier, 13 Frederick van Zyl (kapt), 14 Rudi Pretorius, 15 Wiks Tromp.
Reserwes: 16 Lee-Will Swartz, 17 Adriaan Vermeulen, 18 Amos Loxton, 19 JJ Richter, 20 Tertius Lambrechts, 21 Nico Horn, 22 Ruben Lambrechts.

ELNATAN WEN
Die eerste span van Elnatan het gister op Stampriet sonder moeite (53-10) die aanslag van Tsumeb Gimnasium afgeweer. Die wedstryd is halfpad deur die tweede helfte stopgesit.
Vir Elnatan was agtsteman Gerbus van Wyk, heelagter Juan Viljoen, vleuel Nico Maartens (2), senter Louis Meyer, losskakel PW Steenkamp, flank Ryno Swart en plaasvervanger CJ Aggenbach sy driedrukkers. Steenkamp het die skoppunte bygevoeg.

Tags: 
Andrew Poolman

Doring Brandt bly in Gimmie-vlees

$
0
0
Doring Brandt bly in Gimmie-vlees

Andrew Poolman - Die kolossale talent van Delron Brandt as wedstrydwenner is opnuut uitgestal toe Samsung Windhoek Hoërskool se Koedoebulle gister ’n kosbare oorwinning in Momentum se nasionale o.19 rugbyliga behaal het.
In ’n briljante wedstryd wat aan al die hoë verwagtinge van dramatiese oomblikke voldoen het, was dit Brandt se skopvoet wat met 23-13 die wedstryd uit die hande van die Ricoh Windhoek Gimnasium Leeus geneem het.
Asof een skepdoel om die telling tot 17-8 te laat aangroei nie genoeg was nie, het WHS se lenige nommer tien vier minute later weer vasgetrap om vir nog drie punte te skepskop. Toe ’n aanstormende Gimmie hom afsny, het hy soos blits afgetrap en die bal ewe maklik met sy linkervoet deur die pale gestuur.
Rustyd was sake nog gelykop met 8-8, met een drie aan elke kant. Dit was ’n getroue weergawe van die eweredige wipplankstryd tussen die twee spanne se relatiewe sterker punte: WHS se vermoë om met sy voorspelers te domineer en Gimnasium se vinnige, ondernemende agterlyn.
’n Brandt-strafdoel was die eerste punte vir WHS, voordat Gimmies se heelagter Wiks Tromp met die eerste van sy twee drieë teruggeslaan het.
Oomblikke tevore was WHS nog op die aanval, toe ’n bal in die agterlyn laat val is en deurgeskop is. ’n Strafskop is aan Gimmies toegeken van waar die bal na Tromp as die ekstra man gestuur is. Die doelskop was mis, maar vir ’n wyle was Gimnasium voor (5-3).
Die Koedoebulle se eerste drie deur Isaya Mohinda was die gevolg van ’n briljante stukkie werk deur dié linkervleuel om naby die kantlyn sy opponent af te skud en die doellyn ondanks die desperate dekverdediging te haal. Brandt se doelskop was mis, maar WHS se neus was met 8-5 voor.
Die Leeus se Cravenweekslot Armand Kotze was vir tien minute koelkas toe nadat hy sy hand in ’n opponent se gesig gedruk het, maar heelagter Tromp het kans gekry om met ’n strafdoel sake rustyd met 8-8 gelykop te maak.
’n Strafskop reg voor die pale drie minute ná die hervatting het vir Brandt geen probleem ingehou nie (11-8).
Gimnasium se tweede drie is ook deur Wiks Tromp in die linkerhoek afgerond – hoewel skeidsregter Jacky Husselmann en sy vlagman Armand von Wielligh eers ’n gesprek gehad het om te besluit of die verdediging dalk betyds was om hom eers oor die kantlyn te help. Tromp kon nie verdoel nie (13-11 vir Gim).
Dit was egter die laaste keer dat enig­iemand behalwe Brandt ’n invloed op die telbord sou hê. ’n Maklike strafdoel voor die pale (53ste minuut) is gevolg deur sy skepdoel met die regtervoet (58ste minuut) en daarna die enetjie met die linkervoet (63ste minuut). Om af te sluit was daar ook nog ’n reguit strafdoel van 40 meter, sowat vyf minute voor die einde.
Brandt het nie ’n wonderlike eerste helfte beleef nie, met van sy skoppe wat soms nie die regte kant toe wip nie.
Al daardie wedstryde vanaf o.14-vlak waarin Brandt al die oorhand teen Windhoek Gimnasium gekry het, moes egter deur die gedagtes geflits het terwyl die groterige skare sy nuutste kunswerk binne so ’n kort tydjie sit en aanskou het.
Die uitputtende effek van WHS se agttal, met haker JD Basson en flank Prince !Gaoseb net twee van die uitmuntende harde werkers, het sake vir afrigter Vince Dreyer se manne verder bemoeilik.
Aan moed opgee het die rooi-en-swartes egter nie eens vir ’n oomblik gedink nie en as dit nie vir twee desperate stukkies reddingswerk deur WHS se heelagter Warren Ludwig was nie, kon die laaste paar minute selfs meer uitasem geëindig het.
Met Elnatan ook nog onoorwonne vanjaar, kan die Momentum o.19 Superliga inderdaad nog interessant eindig. Elnatan en Windhoek Gimnasium se afspraak is op 30 Julie in Windhoek.

TROOS VIR GIMMIES II
Gimnasium se tweede span het sy kanse om ook in die topvyf te eindig lewend gehou deur WHS II met 27-18 te klop.
Drieë deur Nico Horn, JJ Richter, Henry Olivier en Tertius Lambrecht, saam met sewe skoppunte deur Horn, het vir die wenspan die deurslag gegee.
Aan WHS II se kant is net met twee drieë deur Kyle Ducie en skrumskakel Jacques Theron geantwoord, terwyl agt skoppunte van senter Kobus Kruger gekom het.

Tags: 
Andrew Poolman

Walvisbaai wag vir WHS en Wanderers

$
0
0
Walvisbaai wag vir WHS en Wanderers

Henry Kemp, afrigter van Samsung Windhoek Hoërskool, het sy eerste rugbyspan onveranderd gehou vir môre se besoek aan Walvisbaai Privaat Hoërskool.
Die Koedoebulle het Woensdag op hul tuisveld Vegkop ’n hoogs aanskoulike wedstryd teen die verdedigende kampioenspan van die Momentum o.19 Superliga beklink.
Ricoh Windhoek Gimnasium moes met 23-13 die knie buig.
Die wedstryd by Vegkop was baie fisiek en is ook teen ’n hewige tempo gespeel. Met só ’n kort tydjie voor hul volgende wedstryd is dit nie sommer so ’n eenvoudige taak wat voor die WHS-span lê nie.
Die Walvisbaaise span, wat deur Namib Diesel geborg en deur mnre. Willie van Zyl en Henjan van der Heyde afgerig word, is glo vuur en vlam om die bloues se onoorwonne rekord hierdie seisoen in die slag te laat bly.
Met ’n sege sal Walvisbaai sy kans grootliks kan versterk om as een van die topvyf sy aanspraak op die Superliga te behou.
Die Walvisbaaise span bevat drie spelers wat sommer verlede week nog op die Cravenweek-toer na Durban was – insluitend die heelagter Chad Plato wat so ’n blink vertoning teen Griekwas gelewer het.
Daar is ook ’n paar staatmakers wat verlede jaar op dié vlak gespeel het en nou nét te oud vir die afsnymerk was. Die insluiting van twee van hulle as flanke (Riaan de Klerk en die kaptein Nico Poggenpoel) vertel jou alles wat jy van die kusdorp se swaar agttal wil weet.
Namib Diesel Walvisbaai: 15 Chad Plato, 14 Darryl Wellman, 13 Michael Bouwer, 12 Randall Maasdorp, 11. Jonathan Garcia, 10 Francois Rautenbach, 9 Juvan Pitout, 8 Wynand Breytenbach, 7 Nico Poggenpoel (kapt), 6 Riaan de Klerk, 5 Lezardo Vos, 4 Marlon van den Berg, 3 Dillon Skoppelitus, 2 Zwandre Viviers, 1 Patrick Schickerling.
• Windhoek Gimnasium is ook sommer reeds môre weer op reis, hoewel met ’n minder gedugte opponent in Dr. Lemmer I.

KLUBRUGBY
Met die semifinaliste reeds bepaal, is daar eintlik redelik min op die spel vir die agt spanne wat die naweek die laaste rondte van die NRU premierliga voor die kwarteindstryde afsluit.
Die enigste raaisel is waarskynlik wie van FNB Western Suburbs (tans derde met 53) en Trustco United (vierde op 49) hoër gaan klaarmaak.
United is vanaand tuis teen Rehoboth Rugbyklub, terwyl Suburbs môre in die teenoorgestelde rigting na Reho Falcon reis.
Die verdedigende kampioen FNB Unam speel in Windhoek teen Kudus, terwyl die voorloper FNB Wanderers op Swakopmund teen die sukkelende Walvisbaai gaan speel.
Die twee spanne wat gister voor druktyd ontvang is:
Trustco United: 15 Felix Humphries, 14 Stefan Louw, 13 Henry Kandjou, 12 Donovan van Wyk, 11 Nandivatu Karuuombe, 10 Robbie Dickson, 9 Morné Blaauw, 8 Greyling Koopman, 7 Cevin Harding, 6 Winmar Rust (kapt), 5 Lionel Nantes, 4 Stefan Neustädt, 3 Clinton de Klerk, 2 Kamaa Kajau, 1 Marius Louw.
Kudus: 15 Elmo van der Byl, 14 Nicasio Schoombe, 13 Bevin Botha, 12 Anthony Jevu, 11 Carlton Stevens, 10 Daniel Bock, 9 Percy Nash, 8 Ngumeritiza Nguaiku, 7 Irvin Damants, 6 Ernesto Bampton, 5 Joshua Jacobs, 4 Enzio Kotzee, 3 Andriess Rossouw, 2 Dario Benson, 1 Lorenco Calaza.
Reserwes: Markie Nangoro, Cameron Langenhoven, Luwardo Sitzer, Ricardo Kubas, Charlton Brussel, Zane Williams, Shalako Groenewald.

Tags: 
Andrew Poolman

Leneve kaptein vir stryd teen Kapenaars

$
0
0
Leneve kaptein vir stryd teen Kapenaars

Andrew Poolman - As daar ooit ’n tyd is om vas te trap en een van daai vertonings te lewer wat Namibiese rugbyspanne byname soos die Biltongboere besorg het, is dit môre om 15:00 in die Hage Geingob-stadion.
DHL Westelike Provinsie is die voorloper in die provinsiale reeks om vir die Curriebeker te kwalifiseer en stoot ’n gedugte wedstrydgroep in die veld teen die wenlose span aan die onderpunt van die puntelys.
Niemand verwag seker dat die Windhoek Draught Welwitschias van 2016 eensklaps ’n gedaanteverwisseling sal ondergaan nie, maar net so sal hul hardnekkige ondersteuners gewis nie ’n herhaling van die laaste weke se lelikste verloortellings wil sien nie.
Rugby in die Kaap is springlewendig vanaf die junior vlakke en op papier lyk die Kapenaars moontlik na die sterkste span met wie die Namibiërs nóg vanjaar te doen gekry het.
Sedert die WP se enigste nederlaag in die ­openingsrondte in April teen die Blou Bulle kon geen span in die kompetisie hulle weer keer nie.
Die flank Janco Venter is genadiglik afwesig ná sy stormende vertoning teen Kenia en Damian Stevens is besig met sy skuif na die Haaie, wat hom sowat ’n week gelede begin nader sleep het om hul diepte op skrumskakel met die oog op die Curriebeker premierliga te versterk.
Dit laat ’n enkele ­Namibiër in die WP-span, naamlik Christo van der Merwe aan die kant van die skrum.
Die Kapenaars wemel nie net van jong talent wat binnekort op hoër vlakke kan deurbreek nie, maar bevat ook etlike spelers wat reeds Superrugby gespeel het, insluitend Johnny Kotze (vleuel), slot Jurie van Vuuren, stutte Wilco Louw en JC van Rensburg, haker Michael Willemse en die veelsydige agterspeler Scott van Breda.
Aan die Namibiese kant moet die “tweede span” van plaaslik ­gebaseerde amateurspelers maar opnuut die fort hou.
Enkele spelers is wel uit die Namibiese toetsspan vrygestel om die aanslag te help versterk. Een van hulle is die agtsteman Leneve Damens, wat vir die eerste keer as kaptein van ’n Namibiese verteenwoordigende span sal uitdraf. Hy neem die leierskap by die senter Francois Wiese oor, wat uitgeskakel is deur ’n rugbesering wat ná laas naweek se verloorstryd teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld weer opgevlam het.
Wiese se 12-trui word deur Heinrich Smit gevul, wat eintlik nogal lanklaas die wêreld aan die brand gespeel het.

WINDHOEK DRAUGHT WELWITSCHIAS:
1 Quintin Esterhuizen, 2 Petri Burger, 3 Collen Smith, 4 Muniovita Kasiringua, 5 Wickus Davis, 6 Johan Luttig, 7 Morné Blom, 8 Leneve Damens (kapt), 9 JC Winkler, 10 Mahco Prinsloo, 11 Phillip Nashikaku, 12 Heinrich Smit, 13 Handré ­Bezuidenhout, 14 Russell van Wyk, 15 Justin Nel.
Reserwes: Niël van Vuuren, Schalk Bergh, Max Katjijeko, Johan Wohler, Cameron Klassen, Lesley Klim, Shaun Kaizemi. Afrigter: John Williams.

DHL WESTELIKE PROVINSIE:
15 Grant Hermanus, 14 Khanyo Ngcukana, 13 EW Viljoen, 12 Johnny Kotze, 11 Edwill van der Merwe, 10 Dennis Cox, 9 Justin ­Phillips, 8 Kobus van Dyk, 7 Christo van der Merwe, 6 Rikus Bothma, 5 Chris van Zyl (kapt), 4 Jurie van Vuuren, 3 Wilco Louw, 2 Chad Solomon, 1 JC Janse van Rensburg.
Reserwes: Michael Willemse, Denzil Riddles, Jacques Vermeulen, Eital Bredenkamp, Beyers de Villiers, Godlen Masimla, Scott van Breda. Afrigters: John Dobson en Dawie Snyman.

Tags: 
Andrew Poolman

Afrigter Davies roep WP-flank vir toets nader

$
0
0
Afrigter Davies roep WP-flank vir toets nader

Andrew Poolman - Genoeg is op die spel in môre se rugbytoets in Windhoek om te verseker dat beide Namibië en Kenia met niks minder as ’n totale aanslag vorendag sal moet kom nie.
Môre se uitslag sal net ’n indirekte invloed op die wedloop na die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan hê. In die kontinentale kwalifisering sal volgende jaar se Afrikabeker-kampioen sy WB-plek bespreek, maar vanjaar se wenner maak seker dat hy in 2017 net een wegwedstryd (teen span nommer 4) sal hoef te speel.
Kenia kon nog nooit naby aan ’n oorwinning in Windhoek kom nie, maar is vol vertroue dat hulle môre ’n goeie kans staan en lyk gewis na die Welwitschias se grootste uitdaging in die wedloop.
Afrigter Phil Davies het gisteraand sy kerngroep van die afgelope maand behou. ’n Interessante byvoeging op die bank is die flank Christo van der Merwe, wat laasjaar nog die nasionale o.20-span se kaptein was.
Die belowende jongman het vanjaar sy deurbraak tot die Westelike Provinsie se Curriebekerspan gemaak.
Die Namibiese span is: 1 Casper Viviers, 2 Louis van der Westhuizen, 3 AJ de Klerk, 4 Tjiuee Uanivi (kapt), 5 Ruan Ludick, 6 Rohan Kitshoff, 7 Janco Venter, 8 Tinus du Plessis, 9 Eugene Jantjies, 10 Theuns Kotzé, 11 Gino Wilson, 12 Darryl de la Harpe, 13 Johan Deysel, 14 Russell van Wyk, 15 Chrysander Botha.
Reserwes: 16 Gerhard Lötter, 17 Collen Smith, 18 Quintin Esterhuizen, 19 Christo van der Merwe, 20 Leneve Damens, 21 Damian Stevens, 22 JC Greyling, 23 Heinrich Smit.

Wen tien kaartjies
Beantwoord die volgende vraag om kaartjies vir môre se wedstryd tussen Namibië en Kenia in Windhoek
te wen.
Wie is die hoofborg van die Afrikabeker-toets op 16 Julie 2016 in Windhoek?
Skryf die sleutelwoord “RUGBY” vooraan jou SMS, gevolg deur jou antwoord. Stuur jou SMS na 51500 (elke SMS kos N$1). Lesers kan soveel SMS’e stuur as hul wil.
Die lyn sluit om 15:00.

Tags: 
Andrew Poolman

Streeptruie seil onverpoos voort

$
0
0
Streeptruie seil onverpoos voort

Andrew Poolman - Vyf wedstryde bly nog vir die Windhoek Draught Welwitschias oor na afloop van laas Saterdag se voltooiing van die provinsiale reeks om vir die 2016 Curriebeker te kwalifiseer.
Die wenlose Namibiese amateurspan het Saterdag sy 14de nederlaag op ’n streep gely toe die voorloper, die DHL Westelike Provinsie, hom in die Hage Geingob-stadion met 71-7 oorskadu het.
Die Kapenaars het nie juis nodig gehad om veel skouspelagtigs te doen nie, hoewel hulle gereeld die bal in hul eie gebied wyd geslinger het om die verdagte Namibiese verdediging aan die buitekant te beproef.
Ná sy eerste wedstryd as kaptein van die Welwitschias het die agtsteman Leneve Damens die skare getroue ondersteuners verskoning gevra en het beloof dat die span nog nie moed opgegee het om sy eerste oorwinning vir die seisoen te behaal nie.
Die Welwitschias sal nou in die “onderste ses” kompetisie teen die Valke, Grens Bulldogs, SWD Arende, Luiperds en die Griffons betrokke raak. Dié wedstrydprogram was gister nog nie beskikbaar nie. Griekwas, die Kavaliers en die Pumas dring deur tot die Curriebeker premierliga.
Die Namibiërs het moedig probeer teen die WP, hoewel min spelers dit reggekry het om werklik hand op te steek. Gans te veel swakhede en basiese foute bly teister die span om realisties te kan redeneer dat hulle ’n mededingende kans het om enige van hul opponente plat te trek.
Uit die geledere van die Rugby-unie word ten minste nie ontken dat daar “beter” spelers in die premierligaklubs mag wees nie. Trouens, vele pogings om spelers van klubs dwarsoor die land te nooi om by die oefensessies aan te sluit, het óf geen, óf net kortstondige vrugte afgewerp wanneer sulke spelers nie die vereiste fiksheidsvlak kon bybring nie. Daar is ook aantygings dat sommige klubs weerstandig is om hul topspelers vry te stel.
“Die manne wat jy op die veld sien, is dié wat oefeninge bywoon,” was die bondige opsomming. Dit verklaar hoedat spelers wat dikwels van die bank af vir hul klubs speel, of selfs skoolverlaters van 2015, vanjaar gereelde instellings geword het.
Ná tien minute was die telling 12-7 nadat losskakel Mahco Prinsloo die enigste drie aan die Namibiese kant gedruk het. Damens het van agter ’n skrum probeer wegbreek, maar sy aangee na Prinsloo het grondlangs na die losskakel gerol, wat onder ’n hoogvat of twee deurgekoes het voordat hy omgeswaai en sy pad doellyn toe gevind het. Justin Nel het verdoel.
Met die rustydtelling 31-7 en vyf drieë teen een, was dit reeds duidelik dat die patroon van die seisoen sou voortduur.
In die doodsnikke het ’n onderskepaangee deur Shaun Kaizemi op sy eie kwartlyn die laaste sewe punte vir die Kapenaars weggee.
Ten minste is die wedstryd in goeie gees gespeel, ondanks drie geel kaarte in die tweede helfte vir die Welwitschias se skrumskakel Cameron Klassen en senter Heinrich Smit, asook die WP se Namibiese flank Christo van der Merwe.
Die Welwitschias se plaasvervangerstut Schalk Bergh het ’n ruk lank met ’n kniebesering probeer voortspeel, voordat hy dié stryd gewonne moes gee.
Driedrukkers vir die WP was die agtsteman en speler van die wedstryd Kobus van Dyk (2), losskakel Dennis Cox, skrumskakel Justin Phillips, senter EW Viljoen (2), vleuel Khanyo Ngcukana, flank Christo van der Merwe en die plaasvervangers Eital Bredenkamp, Scott van Breda en Beyers de Villiers. Agt van heelagter Grant Hermanus se doelskoppe het die kol getref.

Tags: 
Andrew Poolman

NRU premierliga staan voor uitklopfase

$
0
0
NRU premierliga staan voor uitklopfase

Andrew Poolman - Die vier grotes in die premierliga van die Namibië Rugby-unie slyp hul tande vir komende Saterdag se halfeindstryde wat in die Hage Geingob-stadion gespeel word.
Die voorloper FNB Wanderers kom teen sy oudste vyand Trustco United te staan, terwyl die verdedigende kampioen FNB Unam tweede op die puntelys geëindig het en weet dat hy nie vir FNB Western Suburbs durf onderskat nie.
Die sukkelende Walvisbaai rugbyklub het homself die afgelope naweek oortref deur op Swakopmund met 26-26 teen Wanderers gelykop te speel.
Koue en ’n sterk wind het die ­Windhoekers glo erg gepla, wat boonop deur hul eie foute nie in die tweede helfte daarin kon slaag om uit hul eie helfte te ontsnap nie.
Walvisbaai se afrigter, Nico van der Westhuizen, sê die kusspan het munt daaruit geslaan dat Wanderers hulle grootliks onderskat het.
“Dit was ’n harde wedstryd en ek wil graag weet waar Wanderers al daai groot spelers kry wat altyd teen ons uitdraf. Hulle het seker gereken dit gaan weer maklik wees, maar toe speel die Walvis-span met groot harte en ons het natuurlik die wind baie beter as hulle gebruik.
“As ons volgende seisoen kan begin soos ons hier geëindig het, sal dit in 2017 heelwat beter gaan.”
Walvisbaai se drieë is gedruk deur flank James Marx, senter William Jacobs, heelagter Jurie Loots en ­agtsteman Leeroy Rentzke. ­Losskakel Jeroen van Dam het drie uit vier verdoel.
“Ons het ook twee spelers gehad wat hulle laaste ligawedstryd gespeel het en nou hulle tokse ophang, naamlik skrumskakel Jannes Smit en ­agtsteman Leeroy Rentzke,” sê Van der Westhuizen.
Aan Wanderers se kant was vleuel Deselvano Beukes, stut Nian Berg en skrumskakel Terswin Raubenheimer (2) sy driedrukkers. Heico Prinsloo het die skopwerk behartig.

SESTIGTAL VIR UNAM
In Windhoek het Unam min moeite ondervind op sy ligaverpligtinge op ’n hoë noot teen Kudus af te sluit.
Die kusspan was glo maar erg ­uitgedun deur die beserings wat die vorige naweek in sy vuil wedstryd teen Reho Falcon opgedoen is.
Unam, wenners met 60-5, se driedrukkers was die ­agterspelers Lorenzo Louis, Sylvano Beukes, Chess Lawrence, Camlo Martin, Onumasa Kavita (2), asook die voorspelers Freddy Puriza, Frank Mowa en Simon Kanime. Die ander punte het van Louis (vyf doelskoppe en ’n strafdoel) en Helarius Kisting (een doelskop) gekom.
• Vrydagaand se kragonderbreking het ná net 19 minute klaargespeel met die wedstryd by Gemsbokpark, waar Trustco United met 10-3 teen ­Rehoboth Rugbyklub voor was.
Die wedstryd sou nie meer ’n invloed hê nie en die besoekers het dus ­volstaan dat die einde van hul seisoen aangebreek het.
United se drie is deur vleuel Nandi Karuuombe gedruk, terwyl Winmar Rust die doelskop en ’n strafdoel ­bygevoeg het.
• Western Suburbs het afgesluit deur op sy tuisveld vir Reho Falcon met 20-16 te klop. Die wenspan se drieë het van Uno Katjiuongua en ­Demarscho Beukes gekom en die skoppunte van Deveraux Jansen.

Die puntestand (in volgorde van wedstryde gespeel gewen, gelykop, verloor, punte vir en teen, punteverskil, ligapunte):
1 Wanderers 16 13 1 2 658-272 +386 72
2 Unam 16 13 0 3 534-218 +316 68
3 W. Suburbs 16 11 0 5 526-272 +254 57
4 United 16 9 0 7 474-293 +181 53
5 Reho Falcon 16 8 0 8 401-356 +45 41
6 Kudus 16 8 0 8 331-391 -60 40
7 Rehoboth 16 6 0 10 306-393 -87 25
8 Walvisbaai 16 2 1 13 254-662 -408 16
9 Dolphin 16 1 0 15 68-695 -627 6

Tags: 
Andrew Poolman

Eindstryd wink net vir twee klubs

$
0
0
Eindstryd wink net vir twee klubs

Andrew Poolman - Die ambisie om vanjaar die kampioenklub in die land te word, sal die topvier spanne tot die uiterste toe aandryf in die Namibië Rugby-unie se premierliga waar die gelaaide atmosfeer van die halfeindstryde môre bereik word.
Selfs vir “neutrale” toeskouers wat reeds hul lus verloor het om eenrigtingverkeer van die plaaslike span in die Curriebeker te moes aanskou, is dit net die regte medisyne. Beide semifinale in die Hage Geingob-stadion behoort vir die volle 80 minute spannend te bly en kan enige kant toe swaai.
Trustco United het vierde op die puntelys geëindig en in sy 100ste bestaansjaar kon ondersteuners van die Filistyne vir geen beter geleentheid gevra het as om sake teen hul oudste aartsvyand uit te spook nie.
FNB Wanderers, ’n klub wat in 1920 gestig is, se mees epiese botsings in die geskiedenis was waarskynlik teen die draers van die blou truie – met elke nuwe ontmoeting wat selde misluk om die nekhare aan beide kante te laat rys.
Die Wit Hingste het boaan die puntelys klaargemaak en JP Nel se manne bly vuur en vlam om die groot trofee in te palm wat hulle in die laaste twee jare se eindstryde ontglip het.
Hoewel Wanderers die naweek steeds nie op sowat nege van sy nasionale spelers kan reken nie, behoort dit goeie nuus te wees dat Johann Tromp weer in die 13-trui kans kry om sy towerkuns as spelskepper te wys.
Die nasionale afrigterspan sal ewe graag wil sien of Tromp ’n onlangse besering afgeskud het en reg is om vir die Zimbabwe-toets op 6 Augustus oorweeg te word.
Die flinke Riaan van Zyl is een van ’n klompie spelers wat ná die Curriebeker se pyne weer op die ietwat laer vlak sy gebruiklike streke met sy vinnige voete sal kan uithaal en sy selfvertroue ’n tydige hupstoot kan gee.
Die Wanderers-agttal het dié seisoen nog selde ’n tree agteruit gegee en staan breed in die pad van sy uitdagers. Agter dié pak het skrumskakel Enem Kritzinger hom boonop as een van die voorste driedrukkers in die kompetisie gevestig.
United was vanjaar baie onvoorspelbaar met sewe nederlae en nege oorwinnings – een daarvan met 41-38 op Wanderers se veld. Dié uitslag het vergoed vir die openingsnaweek toe die skoen met 36-31 aan die ander voet was.

KAMPIOEN VOOR PIESANGSKIL?­
FNB Unam speel vanjaar besonder aanskoulike rugby en afrigter Johan Diergaardt is nie ’n man wat ’n duim sal wil skietgee op die geskiedkundige eerste titel wat die universiteitspan laas jaar gewen het nie.
Hoekom sal agtsteman Bradley Klazen se manne nie propvol selfvertroue wees om op 13 Augustus weer in die finaal te wees nie? Hulle het hul laaste elf wedstryde op ’n streep gewen (as jy Dolphin se twee onttrekkings bytel) en is die laaste keer vroeg in April met twee punte (26-24) deur United geklop.
Met die giftigste agterlyn in die kompetisie het Unam sy versnelde tempo in die tweede helfte gebruik om alle teenstand uit die pad te vee. Die uiteinde was dat hulle net vier ligapunte agter Wanderers se 72 klaargemaak het.
Western Suburbs het op die openingsnaweek die studente met 26-20 geskok en is ’n span wat floreer wanneer hy sy kaarte vooraf naby aan die bors hou.
Aan die kant van die Khomasdallers is sy vier nasionale agterspelers Gino Wilson, Russell van Wyk, Darryl de la Harpe en Justin Nel nie vir die naweek vrygestel nie.
Mede-afrigter Rudolf Witbooi het gister gesê die wedstrydgroep sou eers by gisteraand se oefening uitgeklaar word.
“Ek dink ons speel teen die moeilikste span wat die beste op dreef is (Unam) en wat vasberade is om sy titel te verdedig.
“Beide hul spelersgroep en afrigterspanne het meer ondervinding as ons; dus voorspel ons ’n taai stryd.
“As afrigters (saam met Sergio de la Harpe) en spelers sien ons gretig uit na die wedstryd – veral omdat ons laas jaar nie die halfeindrondte gehaal het nie.
“Ons doen ’n beroep op ons toeskouers om ons te ondersteun, want ons het almal nodig om hierdie taak te verrig,” sê Witbooi.
Die spanne wat gister beskikbaar gestel is:

FNB Wanderers I: 15 Riaan van Zyl, 14 Deselvano Beukes, 13 Johann Tromp, 12 Tershwin Raubenheimer, 11 Heico Prinsloo, 10 MP Pretorius, 9 Enem Kritzinger, 8 Stef Botha, 7 Dirk de Meyer, 6 Johan Luttig, 5 Alberto Engelbrecht, 4 Nico Esterhuyse (kapt), 3 Nian Berg, 2 Theo Coetzee, 1 Schalk Bergh.
Reserwes: Shaun du Preez, Petri Burger, Willem van Zyl, John-Michael Richter, Cody la Cock, Mahco Prinsloo, Malcolm Moore.
Trustco United I: 15 Jamie Joseph, 14 Nandivatu Karuuombe, 13 Handré Bezuidenhout, 12 Martin Cronjé, 11 Phillip Nashikaku, 10 Robbie Dickson, 9 Morné Blaauw, 8 Naudé Neethling, 7 Cevin Harding, 6 Greyling Koopman, 5 Winmar Rust (kapt), 4 Stefan Neustädt, 3 Carl-Heinz Giersch, 2 Niël van Vuuren, 1 Marius Louw.
Reserwes: Clinton de Klerk, Johan Jurgens, Kaamaa Kajau, Lionel Nantes, Henry Kandjou, Morenzel Strauss, Stephan Louw.
FNB Unam I: 15 Lorenzo Louis, 14 Sylvano Beukes, 13 Lesley Klim, 12 Camlo Martin, 11 Unomasa Kavita, 10 Helarius Kisting, 9 Sunday Haitembu, 8 Bradley Klazen (kapt), 7 Freddy Puriza, 6 Renaud van Neel, 5 Max Katjijeko, 4 Mahepisa Tjeriko, 3 Tjino Tjirare, 2 Obert Nortjé, 1 Hauta Veii.
Reserwes: Zikamee Kaura, Desidarius Sethie, Thomas Khali, Kami Mieze, Jerome Beukes, Shareave Titus, Chess Lawrence.
FNB Unam II (15-1, teen United II): Gawein Klein, Romanzo Lento, Donavan Kandjii, Mbimbo Mbai, John Drotsky, Thirston Fransman, Amon van Wyk, Dario Vries, Mogamat Emamdien, Simon Haitembu, Chrisbunn Blom, Reinhardt Carelse, Wesley Williams, Frank Mowa, Simon Kanime, Phil Dhliwayo.
Reserwes: Victor Augustinus, Walter Hendricks, Clyde Besser, Rodney Coetzee, Buruxa Geiseb, Luis Talaya.
• Die afskoptye verskyn op bl. 55 vir die rugbydag wat ook die eerste- en reserweligas se halfeind­stryde insluit.

Tags: 
Andrew Poolman

Net Suideboere bly onoorwonne

$
0
0
Net Suideboere bly onoorwonne

Tielman van Lill - Supersand Elnatan se eerste span het Saterdag vier vyfpunters met aanskoulike rugby in die eerste helfte by die Lions Den, heiligdom van die Ricoh Windhoek Gimnasium Lions, ingeryg om met 28-25 hul status as die enigste onoorwonne span in die Momentum o.19 premierliga te verseël.
Die botsing was nog skaars ’n paar minute aan die gang toe losskakel­ PW Steenkamp op ’n kurktrekkerlopie wegtrek om van sy opponente se tientreestippellyn af sy pad na die doellyn te vind en sy span se eerste drie onder die pale te druk.
Ná Steenkamp se ­doelskop was die ietwat stomgeslane Lions skielik met 7-0 agter. Sonder enige huidige Cravenweekspelers in hul geledere wou die besoekers van Stampriet beslis ’n punt bewys en ’n paar minute later het die ­sesflank Marius van Niekerk ná skitterspel weer oorgeval. Steenkamp slaag met die doelskop (14-0).
Die Gimmies het egter hul voete gevind en heelagter Wiks Tromp slaag met twee ­strafdoele (14-6). ’n Omgekrapte Elnatan wys egter hoe gevaarlik sy snellers met die bal in die hand is en druk voor rustyd nog twee drieë (agtsteman Gerbus van Wyk en linkervleuel Nico Maartens) wat deur Steenkamp verdoel word om met 28-6 voor te loop.
Beide die laaste twee doele van Elnatan het gekom toe Maartens gebreek het. Eers het Van Wyk opgevolg om die bal van sy linkervleuel te ontvang om agter die pale te gaan druk.
Nie lank daarna nie maak Maartens so en hardloop om sy teenstanders vir ’n aanskoulike drie.
Afrigter Vince Dreyer se spanpraatjie het die Leeus se batterye beslis herlaai en hulle antwoord met drie vyfpunters in die tweede helfte. Met skaars ’n minuut verstreke, druk agsteman Amos Loxton sy juweel, maar Tromp trek sy skop skeef om 28-11 agter te loop.
Kaptein Frederick van Zyl se drie het ná volgehoue druk gekom toe dié buitesenter ’n skop opgevolg het om agter die pale te gaan kuier. Van Zyl se sentermaat, Chrischen Olivier, maak vier minute later weer so toe hy net links van die linkerpaal druk. Tromp verdoel beide dié pogings om die telling 28-25 te maak.
Hoewel Elnatan sy bes probeer het om positiewe rugby in die tweede helfte te speel, is die besoekers met ’n warboel twyfelagtige beslissings gepeper wat die strafskoptelling swaar in die guns van die Leeus laat kantel het. Elnatan het sodoende die tweede helfte met 19-0 verloor.
• In die voorwed­stryd het Gimnasium se tweede span, wat ook in die o.19 premierliga­ meeding en wat deur Safland geborg word, met 36-7 teen Tsumeb ­Gimnasium gewen.
Vir Gim II was skrum­skakel Tertius Lambrechts, vleuel Rudi Pretorius (3) en haker Leewill Swartz sy driedrukkers. Binnesenter Nico Horn het met vier doelskoppe en ’n strafdoel geslaag.
• Die kwarteindstryde van die Momentum-­ligas word komende Vrydag en Saterdag gespeel. Die halfeindstryde is op 12 en 13 Augustus en die eind­stryde die naweek daarna.

Tags: 
Tielman van Lill

Plattelanders ry ver om finaal te haal

$
0
0
Plattelanders ry ver om finaal te haal

Vir die eerste keer sedert die rugbyklub se stigting in 1962 het Ocean Swallows van Lüderitz tot ’n eindstryd deurgedring en sal op 13 Augustus meeding om die Namibië Rugby-unie se eerste liga in te palm.
Ocean Swallows het die afgelope naweek sy halfeindstryd teen die Etosha Leeus van Tsumeb met 26-5 gewen. Selfs om in die halfeindstryd te speel, was vir die wenklub redelik nuwe terrein.
Vir die kusspan van die suide wat vanjaar deur Seaflower geborg word, het die vleuel Ryan Wurms twee drieë gedruk, terwyl senter Micah Rooi met een strafdoel geslaag het.
Al die punte in die wedstryd is in die eerste helfte behaal en geen span kon ná rustyd enigiets byvoeg nie.
Die span onder kapteinskap van Jevanius van Rooyen het vroeër sy kwart­eindstryd teen Trustco United se derde span naelskraap met 20-17 gewen.
In die eindstryd sal Mariental hulle inwag, ná dié span se ontsnapping met 28-26 teen Oranjemund.
Dit het in die doodsnikke ’n tweede drie van die dag vir Mariental se vlugvoetige buitesenter Fabian Routh gekos om ’n agterstand uit te wis. Routh was ook die skopper wat twee strafdoele en een doelskop bygevoeg het. Mariental se sesflank Riaan Louw – ’n uitblinker met goeie verdediging en sterk lopies – en agtsteman Hermanus Strydom was ook driedrukkers.
Oranjemund, wat tot sowat sewe minute voor die einde nog met 26-15 voor was, se drieë het van flank Angezity Louw (2), skrumskakel Arthur Plaatjie en slot Oliver Hartzenburg gekom. Doelskoppe is deur losskakel Cresswil Scholtz (2) en heelagter Linekar Winkler bygevoeg.

RESERWELIGA
’n Herontmoeting tussen die tweede spanne van FNB Wanderers en FNB Unam sal vir die tweede jaar op ’n streep die houer van die NRU reserweliga bepaal.
Wanderers, die kampioene van verlede jaar, het in sy semifinaal teen die West Coast Sharks die hele tyd opdraande gekry voordat hy in die doodsnikke sy neus met 40-34 voor die Swakopmunders gekry het.
Terwyl die Wit Hingste sommer al in die eerste helfte ’n agterstand moes inhaal, is hul saak nie aangehelp deur die skewe korrelwerk van verskeie van hul stelskoppers nie. Net een doelskop en een strafdoel deur Raymond van Zyl was suksesvol. Uiteindelik het drieë deur skrumskakel Edwardo Nell (2), flank John-Michael Richter (2), stutte Callie Swanepoel en Adriaan (Wors) Engelbrecht asook James van Rooyen die deurslag gegee.
Aan die kant van die Swakopmunders het die Namibiese o.20-flank Johan de Klerk, slot Jaco Barnard, agtsteman Martin Barnard en skrumskakel Lovelle Delie hul drieë gedruk. Jaco Barnard het die telbord ook met vier doelskoppe en twee strafdoele laat aanrol.
Afgesien van die hoogte bo seespieël het ’n geel kaart vir Martin Barnard ná ’n gevaarlike duikslag ook bygedra om die kusspan se momentum in die tweede helfte te blus.
• Unam II, met sy gebruiklike Rooi Weermag in getalle op die hoofpawiljoen, het die aanspraak van Trustco United II met 40-23 opsy gevee, hoewel hulle rustyd net met 14-13 voor was.
United het inderdaad net ná rustyd die voortou geneem met ’n skepskop van Keanen Titus, wat in die eerste helfte ook ’n drie gedruk het. Uiteindelik was dié pogings, asook die drie deur losskakel Ewald Steenkamp en die tien skoppunte van linkervleuel Riaan Reinhardt egter tevergeefs.
Unam se drieë deur die nasionale o.20-slot Rheinhardt Carelse (2), flank Simon Haitembu, heelagter Romanzo Lento en binnesenter John Drotsky en plaasvervanger Buruxa Geiseb is met doelskoppe deur Lento (3) en senter Mbimbo Mbai (2) aangevul.

Tags: 
Andrew Poolman

Afrika-kampioene lyk min lus vir skietgee

$
0
0
Afrika-kampioene lyk min lus vir skietgee

Andrew Poolman - Die Namibiese rugbyspan sal môre ten volle op sy eie doelwitte gefokus wees, eerder as hom van stryk te laat bring deur die stormwaters waarin sy ­Zimbabwiese besoekers hulle bevind.
Renaldo Bothma en sy makkers is die volslae gunsteling om opnuut in die “finaal” ’n groot telling teen Zimbabwe in die Hage Geingob-stadion op te stapel (afskoptyd 15:00).
Op papier staar ’n oormag die Sables in die gesig vanweë die herboufase waarin dié land se nasionale rugby­span hom bevind, terwyl sy bure op die kruin van golf ry sover dit kompetisie in Afrika-rugby betref.
Namibië se kontinentale titel lyk dus ewe veilig as toe hy Zimbabwe verlede jaar in Windhoek met ’n rekordtelling van 80-6 verniel het.
Hierteenoor weet Zimbabwe dat hy vir 2017 reeds na die Afrikabeker 1B-afdeling gerelegeer word omdat hy vanjaar teen Uganda en Kenia verloor het.
Die rugbybase se voorneme dat 2017 se kampioen van die 1A-afdeling regstreeks vir die 2019 Wêreldbeker kwalifiseer, kan meebring dat die Sables dus nie eens in die prentjie is om die skouspel in Japan te haal nie.
Zimbabwe se afrigter Cyprian Mandenge kon om verskeie redes ook nie op die dienste van ervare voorspelers soos Keith Murray, Pieter Joubert, flank Jacques Leitao of Sanele Sibanda reken nie, terwyl vleuel Tangai Nemadire, senter Boyd Rose en skrumskakel Hilton Mudariki van die name is wat agterlangs nie beskikbaar was nie.
In hul plek is ’n paar nuwelinge en o.20-spelers nader geroep om die leisels oor te neem. Dan is die 38-jarige veteraan Costa Dinha as flank ondanks sy uittrede in 2014 teruggeroep om saam met sy kaptein en stut Denford Mutamangira die leiding voorlangs te gee.
Die groen en wit streeptruie se moraal kan egter nie van die gesondste vir ’n stryd tot die bitter einde wees nie, in die wete dat selfs ’n onwaarskynlike oorwinning nie meer hul lot kan verbeter nie en dat hulle met net ’n enkele ligapunt steeds onder Uganda (7) sal klaarmaak.

VUUR EN VLAM
In afrigter Phil Davies se Namibiese kamp is al die motivering egter veel meer positief.
In hul laaste tuistoets van die jaar is die Namibiërs vuur en vlam om ’n vertoning te lewer wat hul gewaardeerde ondersteuners in die Hage Geingob-stadion op hul voete sal bring.
Op sosiale media het spelers soos Bothma reeds ’n beroep op toeskouers gedoen om die pawiljoene weer stampvol te maak.
Die waarheid is dat hier ook afwesige staatmakers is, soos Tjiuee Uanivi, Damian Stevens, Janco Venter, Johan Deysel en Wian Conradie (almal klubverpligtinge), Arthur Bouwer (geskors) en Russell van Wyk (beseer), maar dit open bloot die deur vir nuwe spelers wat hul kleim wil afsteek dat hulle ewe goed of beter in Davies se planne inpas.
Renaldo Bothma (Blou Bulle), Aranos Coetzee en Torsten van Jaarsveld (beide Cheetahs) is almal betekenisvolle byvoegings tot die Namibiese span, nadat dié drietal nie in die indrukwekkende oorwinning met 56-21 teen Kenia in middel-­Julie betrokke was nie.
In Janco Venter se afwesigheid behoort Bothma met sy gebruiklike stormlope heel gemaklik die taak oor te neem om Namibië se agttal op die voorvoet te plaas.
Tinus du Plessis se verskuiwing na slot om vir die afwesigheid van Uanivi en Venter voorsiening te maak, beteken ook nie noodwendig dat enigiets ingeboet word in terme van lynstaanvernuf, werkvermoë óf fisiekheid nie.
Agterlangs maak Johann Tromp sy terugkeer in die Namibiese 15-trui ná sy herstel van ’n besering, terwyl Chrysander Botha op die regtervleuel by Russell van Wyk oorneem.
JC Greyling word die sentermaat vir Darryl de la Harpe in Johan Deysel se plek, terwyl Cameron Klassen van FNB Unam nader geroep is om van die bank af dekking in die ­skrumskakel-posisie te bied.
Met Theuns Kotzé dodelik op stryk met sy taktiese én stelskopwerk, is te veel van die aanvalswapens aan die Namibiese kant om enigiets minder as ’n oortuigende sege en nóg ’n triomf in die Afrikabeker te verwag.

Die Namibiese span is:
1 Casper Viviers
2 Louis van der Westhuizen
3 AJ de Klerk
4 Tinus du Plessis
5 Ruan Ludick
6 Rohan Kitshoff
7 Leneve Damens
8 Renaldo Bothma (kaptein)
9 Eugene Jantjies
10 Theuns Kotze (onderkaptein)
11 Gino Wilson
12 Darryl de la Harpe
13 JC Greyling
14 Chrysander Botha
15 Johann Tromp
Reserwes: Torsten van ­Jaarsveld, Aranos Coetzee, Quintin ­Esterhuizen, Muniovita Kasiringua, Christo van der Merwe, Cameron Klassen, Heinrich Smit, Justin Nel.
• Zimbabwe se wedstrydgroep: Irvine Nduwa, Tadius Dzandiwandira, Lungile Tsuma, Gavin Nyawata, Tinashe Toriro, Stephan Hunduza, Lenience Tamwera, Charles Jiji, Constantine (Costa) Dinha, Connor Pritchard, Biselele Tshamala, Fortunate Chependu, Denford­ ­Mutamangira (kapt), Ian Muza, David Makanda, Witness Mandizha, Kudzai Mashawi, Tapfuma ­Parirenyatwa, Brian Makamure, George Saungweme, Joshua Gando, Royal Mwale, Ngoni Chibuwe.

Tags: 
Andrew Poolman

Affies in grootste geselskap nóg

$
0
0
Affies in grootste geselskap nóg

Andrew Poolman - Die eerste rugbyspan van ­Windhoek Afrikaanse Pri­vaatskool sal vanjaar in sy hoogste eindposisie in die skool se geskiedenis klaarmaak.
Die Affies het reeds voor laas Saterdag se oorwinning teen Namib Diesel Walvisbaai Privaat Hoërskool vir die eerste keer die Momentum o.19 premierliga-fase in die topvyf afgesluit om dus sy plek in die Superliga se uitklopwedstryde in te neem.
Affies het toe boonop die vierde geplaaste Walvisbaaiers met 36-26 in die enigste kwarteindstryd uitgeskakel – wat meebring dat hulle komende naweek in die Superliga semifinaal teen die onoorwonne voorloper, Supersand Elnatan, te staan sal kom.
Onder afrigterskap van twee uitgetrede Wêreldbeker-spanmaats in Johan Zaayman en Herman Lintvelt, het Affies vroeg beheer oor die wedstryd verkry deur ’n voorsprong van 19-0 op te bou.
Walvisbaai het teruggeveg om rustyd met 19-7 agter te wees en eindelik die voortou met 26-19 te neem, maar ’n onderskepdrie vir die Windhoekers het sake weer gelykop gemaak.
Uiteindelik was Gerswin Mouton een van sy span se groot helde met twee drieë, twee doelskoppe en ’n strafdoel in die laaste sekondes. Die losskakel was een van twee Affies-spelers wat vanjaar die o.18 Cravenweekspan gehaal het, benewens die loskopstut André Rademeyer.
Heelagter Handeon Morkel het ook twee drieë vir Affies gedruk, terwyl nog ’n vyfpunter van linkervleuel Gianni Platt gekom het.
Walvisbaai se seisoen is op ’n teleurstellende noot afgesluit. Die span het drie Cravenweekspelers van 2016 en nog twee van verlede jaar bevat, maar kon nie die knoop deurhaak toe dit saakgemaak het nie.
Die kusspan se punte het van drieë deur vaskopstut Dillon Skoppelitus (2), regtervleuel Darryl Wellmann en haker Zwandre Viviers gekom. Drie doelskoppe van heelagter Chad Plato was sekuur.
Windhoek Affies het reeds tevore die o.19A-liga gewen, wat in effek die sesde plek is. Selfs indien die span nie daarin slaag om Elnatan sy eerste nederlaag van die seisoen toe te dien nie, kan die uitspeelwedstryd om die derde plek steeds ’n kans bied vir die skool se beste prestasie nóg.
• Die Superliga se verdedigende kampioenspan van Ricoh Windhoek Gimnasium sal in die ander halfeindstryd teen Samsung Windhoek Hoërskool te staan kom. Die botsing vir ’n plek in die finaal behoort opnuut vir vuurwarm aksie te sorg.
Die uitslae van laas naweek se kwarteindstryde:
Onder 14B-liga: Dr. Lemmer klop M&K Gertze B met 39-0; Windhoek Gimnasium B; Windhoek Affies klop Rehoboth Hoërskool met 69-5; Otji’s Rugby klop M&K Gertze A met 35-5.
Onder 15B-liga: Tsumeb Gimnasium klop Pro-Ed Akademie met 12-5; Dr. Lemmer klop M&K Gertze met 40-6; Moria Privaatskool klop De Duine met 43-0; Windhoek Gimnasium B klop Rehoboth Hoërskool met 44-14.
Onder 19D-liga: Okahandja Skole I klop WHS V met 37-19; Dr. Lemmer III klop Etosha I met 24-17; HTS II klop M&K Gertze II met 12-7; Windhoek Gimnasium IV klop Oshakati Skole I met 33-28.
Onder 19C-liga: Moria Privaatskool I klop Walvisbaai II met 22-15; WHS III klop Prestantia College I met 42-0; WHS IV klop PK de Villiers I met 36-29; Keetmanshoop Privaatskool I klop Elnatan II met 34-17.
Onder 19B-liga: Otji’s Rugby I klop Jan Möhr I met 34-24.
Onder 19A-liga: Dr. Lemmer I klop HTS I met 26-14.
Onder 19 Superliga: Windhoek Affies I klop Namib Diesel Walvisbaai Privaat Hoërskool met 36-26.

Tags: 
Andrew Poolman

Stars reg om sy Super-titel te verdedig

$
0
0
Stars reg om sy Super-titel te verdedig

Tielman van Lill - African Stars kon die afgelope naweek in die Dr. Hage Geingob-bekertoernooi sy voorseisoen-gereedheid teen Tigers toets, maar moes weereens met 1-0 die knie teen die MTC Namibiese Premierliga-kampioen buig.
In die uitspeelwedstryd vir die derde plek het Stars toe wel daarin geslaag om Orlando Pirates van Suid-Afrika met 8-7 in ’n strafdoelstryd te klop.
Dié oorwinning teen een van Suid-Afrika se ikoniese klubs, laat Stars nou glo dat hy gereed is om binnekort die Standard Bank Super-beker suksesvol te verdedig wat hy verlede jaar teen Tigers ingepalm het.
Eerste sal Stars egter vir Mighty Gunners van Otjiwarongo in ’n semifinaal moet uitskakel.
Die Super-beker wat in 2014 ontstaan het, was in sy eerste en tweede bestaansjaar as ’n eenmalige wedstryd tussen die Namibiese Premierliga- en die NSV-bekerkampioen gespeel. Maar Bidvest se borgskap van laasgenoemde het verlede jaar tot ’n einde gekom en dus is daar in 2016 nie ’n ontmoeting tussen die nasionale beker- en ligawenners nie.
’n Nuwe opwindende formaat vir die Super-beker word vir die eerste keer op die proef gestel wanneer African Stars Saterdag om 13:00 teen Gunners in die Sam Nujoma-stadion uitdraf.
Om 11:00 op dieselfde veld takel FNB Black Africa eers vir Tura Magic. Die wenners van dié twee rillers sal mekaar om 18:00 pak om te bepaal wie teen Tigers op 10 September in die Standard Bank Super-beker gaan speel.
Volgens Pat Uanivi, kaptein van Stars, is sy span fiks genoeg om enige Saterdag enige teenstand te klop en om sy Super-titel suksesvol teen Tigers te verdedig.
“Ons is slaggereed. Hierdie is die ideale kans om die maatstaf vir die komende seisoen te stel, want ons gaan genadeloos wees. Dit gaan sekerlik nie maklik wees nie, want die ander drie klubs het dieselfde doelwit. Ons glo in onsself en sal Saterdag as die wenners na vore tree,” voorspel die kaptein.
“Die spelers het baie hard aan hul fiksheid gewerk. Dit gaan alles oor beplanning, want ons is op pad boontoe. Die regte wedstrydplan wat deur die regte spelers uitgevoer word, is van kardinale belang. Die afgelope naweek se twee wedstryde het ons fiksheid daardie ekstra hupstootjie gegee,” het Uanivi gesê.
Bobby Samaria, afrigter van Stars, beplan om al die nuwe spelers in sy groep op die proef te stel.
“Beide Semfried Maharero en Alpheus Handura se kontrakte by Tura Magic verval aan die einde van September en hulle kan dalk by ons aansluit.”
Ronald Ketjijere, Brave Warriors-kaptein van AmaTuks, is een van die sterre wat dalk kan aansluit, tesame met Panduleni Nekundi en Denver Meyers vir die 2016/17-seisoen wat binnekort begin.
Die wenners van die Standard Bank Super-beker op 10 September sal N$500 000 ontvang, terwyl die naaswenner N$250 000 ryker sal wees. Kaartjies vir Saterdag se wedstryde kos N$20 elk en is by Computicket beskikbaar.

Tags: 
Tielman van Lill

Tromp dra dalk gou Kings se 15-trui

$
0
0
Tromp dra dalk gou Kings se 15-trui

Andrew Poolman - Gister was die tweede dag dat die Namibiese heelagter, Johann Tromp, in Port Elizabeth saam met sy nuwe span geoefen het.
Tromp het gister aan Republikein gesê die Oostelike Provinsie Kings se aanbod is laas Donderdagaand ontvang. Hy sal tot die einde van Oktober vir dié span se aanslag op die Curriebeker premierliga beskikbaar wees.
Die Kings se span wat Vrydagnamiddag op hul tuisstadion teen die Boland Kavaliers uitdraf, word na verwagting vandag aangekondig. Tromp reken hy het ’n goeie kans om die 15-trui te kry en dus teen sy Namibiese spanmaat Theuns Kotzé as losskakel van die Bolanders te staan te kom.
Tromp se droom om beroepsrugby op die hoogste moontlike vlak te speel, het die deurslag gegee in sy besluit om wel die aanbod te aanvaar.
“Ek het nogal nagedink oor die aanbod. Uiteindelik het die hoër vlak waarop die Kings gaan speel en die moontlikheid om dalk ’n Superrugby-kontrak vir volgende jaar oop te speel, die swaarste geweeg.”
Die O.P. se rugby-unie se geldelike probleme is welbekend en het hom onlangs so byna sy plek in die premierliga gekos. Die SA Rugbyunie het egter intussen opnuut ingegryp. Barend Pieterse (hoofafrigter) en die oud-Blitsbok Vuyo Zangqa (hulpafrigter) is aangestel en die stut Schalk Ferreira is die kaptein vir ’n spelersgroep wat weer inderhaas moes begin vorm aanneem.
Tromp het die ­2015-seisoen in die trui van die Windhoek Lager Welwitschias begin, wat ook in die Curriebeker se kwalifiserende ronde meegeding het en wat binnekort in die eerste liga sal meeding. Die Nami­biërs begin op 13 Augustus met ’n wegwedstryd teen die SWD Arende.
Die 25-jarige Tromp was ook in die internasionale vensterperiode ’n staatmaker vir die senior nasionale span. Laas Saterdag het hy twee drieë teen Zimbabwe gedruk.
Met 25 toetse in vier seisoene agter die blad, insluitend verlede jaar se Wêreldbeker, staan Tromp se totaal op tien toetsdrieë. Dit plaas hom in die gesamentlike sesde plek op die lys van Namibiese driedrukkers in toetse sedert 1990.

Tags: 
Andrew Poolman

SWD met meer ervaring getakel

$
0
0
SWD met meer ervaring getakel

Andrew Poolman - Met die periode vir toetsrugby verstreke, sal afrigter John Williams verlig wees om vir ’n slag weer ’n sterker span Windhoek Draught Welwitschias beskikbaar te hê vir môremiddag se wegwedstryd teen die SWD Arende op George se Outeniquapark (afskoptyd om 16:00 Namibiese tyd).
Die insluiting van verskeie spelers met Wêreldbeker- en Afrikabeker-ondervinding is ’n tydige inspuiting vir die Namibiërs se aanslag op die eerste liga van die Curriebeker.
Die 24-jarige vaskopstut AJ de Klerk word reeds die vyfde kaptein dié seisoen aan wie die leisels van die plaaslike amateurspan gegee word.
Die bedrewenheid van ’n meer ervare agterlyn behoort grootliks te help om die swak verdediging te beperk wat tot dusver tot sulke lelike verloortellings in die kwalifiserende kompetisie gelei het.
Die einste Arende het byvoorbeeld die Windhoek-wedstryd met 96-5 oordonder.
Die terugkeer van Chrysander Botha, Eugene Jantjies (al is dit op losskakel), Darryl de la Harpe en Heinrich Smit behoort rigting aan die agterlyn te gee.
Voorlangs is ses spelers in die beginspan bygevoeg wat in die pas afgelope Afrikabeker-reeks teen Uganda, Kenia en Zimbabwe speelkans gekry het. Die enigste uitsonderings is die twee flanke, Zayne Groenewaldt en Morné Blom.
Uit die nasionale toetsgroep was ’n paar staatmakers egter nie vir komende naweek steeds beskikbaar nie. Die flank Rohan Kitshoff, heelagter Justin Nel en vleuel Malcolm Moore is vanweë werkverpligtinge nie beskikbaar nie, terwyl die flank Tinus du Plessis en vleuel Russell van Wyk beseer is.
Die Windhoek Draught Welwitschias:
15 Chrysander Botha
14 Philip Nashikaku
13 Heinrich Smith
12 Darryl de la Harpe
11 Gino Wilson
10 Eugene Jantjies
9 Cameron Klassen
8 Leneve Damens
7 Morné Blom
6 Zayne Groenewaldt
5 Ruan Ludick
4 Muniovito Kasiringua
3 A.J. de Klerk (kapt)
2 Gerhard Lötter
1 Casper Viviers
Reserwes: Shaun du Preez, Quintin Esterhuizen, Denzil van Wyk, Johann Wohler, Nandivatu Karuuombe, Leslie Klim, Mahco Prinsloo.

JC GREYLING OOK WEG
Nie net heelagter Johann Tromp nie, maar ook die buitesenter JC Greyling het kontrakte aanvaar om vir die volgende drie maande vir die Oostelike Provinsie Kings te speel.
Die Oos-Kapenaars ding in die premierliga van die Curriebeker mee. Met dié unie se Superrugby-status is die hoër vlak van kompetisie vir die twee Namibiërs waarskynlik ’n goeie skuif in hierdie stadium van hul loopbaan.
Uit die geledere van die Namibië Rugby-unie word verneem dat die proses om sy rugby-akademie amptelik te registreer, reeds bykans afgehandel is. Dié registrasie is ’n belangrike tree vorentoe sodat plaaslike spelers behoorlik gekontrakteer kan word – eerder as die bestaande tradisie dat Namibië die teelaarde is waar ryker unies kan kom kies en keur. Ten minste behoort Namibië dan binnekort ook geldelike voordeel te trek wanneer sy spelers na groener weivelde gelok word.

Tags: 
Andrew Poolman

Spanne vir skouspel by rugbystadion bekend

$
0
0
Spanne vir skouspel by rugbystadion bekend

Dis moeilik om te sê watter een die meeste opwinding beloof – die semifinale van die Momentum Skoleliga, of die eindstryde van die klubligas van die Namibië Rugby-unie.
Gelukkig vir rugby-ondersteuners hoef geen keuse hier uitgeoefen te word nie, want dit alles gebeur vandag en môre in die Hage Geingob-stadion. Die program verskyn hiernaas.
Twee weke het verloop sedert die semifinale van die NRU premierliga, waar FNB Unam verby FNB Western Suburbs gevorder het.
Die studentespan sal in ’n witwarm eindstryd sy titel op die spel plaas teen verlede jaar se verslane finalis, FNB Wanderers, wat te sterk vir Trustco United was.
Beide klubs kom in nóg ’n herontmoeting ook in die reserweliga se finaal teen mekaar te staan.
FNB UNAM se eerste span (15-1): Lorenzo Louis, Unomasa Kavita, Chess Lawrence, Camlo Martin, Silvano Beukes, Helarius Kisting, Sunday Haitembu, Bradley Klazen (kapt), Renaud van Neel, Freddy Puriza, Max Katjijeko, Mahepisa Tjeriko, Tjino Tjirare, Obert Nortje, Hauta Veii.
Reserwes: Simon Kanime, Desiderius Sethie, Thomas Khali, Kami Mieze, Jerome Beukes, Shareave Titus, Milaan van Wyk. Afrigters: Johan Diergaardt en Russell van Rooi.
FNB WANDERERS se eerste span (15-1): Riaan van Zyl, Deselvano Beukes, Malcolm Moore, Tershwin Raubenheimer, Heico Prinsloo, MP Pretorius, Enem Kritzinger, Stef Botha, Dirk de Meyer, Johan Luttig, Nico Esterhuyse (kapt), Alberto Engelbrecht, Nian Berg, Theo Coetzee, Schalk Bergh.
Reserwes: PG Louw, Petri Burger, Willem van Zyl, DG Wiese, Cody la Cock, Dion Venter, Léan Stoop. Afrigters: JP Nel en Charl du Toit.

Die semifinaliste vir die Momentum o.19 Superliga:

RICOH WINDHOEK GIMNASIUM I (15-1): Wiks Tromp, Rudie Pretorius, Frederick van Zyl (kapt), Chrischen Olivier, Ethan Mouton, Denzo Bruwer, Niko Davin, Amos Loxton, Darius von Solms (o.kapt), Peter Diergaardt, Dylan Farmer, Armand Kotze, Jano Rieckert, Christo Pienaar, Sam Kuvare.
Reserwes: Louw Steenkamp, Willem Adriaan Vermeulen, Claus Schmidt, Jacobus Opperman, Jean-Jacques Richter, Tertius Lambrechts, Nico Horn, Ruben Lambrechts. Afrigters: Vince Dreyer en Jaco Engels.

SAMSUNG WINDHOEK HOËRSKOOL (15-1): André van der Berg (o.kapt), Elmarco Beukes, Handré Klazinga, Justin Muir, Warren Ludwig, Delron Brandt, Duan Fourie, Oderich Mouton, JD Nel, Prince !Gaoseb, Luandro Erasmus, Reinar Augustyn (kapt), Andries Jacobs, JT Basson, Chris Swanepoel, Gerhard Thirion, Wander Augustyn.
Reserwes: John-Harris Klazen, Christiaan Hennig, Kyle Ducie, Jacques Theron, Isaiah Muhinda, Damien Muller. Afrigters: Henry Kemp, Jan Dames en Ben Calitz.
WINDHOEK AFRIKAANSE PRIVAATSKOOL (15-1): Handeon Morkel, Gerweino Benadé, Tobie van Zyl, Snyman van der Walt, Gianni Platt, Gerswin Mouton, Jay-C Olivier (o.kapt), Stefan Hattingh (kapt), Christiaan Heunis, Bernard Wessels, Frans Oosthuizen, Louis Boshoff, Jurgen-Leigh Human, Guillaume Snyders, André Rademeyer.
Reserwes: Marthinus Smit, Jacobus du Plessis, De Wet Oosthuizen, Roelof Theron, Christiaan Celliers, Danie van der Merwe, Herman Steyn, Johan Zaayman. Afrigters: Johan Zaayman en Herman Lintvelt.

SUPERSAND ELNATAN I (15-10): Juan Viljoen, Le Roux Booysen, Louis Meyer, Danco Burger, Nico Maartens, PW Steenkamp, Janneman Lambrechts (o.kapt), Gerbus van Wyk (kapt), Jacques Snyman, Marius van Niekerk, Johann Strauss, Jan-Hendrik Augustyn, Dalla Joubert, John-Paul Thorburn, Kirstin du Toit. Reserwes: Wihan van Wyk, Corné Vermeulen, Harry Nell, GJ van der Merwe, Reno Swarts, JG van Zyl, Pally Carstens. Afrigters: Freddie Dreyer en Mathys van Rooyen.

Tags: 
Andrew Poolman

Tweede helfte swaai in SWD se guns

$
0
0
Tweede helfte swaai in SWD se guns

Die SWD Arende het ’n paar maklike drieë kort ná rustyd gaan druk om hul Curriebeker eersteligawedstryd teen die Windhoek Draught Welwitschias met 54-23 op Outeniquapark in George te beklink.
Die gasheerspan moes egter Vrydag hard werk om die eerste helfte met ’n voorsprong van 17-9 af te sluit. Sake het glad nie so eensydig verloop as toe die Arende vroeër die kwalifiserende wedstryd in Windhoek met 96-5 gewen het nie. Afrigter John Williams sal in sy skik wees met ’n veel meer kompeterende vertoning ná die terugkeer van ’n paar toetsstaatmakers.
Onder kapteinskap van die vaskopstut AJ de Klerk het die Namibiërs veel beter rekenskap gegee as in die onlangse vertonings in die kwalifiserende reeks, waar hulle elk van hul 14 wedstryde verloor en ’n allemintige 936 punte afgestaan het.
Losskakel Eugene Jantjies het die Welwitschias in die eerste helfte binne trefafstand gehou deur drie strafdoele deur die pale te jaag.
Dit was teenoor die SWD se drieë deur flanke Thorleif Halvorsen (eerste minuut) en Andisa Ntsila, asook skrumskakel Johannes Steyn.
Ná die omdraai het die tuisspan egter drieë deur die haker Mark Pretorius, slot Lodewyk Uys, plaasvervanger Dillin Snel en ’n strafdrie ingeryg om die telling tot 47-16 op te jaag. Die Namibiërs het dit in dié tyd reggekry om die haker Gerhard Lotter met ’n dryfmaalbeweging vir ’n drie oor te werk wat opnuut deur Jantjies verdoel is.
Die Welwitschias het ’n troosdrie kort voor die eindfluitjie behaal toe die plaasvervanger-senter Lesley Klim deurgestorm het. Ná ’n losskrum in die middelveld het nóg ’n plaasvervanger, Mahco Prinsloo, die voordeellyn aangeval en Klim tussen twee verdedigers deurgestuur voordat hy deur ’n flank ingehaal is. Klim het hom egter losgeruk en weggehardloop doellyn toe.
Puntemakers:
SWD Arende – Drieë: Thorleif Halvorsen, Andisa Ntsila, Johannes Steyn, Mark Pretorius (2), Lodewyk Uys, Dillin Snel, strafdrie; doelskoppe: Hansie Graaff (7).
Welwitschias – Drieë: AJ de Klerk, Lesley Klim; doelskoppe: Eugene Jantjies (2); strafdoele: Jantjies (3).

LUIPERDS 26 GRENS 24
• Komende Saterdag kry die Namibiërs in Windhoek besoek van die Luiperds, wat laas Vrydag op Potchefstroom ’n noue ontkoming gehad het.
Die Luiperds is in die skrums onder druk geplaas, terwyl die Oos-Kapenaars ook vier drieë met ondernemende spel geskep het.
Grens het sy vaskopstut Johannes Jonker (gebreekte enkel) en losvoorspeler Atenkhosi Manentsa (kniebesering) verloor, maar het steeds so naby as ’n enkele verbroude strafdoel gekom om ’n positiewe uitslag te kon beklink.

PREMIERLIGA
Johann Tromp het as buitesenter die enigste drie van die dag vir die Oostelike Provinsie gedruk in hul tuisnederlaag met 28-10 teen die Boland Kavaliers, wat sonder Theuns Kotzé die knoop deurgehaak het.
Tromp, in die OP se 13-trui wat die legendariese Danie Gerber tevore gedra het, het kort voor die einde teen die kantlyn binne toe getrap verby een verdediger om die doellyn te haal. Nog ’n Namibiër in OP-kleure, vleuel Alcino Izaacs, het ’n geel kaart vir ’n duikslag in die lug gekry.
• Torsten van Jaarsveld en sy Vrystaat-maats het in Bloemfontein die aanslag van die Blou Bulle met 43-20 afgeweer.
• Die Pumas, met Renaldo Bothma op agtsteman, het hulle lelik vasgeloop teen die Goue Leeus wat op Ellispark met 68-28 weggehardloop het.
• In Durban het die Sharks met 46-24 die oorhand teen die Griekwas gekry. Die Cheetahs en die Sharks (10 ligapunte elk) is tans boaan die puntelys ná hul twee wedstryde sover.

Tags: 
Andrew Poolman

Unam wen nog ’n spannende finaal

$
0
0
Unam wen nog ’n spannende finaal

Andrew Poolman - Ná die FNB Universiteit van Namibië se geskiedkundige eerste triomf verlede jaar het afrigter Johan Diergaardt se jong span seker gemaak dat hulle nóg ’n rugbyjaar as kampioene van die NRU premierliga afsluit.
Saterdagaand se eindstryd het Unam met 44-36 teen FNB Wanderers gewen, wat ook in 2015 (teen Unam) en 2014 (teen United) met die posisie van naaswenner tevrede moes wees.
Die Wit Hingste het ses drieë teen vier gedruk in ’n spannende affêre waar enige klein foutjie uitgebuit is – veral met ’n skopper soos Unam se heelagter Lorenzo Louis in die omgewing.
Met 26 punte vir die aand, insluitend ’n drie en vyf strafdoele, was Louis ’n doring in die Wit Hingste se vlees.
Louis het in die 2015-finaal ook geen geringe rol gespeel nie en hoewel tot dusver maklik neus opgetrek is dat hy te klein is om op ’n hoër vlak te speel, sou hy Saterdagaand selfs die skerpste kritici weer laat wonder het. Ná die kringe wat hy darem om Wanderers se verdedigers gehardloop het, sal hulle voortaan veel anders oor hul “taktiese” skopwerk moet dink.
Heel voorspelbaar het Wanderers se kragtige agttal die eerste drie vir Schalk Bergh met ’n lynstaandryf bewerkstellig. Vier minute later het Unam vanaf ’n lynstaan aangeval en Louis het ’n paar verdedigers laat mistas vir die gelykmaker (7-7).
Unam se opportunistiese drie toe ’n bal onverklaarbaar uit ’n Wanderers-dryf op die studente se doellyn gespat het, het boekdele gespreek. Skrumskakel Sunday Haitembu het met sy eie lugskoppie die lyn gesny en danksy ondersteuning was linkervleuel Unomasa Kavita die volgende oomblik 90 meter verder in die regterhoek oor – voordat die Hingste kon sê wat gebeur het.
Wanderers het egter troefkaarte van hul eie gespeel en met vinnige hande is heelagter Riaan van Zyl twee keer vir drieë in die linkerhoekie oorgewerk. Nog ’n vinnige tikskop het vir linkervleuel Heico Prinsloo op sy lopie hoekie toe gestuur.
Nogtans was Unam rustyd met 25-24 voor danksy ’n tweede drie vir Kavita – opnuut die gevolg van ’n puik individuele breekslag deur Haitembu – en Louis se skopstewel.
Prinsloo is koelkas toe gejaag toe hy onmiddellik ná rustyd die vanger van die afskop in die lug geloop het. Dissipline was ook die knelpunt toe Wanderers se plaasvervanger Shaun du Preez (skaars ’n minuut op die veld) saam met Unam se Renaud van Neel geel kaarte gekry het.
Wanderers het met laat drieë vir Stef Botha en Enem Kritzinger teruggeveg om die agterstand te laat kwyn tot 36-37 met agt minute speeltyd oor. ’n Vinnige tikskop vir Unam het egter die laaste drie vir reserwe-skrum­skakel Jerome Beukes meegebring.

Puntemakers:
Unam: Drieë deur Lorenzo Louis, Unomasa Kavita (2) en Jerome Beukes. Louis voeg vyf strafdoele en drie doelskoppe by, terwyl losskakel Helarius Kisting ’n skepdoel oorklits.
Wanderers: Drieë deur Schalk Bergh, Riaan van Zyl (2), vleuel Heico Prinsloo, agtsteman Stef Botha en skrumskakel Enem Kritzinger. Heico Prinsloo slaag met drie doelskoppe.
• Unam II het die reserweliga-finaal met 29-25 teen Wanderers II gewen, terwyl Seaflower Ocean Swallows die eerste liga met 17-14 teen Mariental beklink het.

Tags: 
Andrew Poolman

Gewilde Hauta roep halt

$
0
0
Gewilde Hauta roep halt

Ná sy derde keer as lid van ’n kampioenklub in die Namibië Rugby-unie se premierliga het die stut Hauta Veii gister halt geroep op sy klubloopbaan van 12 jaar.
Die vaskop van die FNB Universiteit van Namibië was een van die ervare ankers van die studentespan wat laas naweek hul tweede premierliga-titel in twee jaar beklink het.
“Dis tyd om die stewels op te hang, maar wat ’n reis was dit nie. Vanaf 2005 tot 2007 het ek vir Windhoek Rugbyklub gespeel en vir die volgende drie seisoene vir Western Suburbs, insluitend toe hulle in 2008 die liga gewen het,” het Veii gister op sy Facebook-blad verklaar. Hy het in 2011 die skuif na Unam gemaak.
Die gewilde 31-jarige boorling van Windhoek en oudskolier van HTS het vanjaar ook etlike verskynings in die Curriebeker kwalifiserende veldtog van die Windhoek Draught Welwitschias gemaak – meestal as voorryman, maar soms ook in die hakerposisie.
Hy bly steeds in dié oefengroep vir wie ’n paar wedstryde nog in die tweede rondte voorlê.
Hy was die afgelope jare ’n gereelde gesig in die nasionale oefengroep en hoewel hy bitter naby gekom het, het Veii nooit in ’n toets uitgedraf nie. Hy was byvoorbeeld op die reserwebank in die wentoets teen Senegal in Dakar in 2008, maar is nie opgestuur nie.
Die volgende jaar het hy ook die toer na Suid-Amerika onderneem waar hy in die eerste van die twee wedstryde teen die Argentynse A-span gespeel het.
In sy aankondiging gister het Veii die spesiale rol uitgesonder van Johan Diergaardt, wat hom vanaf o.19-klubspeler tot op nasionale vlak afgerig het.
Werner Jeffery, die universiteit se sportorganiseerder wat Veii omgepraat het om nog ’n seisoen of twee vas te byt, kry ook vermelding. “Hy het gewys wat dit beteken om die spelers eerste te stel en het na ons omgesien asof ons sy eie kinders is.
“Bowenal aan al die spelers teen en saam met wie ek die voorreg gehad het om te kon speel – die vriendskappe op en van die veld is beslis die grootste ­oorwinnings wat ek in rugby behaal het. Dit was lekker. Wie weet, dalk byt die gogga my weer in die toekoms, maar vir nou is dit tyd vir ’n volgende fase van die lewe.”

Tags: 
Andrew Poolman

Luiperds kom al grommend

$
0
0
Luiperds kom al grommend

Andrew Poolman - Die Namibiese aanslag op die eerste liga van die Curriebeker het laas naweek tekens van ’n oplewing getoon, maar dit gaan steeds ’n helse vertoning kos om dalk môre hul eerste oorwinning van die seisoen te behaal.
Die Windhoek Draught Welwitschias kom om 15:00 in die Hage Geingob-stadion teen die Luiperds te staan.
Toe die Noordwesters vroeër vanjaar die tuisvoordeel op Potchefstroom gehad het, was hulle met 47-19 aan die wenkant.
Dit was voor die onttrekking van die plaaslike topspelers vir die Junie-Julie toetsseisoen, wat tot ’n paar groot pakke in die kompetisie gelei het.
Dié manne is egter nou weer op hul pos en het laas naweek ’n kompeterende vertoning op George se Outeniquapark gelewer voordat hulle teen die SWD Arende met 54-23
AJ de Klerk, die vaskopstut wat laas naweek vir die eerste keer die Welwitschias se kaptein was, sê die span het teen SWD heelwat beleef waarop hulle wil voortbou.
“Die telling weerspieël nie regtig wat gebeur het nie. Ons manne het in die skrums en lynstane gedomineer; ons vaste fasette was regtig goed. Ek dink ook ons losvoorspelers was baie goed op die grond in die losgemaal.
“Die verdediging het ons so paar keer geknyp, maar ons pak ’n nuwe week wat voorlê by die horings! Ons gaan voortbou op laas naweek se vertoning en gaan werk aan die aspekte waar ons gesukkel het. Ons wil graag die naweek ons eerste wen op die stadion inpalm.”
De Klerk behou die kapteinskap vir môre en sal ook in sy skik wees met die ­terugkeer van flank Rohan Kitshoff, wat weens werkverpligtinge nie die reis na George ­meegemaak het nie. Kitshoff se werkvermoë is ’n groot inspuiting vir die tuisspan. Op slot is Denzil van Wyk
ook weer fiks om te speel, nadat hy
juis op ­Potchefstroom ’n mooi drie gedruk het.
In die bekendmaking van sy span het afrigter John Williams gister ’n paar ekstra name op die plaasvervangerbank in gedagte gehad. Daar sou eers by gisteraand se oefeninge met fiksheidstoets uitklaring oor sekere posisies verkry word.
Die Luiperds het laas naweek op hul tuisveld hard gespook om met 26-24 die oorhand teen die Grens Bulldogs te kry.
Afrigter Jonathan Mokuena het die Namibiese binnesenter Johan Deysel in sy beginspan, maar nie die Wêreldbeker-haker Louis van der Westhuizen nie. Hy speel hierdie naweek vir die Noordwesters se o.21-span.
Die spanne:

WINDHOEK DRAUGHT WELWITSCHIAS
15 Chrysander Botha
14 Philip Nashikaku
13 Heinrich Smith
12 Darryl de la Harpe
11 Gino Wilson
10 Eugene Jantjies
9 Cameron Klassen
8 Leneve Damens
7 Rohan Kitshoff
6 Zayne Groenewaldt
5 Ruan Ludick
4 Denzil van Wyk
3 AJ de Klerk (kapt)
2 Gerhard Lotter
1 Casper Viviers
Reserwes: 16 Petri Burger, 17 Quintin Esterhuizen, 18 Thomas Khali/Alberto Engelbrecht, 19 Johann Wohler/Morné Blom, 20 JC Winkler, 21 Lesley Klim, 22 Mahco Prinsloo.

LUIPERDS
15 Ryno Wepener
14 Rowayne Beukman
13 Bradley Moolman
12 Johan Deysel
11 Jaco Hayward
10 Gene Willemse
9 Malherbe Swart
8 Marno Redelinghuys
7 HP Swart
6 Juan Language (kapt)
5 Walt Steenkamp
4 Sthembiso Mhlongo
3 Nhlahla Ngcamu
2 Wilmar Arnoldi
1 Bartholomeus le Roux
Reserwes: 16 Dane van der Westhuizen, 17 Roan Grobbelaar, 18 Loftus Morrison, 19 Jaco Jordaan, 20 Chriswill September, 21 Adrian Vermeulen, 22 Myburgh Briers.

Tags: 
Andrew Poolman
Viewing all 263 articles
Browse latest View live