Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

NRU: Vermeulen het meeste hulpbronne gehad

$
0
0

Die Namibië Rugby-unie sê geen ander nasionale afrigter voor Danie Vermeulen het soveel steun ontvang in terme van finansiële en menslike hulpbronne om vir ’n Wêreldbeker te kwalifiseer en voor te berei nie.
Die NRU se uitvoerende hoof, mnr. Sybrand de Beer, het gereageer op aantygings deur Vermeulen wat met sy bedanking verlede week gepaard gegaan het.
“Vermeulen se bedanking is aanvaar en die NRU het besluit om aan te beweeg om te verseker dat die veldtog vir die 2015 Wêreldbeker op koers bly.
“Die NRU wil nie in enige openbare debat betrokke raak nie, maar die eensydige bewerings op sosiale media laat ons met geen ander opsie as om die situasie in perspektief te stel nie.”
Sedert 2012 het die NRU-raad meer as een keer onder druk gekom om Vermeulen te vervang, maar die huidige raadslede het by hom gestaan en geweier om toe te gee.
“Baie onlangs het die raadslede wat verlede maand bedank het, opnuut versoek dat Vermeulen afgedank word, maar die president Bradley Basson was vasbeslote dat dit nie sou gebeur nie en dat Vermeulen se kontrak en verpligtinge tot aan die einde van die Wêreldbekertoernooi sou voortduur.
“Die NRU het in werklikheid uit sy pad gegaan om te verseker dat Vermeulen by die Wêreldbeker geakkommodeer sal word. Met die steun van die organiseerders is verseker dat hy toegang tot die afrigterslosie, kleedkamers, hotelle en vervoer sou hê. Met dit as agtergrond maak dit geen sin om voor te stel dat die Unie druk op hom geplaas het om te bedank nie.
“Ons het egter wel ’n noodplan. Phil Davies is in Oktober 2014 as tegniese adviseur en as mentor vir Vermeulen aangestel. Davies het ’n baie goeie verhouding met die spelers en bestuurspan. Die prosesse, wedstrydplanne en oefensessies is deur Phil en Danie opgestel en dit maak net sin dat Phil nou oorneem. Ons het 100% vertroue dat die span se voorbereidings en die Wêreldbeker-veldtog nie deur Danie se bedanking geraak sal word nie.
“Ons het nou twee belangrike toetse teen Rusland om op te fokus (11 en 18 Julie), gevolg deur die Afrika-bekerwedstryde teen Kenia en Zimbabwe. Namibië bly op koers om die 2015 Wêreldbeker ’n suksesvolle een te maak.
“Die aanstelling van Phil as tegniese adviseur asook dié van Wayne Proctor as krag- en kondisioneringsafrigter is bedoel om ’n post-Wêreldbeker nalatenskap te verseker. Dit is ook die gedagte met John Williams as hoofbestuurder van rugbysake. Davies het reeds projekte uitgewys om dié nalatenskap te verseker, nie net op nasionale vlak nie, maar ook op klub- en skoolvlak. Davies sal ná die Wêreldbeker betrokke bly om die nuwe afrigter met sy integrasie in die amp by te staan.
“Een probleem wat uitgewys is, was die tekort aan opgeleide krag- en kondisioneringsafrigters. Wayne Proctor en me. Ninette Steenkamp het reeds vlak 1 kursusse aangebied, met nog een volgende maand. Die geïdentifiseerde kandidate sal in die aanloop tot die Wêreldbeker deel van Proctor en Steenkamp se praktiese sessies wees, met die oog op die 2019 Wêreldbeker in Japan.
“Buitelandse afrigters en kundiges is geensins uniek aan Namibië nie. Soos sake staan, sal 12 van die 20 deelnemende spanne by die 2015 Wêreldbeker buitelandse burgers as hul afrigters hê.”

Knelpunte
Die NRU het ook kortliks op ’n paar bewerings gereageer:
• Vermeulen se redes vir sy bedanking strek so ver terug as 2014 se kwalifikasietoernooi in Madagaskar. “Die NRU vind dit hartseer dat Vermeulen eers nou, byna ’n jaar later, sy kommer hieroor opper. Die NRU het inderdaad versoek dat spelers klubrugby speel en dat oefensessies tot twee per week beperk word sodat hulle wedstrydfiks en gereed sal wees. Dit is op raadsvlak en met die afrigterspan bespreek. Die NRU aanvaar nie dat dit tot die nederlaag in Madagaskar teen Kenia bygedra het nie.”
• Ná kwalifikasie is weer besluit dat die spelers klubrugby behoort te speel. “Byna die helfte van ons toetsspelers speel professioneel buite Namibië en hulle kon nie tussen Julie en Oktober 2014 saam met die plaaslike spelers oefen nie. Vir die drie nederlae op die toer in Oktober en November kan die Unie nie die skuld dra nie.”
• Die NRU betwis die bewering van raadsinmenging en dat Vermeulen gedwing is om ’n bykomende “29ste” speler te kies. Een spanlid (Jacques Burger) is in Londen gebaseer en het nie enige bykomende vlugte benodig nie. Hy was ook net vir een wedstryd beskikbaar en om die toer met 27 spelers te voltooi, het nie sin gemaak het.
“Dit is met Vermeulen bespreek, wat geantwoord het die speler kan toer, maar dat hy hom nie vir die toetse sal kies nie. Die direksie het gevoel hierdie benadering was nie in pas met die beleid van die NRU oor die ontwikkeling van spelers nie.”
• Ná die November-toer het die uitvoerende hoof ’n toerverslag gebaseer op ’n peiling van die spelers saamgestel. In dié verslag was geen sprake van diskriminasie nie. Die voormalige visepresident Corrie Mensah het ’n toerverslag aan die raad voorgelê waarin klagte van diskriminasie teen Vermeulen vermeld is, maar die verslag is nie deur die raad as amptelik aanvaar nie en is onttrek deur die persoon wat dit saamgestel het. Die NRU het dit onnodig geag om die saak enigsins verder te voer.

Vodacombeker
Die besluit om Vermeulen te versoek om nie die Welwitschias tydens die Vodacombeker af te rig nie is met hom bespreek en hy het ingestem dat dit ’n goeie idee sou wees. Dit sou hom kans gee om al die beroeps- sowel as Vodacom-spelers te monitor om ’n duidelike idee te verkry van die spelers wat hy vir die Nasiebekertoernooi wou hê.
Die ooreenkoms dat hy steeds met die Vodacom-groep betrokke sou bly, het nie uitgewerk nie toe Vermeulen hom onttrek het. Ná die vierde wedstryd was hierdie as ’n groot leemte geïdentifiseer en hy is gevra om weer betrokke wees en het inderdaad die span vir hul laaste wedstryd afgerig.
• In Januarie het die president mnr. Bradley Basson vir Vermeulen by die finansiële beplanningsvergadering aangespreek oor die wyse waarop Vermeulen die president en uitvoerende hoof tydens die November-toer behandel en oor wat hy oor hulle in sy toerverslag geskryf het. Die verhouding tussen die twee het skade gely, maar dit word benadruk dat Basson vir Vermeulen verskeie kere ondersteun het toe daar oproepe was dat Vermeulen afgedank word.
• In reaksie op Vermeulen se aanspraak dat die gebrek aan krag en kondisionering tot die drie nederlae in Roemenië gelei het: net 50% van die span wat in Roemenië gespeel het, was ook in die Vodacombeker in aksie. Die res was beroepspelers. Kondisionering bly ’n probleem, maar dit is die gevolg van 2-3 jaar se werk, nie net vyf maande nie. Vermeulen was sedert 2012 in beheer.
• Die NRU betwis die bewering dat die afwesigheid van ’n agterlyn-afrigter tot die span se swak vertonings gelei het. Mnr. Walter Don het in September 2014 bedank en die NRU het ’n proses ingestel om ’n plaasvervanger aan te stel. Op verlede week se raadsvergadering­ (nege maande later) is op Pieter Rossouw as agterlyn-afrigter besluit. Vermeulen­ het die span op die November-­toer sonder ’n spesialis agterlyn-­afrigter afgerig, maar nou eers het hy hierdie as ’n rede vir sy bedanking­ uitgewys.
• Die vrystelling van spelers is nie in die NRU se hande nie en die versoek is aan die onderskeie unies gestuur wat op hul beurt aan die spelers se klubs stuur. Dié proses neem tyd, maar toe Vermeulen bedank het, het die NRU ’n lys van spelers opgestel­ wat vir die Russiese toetsreeks beskikbaar­ is. Hierdie lys is nie aan Vermeulen­ gestuur nie omdat hy toe reeds bedank het.
Vir die rekord, die spelers se reisreëling­s is reeds vasgeknoop en die NRU het daarin geslaag om die vrystelling van 90% van sy spelers vanaf komende Vrydag in Windhoek te bevestig.

Rolstoel
Vandat die NRU oor die verlies van Vermeulen se rolstoel ingelig was, is dadelik maatreëls ingestel om dit te vervang. “Ons het ’n kwotasie van hom versoek en ’n week later het ons ’n kwotasie vir N$100 550 ontvang. Vandat die NRU meegedeel is dat die versekering dit nie dek nie, gaan ons uit ons pad om hom te help en verseker ’n ex gratia bedrag van N$60 000 plus ’n verdere N$19 000, ’n totaal van N$79 000.
“Kort nadat ons hierdie vir hom aangebied het, het ons sy bedanking ontvang. Die rolstoel was nie die eiendom van die NRU en nie ons verantwoordelikheid­ om te verseker nie, want die onus is op die individu om persoonlike eiendom te verseker. Omdat die rolstoel­ verlore geraak het terwyl hy die NRU verteenwoordi­g het, het ons uit ons pad gegaan om hom te akkommodeer.
“Ons verskil sterk van Vermeulen­ se stelling dat die NRU nie sy waarde as afrigter erken nie, of dat dit hom met geen ander opsie laat as om te bedank. Ons voel dit is ’n emosionele­ reaksie en nie gegrond op al die beskikbare­ feite nie. Die hoof uitvoerende­ beampte het hom via e-pos genooi (omdat Vermeulen sedert sy bedanking nie oproepe van De Beer of raadslede beantwoord nie) om hom en Basson te ontmoet om sy redes vir bedanking te bespreek, wat geweier is.”
De Beer het Vermeulen ook genooi om ’n gesamentlike persverklaring uit te reik om die span die beste kans op goeie resultate in die komende toetse en die Wêreldbeker te gee. Vermeulen­ het egter geantwoord dat sy persverklaring­ uitgereik sal word en bygevoeg: “Sterkte met die skadebeheer­”.
Die NRU betreur die feit dat Vermeulen­ sy bewerings op hierdie wyse in die media geplaas het en lei hieruit af dat sy bedoelings was om skade aan die NRU en die span se voorbereidings vir die Wêreldbeker aan te rig.
Vermeulen het intussen op sosiale media geskryf: “(As ek die meeste hulpbronne gehad het), hoekom is daar vir die duur van die Vodacombeker­ nie ’n kondisio­n­­erings­afrigter­ met rugby-kwalifikasies­ aangestel nie? Ek sit met die kondisionering­ toetsuitslae wat ná die Vodacombeker gedoen is en dit is skokkend.”
• Vanweë ’n gebrek aan spasie word die NRU-president mnr. Bradley Basson se ewe omvattende reaksie nie geplaas nie. Dit kan wel op Republikein se Facebook-blad gelees word.

Tags: 
Category: 

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263