n Byna volsterkte Welwitschia-span sal vanaf komende naweek versamel en voorberei vir ’n uitdaging wat nog nie tevore vermag is nie, naamlik om Rusland op die rugbyveld te klop.
Die Windhoek Draught Vriendskaplike Reeks se twee toetse word op 11 en 18 Julie in die hoofstad gespeel.
Mnr. John Williams, hoofbestuurder van rugbysake by die Namibië Rugby-unie, het bevestig dat die voorlopige oefengroep van 50 spelers wat vir die 2015 Wêreldbeker in Engeland saamgestel is, kerngesond is om spelers uit te kies om in die twee toetse te speel.
“Net drie spelers sal heel moontlik nie betyds in Windhoek vir die eerste toets wees nie. PJ van Lill (agtsteman) en Aranos Coetzee (stut) het beide administratiewe sake om by hul klubs in Frankryk af te handel, terwyl Danie Dames (vleuel) met ’n besering sukkel en boonop is ’n kleinding vir hulle op pad wat gaan maak dat hy nie Maandag by ons kan aansluit nie,” het Williams verduidelik.
Die groep sluit Jacques Burger van Saracens in wat vir die eerste keer sedert November 2009 in ’n tuistoets gaan speel. Burger het vir die laaste van sy 30 toetse verlede November teen Kanada in Colwyn Bay, Wallis diens gedoen.
Die kranige losvoorspeler Renaldo Bothma (Natal Sharks) word ook binnekort hier verwag. Vroeër vandeesweek is aangekondig dat Bothma hom ná die Wêreldbeker vir twee maande in Japan by Verblitz gaan aansluit.
Ná die Welwitschias se vier week lange toer na Roemenië en Tunisië verlede maand, is die batterye vir ’n paar dae herlaai, hoewel sommiges steeds baie hard geoefen het.
Pieter Rossouw, die nuut aangestelde agterlyn-afrigter, sal ook vir die eerste keer aansluit vir die slypwerk teen die Russe wat op 9 Julie hier aankom.
Die 31-jarige Burger wat nog by Saracens oefen, het telefonies laat weet dat hy geweldig baie na die toetse uitsien.
“Ek is opgewonde, want dit is altyd lekker om voor jou eie mense te speel waar vriende en familie jou kan ondersteun. Ek sien uit daarna om by my spanmaats aan te sluit en weer my land op die veld te verteenwoordig. Die senior ouens is terug in die span en ons sal die plaaslike spelers met ons ondervinding en besluitneming op die veld moet ondersteun. Ek brand om weer vir Namibië te speel,” het hy gesê.
Burger is een van die mees gerekende oopkantflanke in Europese rugby en het vanjaar in sy 100ste wedstryd vir Saracens opgedraf. Sy klub is ook die Aviva premierliga-kampioene wat in die finaal vir Bath met 28-16 geknak het.
Die onverskrokke speler het in die verlede erge las van beserings gehad, maar is nou fiks en gesond.
“Dit was ’n lang seisoen in Europa en ons het baie rugby gespeel. Nadat ons drie kompetisies afgehandel is, het ek ’n maand af gehad, wat my geweldig goed gedoen het en ek kan nou weer my beste lewer.”
Burger is oortuig dat die onderstrominge in die bestuur van plaaslike rugby nie die span se vertoning sal beïnvloed nie.
“’n Klomp goed is van die veld af gesê en gedoen, maar vir ons as spelers het niks verander nie. Om jou land op die veld te verteenwoordig, is nie iets wat met elke mens gebeur nie. Ons belowe die Namibiese ondersteuners dat elke speler sy beste sal lewer en positief bly om ons eerste oorwinning by die Wêreldbeker te behaal.”
Burger het ’n beroep op alle Namibiërs gedoen om hulle agter die Welwitschias te skaar.
“Ons kan nie ons doel sonder die steun van die hele land bereik nie. Ons versoek dat die mense die stadion volpak, want dit bring ’n speler se beste na vore. Dit sal ons die nodige vertroue gee om die Russe op te dreun, asook vir die komende Wêreldbekerveldtog.”
Category: