Die Fransman Romain Poite is as skeidsregter aangewys om Namibië se openingswedstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi teen Nieu-Seeland op 24 September in die Olimpiese Stadion in Londen te hanteer. Suid-Afrika se Craig Joubert en Frederico Anselmi van Argentinië sal hom op dié dag as grensregters bystaan.
Joubert sal Windhoek volgende maand besoek om die Afrika-bekerkragmeting tussen Namibië en Zimbabwe te monitor.
Wanneer Namibië vyf dae later in sy tweede wedstryd van die 2015 WB teen Tonga in die Sandy Park-stadion in Exeter opdraf, sal Glen Jackson van Nieu-Seeland in beheer wees.
Op 7 Oktober is dit Ierland se George Clancy wat by dieselfde veld die fluitjie gaan blaas wanneer die Welwitschias teen Georgia te staan kom.
Poite is een van twee Fransmanne wat vir Namibiese groepwedstryde aangestel is. Pascal Gauzere sal op 11 Oktober hul laaste wedstryd teen Argentinië in Leicester hanteer. In die openingswedstryd tussen Engeland en Fidji by Twickenham op Vrydag 18 September sal Jaco Peyper van Suid-Afrika die fluitjie dra.
Category: