Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Beseerde Esterhuyse en Buitendag uit Rusland-toets

$
0
0

Die slot Nico Esterhuyse en skrumskakel Eneill Buitendag was vanweë beserings genoodsaak om te onttrek uit die Namibiese rugbyspan se toets teen Rusland môre in die Hage Geingob-stadion.
Esterhuyse, ’n veteraan van 33 toetse wie se lengte van 2.05 meter hom ’n groot bate in die lynstane maak, het by Dinsdagaand se oefening ’n kuitbesering opgedoen.
Hy word vervang deur die Universiteit van Stellenbosch se slot Janco Venter wat sy vyfde toetsverskyning vir Namibië sal maak. Venter was aanvanklik vanweë eksamenverpligtinge nie beskikbaar nie, maar sal vanaand betyds vir die kapteinsoefening by die span aansluit.
Indien sake in die lynstane dus nie na wense verloop nie, sal dit nie verbaas indien Torsten van Jaarsveld vroeër eerder as later opgestuur word nie. Die Cheetah was immers in vanjaar se Superrugbyreeks feitlik heel boaan die lys sover dit suksesvolle ingooie betref.
Buitendag, wat die eerste van sy 12 toetse juis teen Rusland in 2010 gespeel het, sou hierdie keer weer op die reserwebank begin het. Woensdagaand het hy egter gegly en sy agter-dyspier seergemaak. Sy plek word deur Arthur Bouwer ingeneem.
Die twee beseerdes sal vroeg in volgende week geëvalueer word om te bepaal of hulle vir die tweede toets van die Windhoek Draught Vriendskapsreeks op 18 Julie oorweeg kan word.
Die aangepaste Namibiese span is dus soos volg:
15 Johann Tromp
14 David Philander
13 Danie van Wyk
12 Johan Deysel
11 Russell van Wyk
10 Theuns Kotzé
9 Eugene Jantjies
8 Tinus du Plessis
7 Thomasau Forbes
6 Jacques Burger (kapt)
5 Janco Venter
4 Tjiuee Uanivi
3 Casper Viviers
2 DG Wiese
1 Jaco Engels
Reserwes: 16 Torsten van Jaarsveld, 17 Raoul Larson, 18 AJ de Klerk, 19 Renaldo Bothma, 20 Rohan Kitshoff, 21 Arthur Bouwer, 22 JC Greyling, 23 Chrysander Botha.

ONBEKENDE
Die Russe sou eers gisteraand in Windhoek aankom en min inligting is dus beskikbaar om ’n ontleding van hul huidige rugbykrag te doen.
In Februarie vanjaar het Rusland hom in Madrid met 20-43 teen ’n vasberade Spanje vasgeloop, voordat hulle meer sukses teen Duitsland in Pforzheim behaal het deur met 46-22 te wen.
In Maart is nog twee toetse gespeel. Eers was Georgië in Tbilisi gans te sterk (0-33), voordat die Russe ’n week later in Sotchi met 21-8 teen Portugal gewen het. Al hierdie wedstryde is in die Europese Sesnasies B-afdeling.
Die rugbyklub VVA Saracens in Moskou het volgens Wikipedia sowat nege spelers van die huidige toergroep opgelewer.
Van die mees ervare spelers sluit in die haker Vladislav Korshunov (73 toetse), stut Evgeni Pronenko (40 toetse), losvoorspelers Pavel Butenko (33 toetse), Andrei Garbuzov (65), Andrei Temnov (46) en Victor Gresev (68).
In die agterlyn het manne soos die senter Dimitry Gerasimov (33 toetse) en Sergey Trishin (47) asook heelagter Yuri Kushnarev (72) die meeste ondervinding.
Die Russiese Bere se enigste verskyning by ’n Wêreldbekertoernooi was vier jaar gelede in Nieu-Seeland. Vir Engeland 2015 is hulle net-net deur Uruguay uitgeskakel in die wedloop tussen die vastelande se beste verloorders om die heel laaste beskikbare Wêreldbeker-plek op te raap.
Dit sal egter nie verbaas as die Russe baie gemotiveerd is om met ’n 2-0 reeksoorwinning in Windhoek te kan aanvoer dat die kompetisie vir Wêreldbeker-kwalifikasie in Europa strawwer as in Afrika is nie.
Rusland bevind hom immers vandeesweek 19de op die wêreldranglys – wat drie plekke hoër is as die Welwitschias wat elkeen van sy laaste drie toerwedstryde in Roemenië verlede maand verloor het.

VOORWEDSTRYDE
Die program van voorwedstryde vir môre is soos volg:
10:20 Windhoek Affies tn Jan Möhr (Momentum onder 15-liga)
11:30 Ella du Plessis I tn M&K Gertze II (o.19D-liga)
12:40 PK de Villiers I tn Etosha I (o.19B-liga)
Die voorwedstryde word dus op die laatste teen 13:55 afgehandel, wat die vereiste uur voor die toets ooplaat vir die spanne om op te warm. Gedurende hierdie tyd sal die plaaslike sanger Zirk Jansen vir sowat 30 minute voor die toets die skare vermaak.
Kaartjies beloop N$60 op die hoofpawiljoen, N$30 op die oop pawiljoen en N$10 vir skoolgaande kinders. Toegang is gratis vir voorskoolse kleuters. Losies is beskikbaar teen N$5 000 per wedstryd. Gister was nog net een of twee losies oop.

Tags: 

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263