Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Eerste oorwinning oor Rusland was propvol lekkerkry

$
0
0

Die Welwitschias het Saterdag hul beste vertoning in meer as ’n jaar gelewer met ’n oortuigende oorwinning van 39-19 teen Rusland in die eerste toets van die Windhoek Draught toetsreeks.
Ná drie agtereenvolgende nederlae tydens verlede maand se toernooi in Roemenië, is die Namibiërs opnuut vanaf die voorpunt gelei deur die Saracens-flank Jacques Burger om hul 2015 Wêreldbeker-veldtog weer op dreef te bring.
Teen ’n opponent wat drie plekke hoër op Wêreldrugby se ranglys is, het losskakel Theuns Kotzé in die vierde minuut met ’n strafdoel die voortou geneem.
’n Goed uitgewerkte Russiese beweging vanaf ’n vyfmeterskrum het die tuisspan egter geskok. Hul veteraan-losskakel Yuri Kushnaref het skuins gebreek en met ’n binne-aangee sy vleuel Igor Galinovsky oorgestuur. Danksy Kushnaref se doelskop was die besoekers met 7-3 voor.
Die invloed van die nuut aangestelde agterlyn-afrigter Pieter Rossouw was onmiddellik duidelik met akkuraatheid en spoed waarmee die Namibiese agterlyn die bal hanteer het.
Russell van Wyk het as linkervleuel twee drieë gaan druk om as die speler van die wedstryd bekroon te word. Vir sy eerste drie het JC Greyling en Theuns Kotzé hom aan die steelkant weggestuur en het hy nog ’n bietjie werk gehad om te doen voordat sy vaart hom oor die doellyn gedra het met ’n Russiese slot op sy rug.
Kotzé het met ’n dwarswind ’n afdag met sy stelskopvoet beleef toe vier skoppe nie deur die pale geseil het nie. Een daarvan was egter uit sy eie helfte en dit was nogal vreemd om toeskouers te hoor brom oor die skewe pogings van ’n stelskopper wat tevore in Namibië se oorsese wedstryde ’n suksespersentasie van by die 90 persent gehandhaaf het.
Die Russe het daarin geslaag om hul besit doeltreffend te behou en die bal deur ’n paar fases te werk, hoewel hulle ook goeie geleenthede deur hanteerfoute vermors het.
Met beide spanne voluit op soek na ’n drie voor rustyd was dit die Russe wat beloon is toe hul agtsteman Viktor Gresef in die hoek vir ’n onverdoelde drie oorgebars het. Hy het eers vir David Philander ontglip en toe vir Tjiuee Uanivi en Eugene Jantjies weggestamp voordat hy in die duikslae van Johann Tromp en DG Wiese die doellyn gehaal het.
Namibië was rustyd steeds met 13-12 voor en kort daarna het Kotzé weer vanaf die tienmeterlyn met ’n strafskop misluk.

Impakspelers
Die inspuiting van Namibië se plaasvervangers het die spel buite Rusland se bereik geneem. Chrysander Botha, heelagter van die Exeter Chiefs, het in die 10de minuut ’n vinnige tikskop in sy eie helfte geneem en vir Johann Tromp (wat na vleuel verskuif is) weggestuur. Tromp se binne-aangee na skrumskakel Eugene Jantjies het hom op ’n lang lopie doellyn toe gestuur en met Kotzé se doelskop was die telling 20-12.
Namibië se derde drie (en Van Wyk se tweede) is gebore toe die Russe vanuit hul eie kwartgebied ’n belowende beweging begin het met van sy sterk baldraers wat goed gevorder het. Renaldo Bothma, wat vroeër in die beweging nie sy arms om ’n opponent kon sluit nie, het teruggeval en ’n volgende baldraer skoon uit die bal geduik. Senter Danie van Wyk het onmiddellik sy linkervleuel en naamgenoot weggestuur om buite om die Russiese vleuel te hardloop.
Met die effek van die hoogte bo seespieël wat beide spanne in die laaste 20 minute uitgeput het, kon Namibië met slim gebruik van sy plaasvervangers nogtans die pas versnel. Die druk wat hul voorsprong op die Europeërs geplaas het, het ook tot hul volgende drie gelei toe die plaasvervanger-senter JC Greyling onderskep en maklik agter die pale gaan druk het om op 32-12 die wedstryd buite bereik te plaas.
Die Russe het nogtans nie gaan lê nie en het ’n netjiese langafstand drie deur die plaasvervanger-flank Danila Chegadoav geskep om opnuut te wys waartoe hulle in staat is.
Die Namibiërs was nog nie klaar nie en met twee minute oor, het Tromp uitstekend gedoen om Arthur Bouwer se hoë skop te jaag en voor ’n opponent in te spring en terug te wen. Sy aangee het die Luiperds-senter Johan Deysel weggestuur vir Namibië se vyfde drie, voordat Kotzé die eindtelling 39-19 gemaak het.
Die Namibiese kaptein, Jacques Burger, was ná sy eerste tuistoets sedert 2009 in ekstase met die oorwinning.
“Ek is geweldig trots op die span. Enige oorwinning in ’n toetswedstryd is massief en ek is baie trots op die span wat tot aan die einde bly veg het. Ons is baie opgewonde oor wat nog vir die span voorlê en dat ons vir ons ondersteuners ’n goeie uitslag kon lewer.”
Ondanks die oortuigende punteverskil het Burger gesê hy en sy spanmaats het nog baie om aan te werk en te verbeter.
“Dit is ’n hele nuwe groep en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, maar daar was soveel positiewe aspekte vandag en ons weet ons kan verbeter,” het die Namibiese kaptein.
Die tweede toets tussen Namibië en Rusland in die Windhoek Draught Vriendskapsreeks word volgende Saterdag by dieselfde plek gespeel.
Puntemakers:
Namibië: Drieë deur Russell van Wyk (2), Eugene Jantjies, JC Greyling en Johan Deysel. Strafdoele: Kotzé. Doelskoppe: Kotzé (3) en Jantjies.
Rusland - Drieë Igor Galinosvky, Viktor Gresev en Danila Chegadoav. Doelskoppe: Kushnarev (2).

Tags: 

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263