Andrew Poolman - Twee vlieë word met een klap getref wanneer die Namibiese rugbyspan môre vir Tunisië in ’n Afrika-bekerwedstryd aandurf, het die kaptein Pieter-Jan van Lill voor die span se vetrek gesê.
Vier jaar gelede het ’n gevoelige terugslag die Namibië Rugby-unie getref toe hy – nie noodwendig deur sy eie toedoen nie – na die B-afdeling van Afrika-rugby gedemoveer is.
Nadat Namibië al sy geldelike en ander bronne (insluitend die werkverlof van sy plaaslike amateurspelers) in die 2011 Wêreldbekerjaar ingespan het om die beste moontlike vertoning by die grote in Nieu-Seeland te gaan lewer, was daar gevolglik nie geld óf spelers oor om in November van daardie jaar die reis na Kenia aan te pak nie.
Hierdie onttrekking uit die Afrika-bekerwedstryde het daartoe gelei dat die Welwitschias vir die volgende jaar na die B-afdeling van die vasteland se rugbyreeks afgeskuif is.
Met komende naweek se toets teen Tunisië wat veel meer gunstig geskeduleer is om sommer ook as voorbereiding vir die Wêreldbeker te dien, loop Namibië dus nie sommer weer dieselfde risiko as vier jaar gelede nie, het Van Lill gesê.
Die toerkaptein sê hy is opgewonde namens die jonger spelers wat op die toer ’n kans kry om hul kleim vir die Wêreldbekertoernooi in September af te steek.
Van Lill speel die afgelope maande sy klubrugby by Dax in die Franse eerste liga.
“Dit is so ’n professionele opset en ek geniet elke aspek daarvan. Ons speel elke naweek klipharde rugby en ’n man leer baie. Vir jou kondisionering voorr die Wêreldbeker en in terme van geleenthede in rugby is dit ’n hoër trappie,” het die bebaarde agtsteman gesê.
Volgende week beweeg die toergroep aan na Roemenië waar nog drie wedstryde in Wêreldrugby se Nasiebekertoernooi wag.
“Sommige van ons beroepspelers is afwesig, maar die 27 op hierdie toer kry ’n goeie kans op te wys dat hulle in die finale 31 vir die Wêreldbeker hoort. Toetswedstryde soos hierdie is ideaal; ’n man kan nie net op die oefenveld vir ’n Wêreldbeker voorberei nie.”
↧
PJ positief oor kanse vir buiteperde
↧