Die Welwitschias het die Windhoek Draught Vriendskapsreeks met 2-nul beklink toe hulle Rusland Saterdag in Windhoek met 45-5 verlaan het.
Die tuisspan het ’n week tevore ook die eerste toets met 39-19 gewen.
Die oorwinning met 40 punte onderstreep die groot verskil wat ’n week kan maak met beide hoofafrigter Phil Davies en agterlyn-afrigter Pieter Rossouw wat dié keer meer tyd saam met die span gehad het.
Met president Hage Geingob opnuut as eregas teenwoordig, was die tuisspan dié keer selfs meer dominerend en klinies as ’n week tevore. Hul wurggreep in elke opsig word weerspieël in die vyf drieë teen een wat die tuisskare van bykans vyfduisend toeskouers aanskou het.
Losskakel Theuns Kotzé is as die speler van die wedstryd aangewys vir sy bydrae van 25 punte, wat ’n deurslaggewende individuele drie kort ná rustyd ingesluit het.
Kotzé het ná twee minute die telling met ’n strafdoel geopen, voordat die eerste toets se speler van die wedstryd, linkervleuel Russell van Wyk, opnuut sy spoed uitgestal het deur buite om ’n paar verdedigers te nael en die eerste drie te druk. Kotzé se doelskop, gevolg deur nog twee strafdoele, plaas Namibië ten volle in beheer op 16-0.
Net soos die vorige week behaal Rusland weer laat in die eerste helfte ’n drie. Dié gebrek aan konsentrasie net voor rustyd is waarskynlik ’n bron van irritasie vir die Namibiese afrigtingspan. ’n Slim terugaangee voor in die lynstaan het die Russiese haker Evgeny Matveef deurgestuur om ondanks Conrad Marais se duikslag die doellyn te haal vir die Europeërs se enigste punte van die dag.
Die besoekers het die tweede helfte met meer energie begin, maar hierdie goeie bedoelings het op niks uitgeloop nie toe hulle besit op Namibië se kwartlyn verloor. Losskakel Kotzé het met ’n fopaangee deurgebreek en byna die hele lengte van die veld gehardloop vir ’n aanskoulike drie wat Rusland behoorlik gesink het.
Geel kaarte
Rusland se groeiende frustrasie het tot ’n skermutseling binne die Namibiese kwartgebied gelei toe die Namibiese kaptein Jacques Burger glo met die kop geslaan is. Die Suid-Afrikaanse skeidsregter Marius van der Westhuizen het vir Burger saam met Rusland se haker Matveef koelkas toe gestuur.
Rusland het teruggekap om ’n netjiese “drie” in die regterhoek te bewerkstellig, wat egter vanweë hul gebrek aan dissipline gekanselleer is toe die grensregter uitgewys het dat die flank Pavel Butenko ’n paar houe geslaan het. Butenko is ook koelkas toe, om Rusland met 13 spelers te laat.
Kotzé se puik algemene vertoning is met ’n perfek geplaaste dwarsskop afgerond wat reg gewip het vir Conrad Marais se eerste drie. Kotzé verdoel en ná sy derde strafdoel is sy span met 31-5 voor.
Met tien minute oor was Rusland ’n verslane span teen ’n fikser opponent wat ook meer gewoond aan die hoogte bo seespieël is.
Vyf minute voor die einde was die plaasvervanger skrumskakel Arthur Bouwer in posisie om weer ’n teenaanval vanuit sy eie kwartgebied te begin. Toe hy platgetrek word, was Jacques Burger byderhand om sy aangee raak te vat en ’n slim skoppie in die pad van die onkeerbare Marais te stuur wat sy tweede drie van die dag gaan druk.
Met speeltyd verstreke het die Namibiërs opnuut hul ondersteuners met ’n skouspelagtige langafstand drie verheug. Heinrich Smit se binne-aangee na Johann Tromp (beide was plaasvervangers) het die breekslag geskep om Marais vir sy driekuns weg te stuur.
KARAKTER
Die agterlyn-afrigter Pieter Rossouw, wat die afgelope twee weke by Namibië aangesluit het ná sy afskeid van die Blou Bulle, was beïndruk deur die tuisspan se karakter. “Ons het vandag die spel veel beter beheer en ons bestuur van die spel was ook beter. Ons het druk op die teenstanders geplaas en ek was beïndruk met ons geduld, wat met ’n paar baie goeie drieë beloon is,” het die oud-Springbokvleuel gesê.
Die Namibiërs het nou ’n blaaskans van drie weke voordat Kenia hulle op 8 Augustus in Windhoek in die Afrika-bekerkompetisie besoek, gevolg deur Zimbabwe ’n week later. Die groep sal voortgaan om te oefen omdat minder as twee maande van voorbereiding oorbly voordat hulle na die Wêreldbeker-toernooi in Engeland vertrek.
Rossouw het gesê die Welwitschias neem baie selfvertroue uit die geskiedkundige reeksoorwinning teen Rusland, wat beide die vorige ontmoetings in 1994 en 2010 gemaklik gewen het.
“Die twee oorwinnings teen ’n span wat steeds twee plekke hoër as ons gereken word, gee die spelers ’n groot mate van vertroue in hul vermoë. Om ’n span soos Rusland te klop, is goed vir ons, maar nou moet ons voortbou en vorentoe selfs verder verbeter.”
Puntemakers: Namibië se drieë is deur Russell van Wyk, Theuns Kotzé en Conrad Marais (3) gedruk. Kotzé slaag ook met vier doelskoppe en vier strafdoele.
Rusland: Drie deur Evgeny Matveef.