Die tydsberekening van die sogenaamde beswaarde rugbygroep wat verlede week met hul nuuskonferensie die Namibiese Sportkommissie se rol vooruit geloop het, spreek van motiewe om die Namibië Rugby-unie in sy opbou na die Wêreldbeker te probeer ontspoor.
So sê die NRU se president, mnr. Bradley Basson, wat gister amptelik gereageer het op van die aantygings wat laat verlede week wye mediadekking gekry het.
Basson se verklaring lui soos volg:
“Tydens Junie vanjaar het die direktoraat van sport briewe ontvang van vier rugbyklubs wat by die NRU geaffilieer is en waarin sekere besware geopper is. Hierdie besware was meestal gegrond op verslae wat reeds tydens die eerste vyf maande van 2015 deur die NRU asook deur Wêreldrugby afgehandel was.
“Dit kan gevolglik net afgelei word dat hierdie verslae aan die vier klubs beskikbaar gestel is deur sommige of almal van die raadslede wat in Mei vanjaar bedank het en wat dus die vertroulikheidsklousule as raadslede verbreek het.
“Die direktoraat van sport het die saak na die Namibiese Sportkommissie vir ondersoek verwys, wat ook ’n vergadering tussen die NRU-raad en die vier klubs moes reël om die besware te bespreek.
“Terwyl die Sportkommissie nog besig was om die vergadering te reël wat alle partye sou pas, het ’n sogenaamde beswaarde groep ’n nuuskonferensie gehou, sonder om die NRU-bestuur of die volle raad te nooi. ’n Nuusverklaring is uitgereik wat daartoe gelei het dat die media hierdie aantygings gepubliseer het sonder om die Rugby-unie vir reaksie te nader.
“Die NRU-president, mnr. Bradley Basson, het egter van die nuuskonferensie te hore gekom en het dit bygewoon. Nadat die nuusverklaring voorgelees is, het Basson kortstondig kans gehad om van die aantygings met die feite te korrigeer, voordat hy deur lede van die beswaarde groep stilgemaak en versoek is om die vergadering te verlaat.
“Basson het die media genooi om die NRU-kantoor te besoek om oor die feite ingelig te word. Omdat die saak nog hangend by die Sportkommissie is, kan die NRU egter nie op die aantygings reageer voordat dit op die regte manier en protokol deur die hoër gesagte afgehandel is nie.”
NIE VERTEENWOORDIGEND
“Dit is egter belangrik om uit te wys dat die beswaarde groep wat agterna vir die media se groepfoto’s geposeer het, nie verteenwoordigend van die NRU-bestuur se 23 lede is nie.
“Die sogenaamde beswaarde groep bestaan uit die volgende mense: mnre. Corrie Mensah en David van Kradenburg (beide gewese raadslede wat in Mei bedank het), Christie Windvogel (NRU-bestuurslid, as voorsitter van Unam), Henry Coetzee (NRU-bestuurslid, as voorsitter van FNB Western Suburbs), Zane Jansen (NRU-bestuurslid, as voorsitter van Kudus Rugbyklub) en Werner Jeffrey (NRU-bestuurslid, as voorsitter van Tisan) asook me. Celeste Becker-Van Rooi (NRU-bestuurslid, as voorsitter van Reho Pandas).
“Dit is noemenswaardig om by te voeg dat mnr. Steve van Wyk (president van Reho Falcon Rugbyklub) persoonlik die NRU se hoof uitvoerende beampte, mnr. Sybrand de Beer, ingelig het dat hy nie ’n lid van die beswaarde groep is nie omdat hulle hom op kort kennisgewing ingelig het sonder om die redes vir die nuuskonferensie te verskaf. Van Wyk is nie eenstemmig oor die aantygings wat gerig is nie en het die NRU van sy standpunt ingelig.
“In die groep is dus net vyf NRU-bestuurslede. Die meeste bestuurslede het dus nie eens kennis van die nuuskonferensie gedra nie.
“Pogings soos hierdie om die NRU te ontspoor, is ’n gereelde verskynsel voor elke vorige Wêreldbekertoernooi en is ook vir die rugbypubliek nie ’n nuwigheid nie.”
WÊRELDBEKER-JAAR
“Die NRU-president, asook sy raad en uitvoerende bestuur het vertroue dat die stryery buite die speelveld geen invloed op die Namibiese span se voorbereiding vir die Wêreldbeker het nie. Ons weet dat die spelers geweldige moeite doen en dat dit hulle is wat vanaf 24 September in Londen die opposisie in die gesig staar – nie die administrateurs wat teen daardie tyd op hul rusbanke sal sit en rugby kyk nie.
“Ons wil die spelers die beste moontlike kans gee om in daardie wedstryd teen die wêreld se topgekeurde span Nieu-Seeland, asook in die daaropvolgende wedstryde ’n goeie prestasie te lewer.
“Die nuusverklaring en die inligting daarin wat as ’n aanval op individue gemik is, sal deur die NRU se regsverteenwoordigers ondersoek word. Sodra die saak deur die Sportkommissie afgehandel is, sal die feite vergelyk word met die aantygings en sal optrede volg, wat regs- en siviele eise kan insluit.
“Die geskiedkundige reeksoorwinning met 2-0 teen Rusland, wat as 19de gekeurde rugbyland ter wêreld drie plekke hoër as die Welwitschias was, het oor die laaste twee naweke aangedui dat Namibiese rugby vooruitgang maak. (Op gister se nuutste wêreldranglys vir vandeesweek het Namibië met een plek tot 21ste ná Spanje opgeskuif, terwyl Rusland tot 22ste teruggesak het. – sportredakteur)
“Namibiese rugby is sterk en gesond en beweeg in die regte rigting om sy doelwitte by die Wêreldbeker te bereik. Vir die span om goed te vaar, het hulle die ondersteuning van hul landgenote nodig. Ons slagspreuk vir die Wêreldbeker is ‘Twee miljoen mense – een span’. Ons het die steun van 2 miljoen mense nodig en hierdie span speel om die nasie trots te maak.”