Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Kenia kom met stertvere in die lug

$
0
0

’n Warm wedstryd met heelwat op die spel, teen ’n Keniaanse span propvol selfvertroue is op 8 Augustus die volgende uitdaging vir die Namibiese rugbyspan.
“Wat laat jou dink ons kan nie vir Nieu-Seeland of Engeland klop as hulle in Nairobi kom speel nie?” het Kenia se spanbestuurder Wangila Simiyu glo in die media gesê ná die Simbas se indrukwekkende oorwinning die afgelope naweek teen Spanje.
Die Oos-Afrikane het ses drieë ingeryg op pad na ’n spannende sege met 36-27 teen Spanje, wat voor die wedstryd elf plekke hoër op die wêreldranglys was. Die uiteinde is dat Kenia vandeesweek na die 28ste plek opgeskuif het – die beste posisie in sy geskiedenis.
Vir die kragmeting in Windhoek volgende maand sal dit min nodig wees om die Namibiërs te herinner dat Kenia in die laaste ontmoeting op verrassende wyse aan die wenkant was. Dit was in Junie verlede jaar by die kwalifiserende Wêreldbekertoernooi in Madagaskar se hoofstad Antananarivo, toe Kenia met 29-22 gewen het.
Sedertdien het Namibië wel as die Afrika-kwalifiseerder vir die Wêreldbeker deurgedring en is hy sedert die begin van vandeesmaand op volle sterkte aan die voorberei vir die komende skouspel in September en Oktober. Die 2-0 reekssege teen Rusland het ook gewys Jacques Burger se manne is fisiek en geestelik in ’n gesonde toestand.
Kenia se onlangse opgang onder afrigterskap van Jerome Paarwater is reeds deur tuisoorwinnings in 2015 teen Tunisië en Portugal gekenmerk.
Hierteenoor het Namibië in onlangse maande sy laaste ontmoetings teen beide Portugal en Spanje verloor.

SIMBAS WYS SPANGEES
Saterdag het die buitesenter Darwin Mukidza twee drieë gedruk, terwyl die slot Oliver Mang’eni, heelagter Vincent Mose, linkervleuel Jacob Ojee en plaasvervanger voorspeler Lawrence Buyachi elkeen een keer Spanje se doellyn oorgesteek het. Mukidza het met twee doelskoppe getref.
Die Europeërs het met ’n strafdrie asook drieë deur die flank Bonan Anibal en linkervleuel Nil Baro geantwoord, terwyl losskakel Bradley Linklater drie doelskoppe en drie strafdoele deur die pale gestuur het.
Ondanks Spanje se oorheersing in die skrums en lynstane het die Keniane hulle uitmekaar gehaal wanneer daar kanse was om die aanvalspunte wyer te skuif. Rustyd was die tuisspan met 17-6 voor.
“Ons het geweet Spanje sal in die tweede helfte hard terugveg en plofkrag in die kontaksituasies gebruik om hulself in posisie vir ’n oorwinning in die laaste minute te bring, en dit is ook wat gebeur het,” het Paarwater agterna gesê.
“My boodskap aan die spelers was om teen foute te waak omdat Spanje ’n akkurate stelskopper het. Ek is verheug dat ons ’n belangrike oorwinning teen sulke opposisie kon behaal.
“Hierdie vriendskaplike wedstryd was baie opwindend en ons sien uit na ’n positiewe uitslag teen Namibië in die Afrikabeker 1A-afdeling.”
Kenia se kaptein Brian Nyikuli sê die span se karakter en kalmte was in die tweede helfte deurslaggewend. “Spanje is voorlangs sterker, maar my spanmaats het ewe hard ingeklim en ons het ons foute beperk,” het die flank gesê.
Spanje se kaptein Jesus Recuerda het gesê die Afrikane se aanvalsvermoë het hulle gesink. “Ons het probeer om die agterstand in te haal deur ons sterker agttal te gebruik, maar Kenia was gevaarlik met hul fiksheid en spoed.”
Die agtsteman Joshua Chisanga is as speler van die wedstryd aangewys in sy terugkeerwedstryd ná ’n lang afwesigheid met ’n besering.
Kenia het egter nog nooit ’n toets in Windhoek gewen nie en Namibië se skim-Wêreldbekerspan behoort sekerlik genoeg skietgoed te hê om enigiets te kan hanteer waarmee die besoekers vorendag kom. ’n Week later (15 Augustus) sal Zimbabwe die besoekers in Windhoek wees.

Tags: 
Author: 
Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!