Andrew Poolman
Min verrassings is ingesluit in gister se aankondiging van die Namibiese rugbygroep wat vanaf komende Sondag in Durban aan ’n oefenkamp saam met die Springbokke sal deelneem.
Voor die einde van volgende week sal Namibië se 31 uitsoekspelers vir die komende Wêreldbeker bekend gemaak word en gister se aankondiging van die 36 spelers na Durban is ’n goeie aanduiding van wie die finale paal behoort te haal.
Hoofafrigter Phil Davies het grootliks gehou by die bewese kerngroep wat die afgelope maand of wat vier toetse op ’n streep onder sy bewind gewen het, naamlik teen Rusland (2), Kenia en Zimbabwe.
Met die oortuigende wyse waarop hierdie oorwinnings behaal is en die veeleisende oefenprogram waaraan die spelersgroep die afgelope tyd onderwerp is, kan daar ook nie baie sterk teenstemme in die meeste posisies wees nie.
Spelers soos die haker Rathony Becker, slot Nico Esterhuyse en losskakel Shaun Kaizemi is van die mees opvallende weglatings.
In die 24-jarige Becker se geval het Louis van der Westhuizen (20) asook DG Wiese (21) die twee haker-posisies agter Torsten van Jaarsveld beklink. Becker het sover in 12 toetse gespeel teenoor die belowende Van der Westhuizen se twee en Wiese met sewe.
Esterhuyse is saam met Jacques Burger, Johnny Redelinghuys, Tinus du Plessis en Eugene Jantjies die veterane wat steeds aktief is nadat hulle in die vorige twee Wêreldbekers in aksie was. Die slotposisie is een waarin Namibië nie genoeg diepte oplewer nie en met Esterhuyse se lengte (2.05 meter) en ondervinding kan hy met tye ’n strategiese voordeel inhou. Aan die ander kant het hy die afgelope maand of wat las van beenbeserings gehad en word hy soms ook gekritiseer dat hy nie noodwendig een van die aggressiewe inklim-slotte is nie.
Net so is Kaizemi ook ’n speler in ’n posisie waarin die diepte agter die staatmaker Theuns Kotzé ’n bron van kommer is. Kaizemi het egter ’n ontydige besering aan sy agterdyspier opgedoen.
Spelers soos Becker, Kaizemi en Esterhuyse het ’n goeie kans om op die amptelike kortlys vir die Wêreldbeker ingesluit te word, is gister uit die geledere van die Welwitschias-bestuur gesê.
Van die weglatings wat in die voorlopige groep van 51 was, sluit in die stut Shaun du Preez (Wanderers); hakers Rathony Becker (Western Suburbs), Shaun Esterhuizen en Callie Swanepoel (Wanderers); slotte Morné Blom (United), Ulrich Engels en Nico Esterhuyse (Wanderers), losvoorspelers Roderique Victor (Western Suburbs) en Christo van der Merwe (WP o.20); losskakels Ethan Beukes (Collegians, Durban) en Shaun Kaizemi (Western Suburbs); senter Daniel Arries (Unam), vleuel Tuna Amutenya (United) en heelagter Divan Rossouw (Universiteit van Pretoria).
Vir die vier dae in Durban sal elke dag minstens een sessie op die oefenveld saam met Heyneke Meyer se Springbokke deurgebring word. Gimnasiumwerk sal ook sterk in die program wees, terwyl vergaderings met die Bokke se mediese en bestuurspanne ook van waarde behoort sal wees in die opbou na die Wêreldbeker.
Die kamp sal die Welwitschias se sportsielkundige dr. Henning Gericke ook tyd gee om met die spelers te werk soos wat hy tevore reeds suksesvol met spanne soos die Springbokke van 2007 en sedertdien die Stormers gedoen het.
Die groep van 36 spelers na Durban is soos volg:
VOORSPELERS:
Johnny Redelinghuys, Jaco Engels, Raoul Larson, Casper Viviers, Aranos Coetzee, AJ de Klerk, Louis van der Westhuizen, Torsten van Jaarsveld, DG Wiese, Janco Venter, Tjiuee Uanivi, Jacques Burger, Wian Conradie, Leneve Damens, Tinus du Plessis, Rohan Kitshoff, Thomasau Forbes, Rezando (Zana) Botes, Renaldo Bothma, PJ van Lill.
AGTERSPELERS:
Eneill Buitendag, Arthur Bouwer, Damian Stevens, Eugene Jantjies, Theuns Kotzé, Darryl de la Harpe, Johan Deysel, JC Greyling, Heinrich Smit, Danie van Wyk, Danie Dames, Conrad Marais, David Philander, Russell van Wyk, Chrysander Botha, Johann Tromp.