Hendrik Cronjé
Namibië sal glo vanaf volgende jaar in die Curriebeker-rugbyreeks speel.
Die Suid-Afrikaanse rugbybase het ook verlede week op ’n vergadering in Johannesburg besluit dat die Vodacombeker-reeks nie weer van 2016 aangebied word nie.
Die uitvoerende hoofde en presidente van die 14 plaaslike unies het die vergadering saam met verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) bygewoon.
Namibië sal volgens betroubare inligting een van 15 spanne wees wat aanvanklik in ’n enkelronde in ’n vervroegde Curriebeker-reeks sal meeding. Die reeks kan reeds ná die Varsitybeker-reeks begin.
Ná die enkelronde sal die nege boonste spanne in ’n dubbelronde om die Goue Beker meeding en die ses ander in ’n Eerste Liga.
Suid-Afrika se provinsiale rugbybase het aanvanklik op ’n vergadering in Franschhoek voorgestel dat 18 spanne om die Curriebeker meeding – ’n voorstel wat nie aanvaar is nie. Namibië en drie ander buurlande soos Kenia en Zimbabwe sou dan daarin gespeel het.
Namibië se deelname sal egter daaraan onderhewig wees dat hy geldelik op sy eie voete kan staan en hiervoor sal ’n betekenisvolle borgskap vasgeknoop moet word.
Die Curriebeker o.20-kompetisie is ’n verdere belangrike aspek wat spesiale aanpassing in die Namibiese opset sal vereis.
Die FNB Welwitschias het vroeër hierdie seisoen net een wedstryd in die Vodacombekerreeks gewen, maar intussen is harde werk reeds gedoen om te verseker dat die plaaslike senior span voorbereid vir ’n meer kompeterende 2016-seisoen sal wees.
Baie water het in die see geloop sedert die destydse Suidwes-Afrika voor onafhanklikwording in die Curriebeker meegeding het. Die prestasies van die span van 1988 en 1989 bly egter in die verbeelding voortleef, veral toe Gerhard Mans se span in 1988 derde in die kompetisie ná die finaliste die Westelike Provinsie en Noord-Transvaal geëindig het.
Van die belangrikste ander besluite wat glo by die Saru-vergadering in Johannesburg geneem is, is:
• Die ses toetsunies – Blou Bulle, Leeus, Haaie, Cheetahs, OP-Kings en Westelike Provinsie – asook die Luiperds se jonges, kan volgende jaar in nasionale o.19- en o.21-ligas meeding.
Die sewe ander unies se jong spanne kan slegs in ’n nasionale o.20-liga speel.
• Die Super-franchises is glo aan die ses toetsunies toegeken. Dié unies moet self besluit met watter bure hulle vennootskappe wil sluit.
• Saru kan ook binnekort die naam van ’n nuwe hoofborg vir die Curriebeker-reeks aankondig. – Netwerk24 en eie berig