Die Welwitschias sal as kampioene van Afrika na volgende maand se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Engeland reis.
Voor bykans 5 000 toeskouers in die Hage Geingob-stadion het die gasheerspan Saterdag vir Zimbabwe met 80-6 oorrompel in die eindstryd van die Windhoek Draught Afrika-bekerkompetisie vir 2015, om sodoende die titel te behou wat verlede jaar in Madagaskar gewen is.
Geïnspireer deur die teenwoordigheid van die president dr. Hage Geingob, die beskermheer van die Namibië Rugby-unie, het die tuisspan 12 drieë gedruk waarvan tien verdoel is, teenoor die twee strafdoele van Zimbabwe.
Die flank Rohan Kitshoff het die Namibiërs in die afwesigheid van Jacques Burger vanaf die voorpunt gelei en behaal ’n driekuns om as die Windhoek Draught speler van die wedstryd bekroon te word.
Dié uitslag was ver van die naelskraapse 24-20 oorwinning deur Namibië 14 maande gelede in Antananarivo by die Wêreldbeker uitduntoernooi.
Die eensydige wedstryd beklemtoon die voordele wat Namibië geput het deur sy volledige spelers- en afrigtingsgroep vir die afgelope weke in die oefenkamp te kon hê in hul aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi, wat oor net meer as ’n maand afskop.
Namibië se uitstekende fiksheid, die gevolg van twee voltydse krag- en kondisioneringsafrigters saam met die spelers, het ’n groot rol gespeel in die oorheersing oor Zimbabwe, asook in die week tevore toe Kenia met 46-13 oorskadu is.
Ná ’n versigtige begin deur beide kante het Zimbabwe se losskakel Tichafara Makwanya in die 14de minuut die telling met ’n strafdoel geopen – die laaste keer dat Zimbabwe ’n sê gehad het teen die goed georganiseerde en aansienlik verbeterde Namibiese verdediging.
Kitshoff, gewese WP- en Griekwas-flank, open Namibië se rekening in die 20ste minuut met die eerste van sy driekuns ná ’n rolmaal vanaf ’n aanvallende lynstaan. Makwanya kry kans om ’n tweede strafskop by te voeg voordat Renaldo Bothma vir sy span se tweede drie oorbars.
In sy eerste verskyning vanjaar in die Namibiese beginspan was die agtsteman van die Pumas en die Sharks opnuut ’n handvol vir die besoekers en sy kragtige lopies het die tuisspan die hele middag op die voorvoet gehou.
Die derde drie deur JC Greyling was die gevolg van nog ’n doeltreffende rolmaalbeweging van die Namibiese pak. Vir Kitshoff se tweede drie, ná die halftydsirene, het hy oorgebars nadat Bothma van ’n kragtige vyfmeterskrum gestuit is.
Losskakel Theuns Kotzé, in nog ’n besonder blink vertoning, verdoel al die drieë in die eerste helfte vir ’n indrukwekkende voorsprong van 28-6 met rustyd. Kotzé het die wedstryd met 20 skoppunte afgesluit.
TELBORD BLY ROL
Die tweede helfte was eenrigtingverkeer en die telbord het gereeld aangerol met die byvoeging van nog agt drieë in Namibië se grootste oorwinning teen Zimbabwe in die 27 toets tussen die twee lande sedert 1990.
Vyf minute ná die hervatting sny die senter Johan Deysel maklik deur ná ’n breekslag deur Kotzé. Kotzé het ook die volgende drie geskep met ’n slim en goed geplaaste rolskop vir die vleuel Russell van Wyk, wat sy vierde toetsdrie afrond.
Die Zimbabwiërs het die Namibiese rolmaal onstuitbaar gevind toe die plaasvervangerstut Johnny Redelinghuys drie nommer sewe van ’n lynstaan naby die doellyn gaan druk.
PJ van Lill, wat as plaasvervanger-slot opgestuur is, storm deur van ’n sterk skrum, voordat Kitshoff sy driekuns in die 70ste minuut behaal, weer die gevolg van ’n bestuurde losgemaal.
Van Wyk het sy tweede van die dag gaan druk en die losvoorspeler Tinus du Plessis is vir ’n hardwerkende vertoning met ’n drie beloon, voordat stut Redelinghuys ook sy tweede behaal in ’n onvergeetlike dag vir Namibiese ondersteuners.
Die wedstryd was Namibië se laaste voordat hulle volgende maand na Londen reis.
Die Namibiese kaptein Rohan Kitshoff was tevrede met die prestasie, maar het gesê die span het nog werk om te doen. “Ons is sowat 80 persent van waar ons wil wees. Die vier toetse teen Rusland, Kenia en Zimbabwe het met ’n groot deel van ons voorbereiding gehelp, maar ons weet dat ons nog werk moet insit voordat ons na die Wêreldbeker vertrek.”
Volgens hoofafrigter Phil Davies was dit die beste Namibiese vertoning sedert die terugkeer van die onlangse Roemenië-toernooi.
“Ek dink van al ons wedstryde was dit die mees afgeronde vertoning in terme van werk deur ons beplande prosesse.
“Ons het in die eerste helfte ’n bietjie geduld kortgekom, maar het dit ná rustyd reggestel en om 42 punte in die tweede helfte op te stapel, was regtig bevredigend.”
Davies sê Namibië se vordering sedert hul wedstryd teen Zimbabwe in Junie verlede jaar is ooglopend.
“Dit is belangrik dat ons nou vorder, ewe belangrik dat ons in die Wêreldbeker vorder, maar nóg belangriker is dat ons ná die Wêreldbeker-toernooi vorder en die momentum behou. Dit is ’n ware geleentheid vir Namibië om hom in die volgende vier tot vyf jaar as ’n top rugbyland te vestig.
“Ons is nou in die top 20 en ons moet hierop voortbou,” het die fris geboude Wallieser gesê.
Die Namibiërs sal hul voorbereidings in Windhoek voortsit totdat hulle later vandeesmaand ’n vierdaagse oefenkamp in Durban saam met die Springbokke gaan hou.
Puntemakers:
Namibië – Drieë: Rohan Kitshoff (3), Russell van Wyk (2), Johnny Redelinghuys (2), Bothma, Tinus du Plessis, JC Greyling, Johan Deysel en PJ van Lill. Doelskoppe: Kotzé (10).
Zimbabwe – Strafdoele: Makwanya (2).