Die flank Rohan Kitshoff is kaptein van die Namibiese rugbyspan wat komende Saterdag teen Zimbabwe in die “finaal” van die Windhoek Draught Afrikabeker 1A-kompetisie uitdraf.
Kitshoff vervang Jacques Burger as leier én langs die skrum nadat laasgenoemde vandeesweek na sy Engelse klub Saracens moes terugkeer om ’n paar administratiewe take met die verlenging van sy klubkontrak af te handel.
Burger sal later vandeesmaand in Durban by die Namibiese groep aansluit wat ’n oefenkamp saam met die Springbokke sal hou.
In die Namibiërs se finale “opwarmtoets” voor die Wêreldbeker is die insluiting van Kitshoff een van tien veranderinge aan die beginspan wat die afgelope naweek vir Kenia met 46-13 geklop het.
Net vyf spelers wat teen Kenia begin het, sal weer vanaf die eerste minuut teen Zimbabwe speel. Dié vyf is die haker Torsten van Jaarsveld, slotte Tjiuee Uanivi en Janco Venter asook die losskakel Theuns Kotzé en heelagter Chrysander Botha.
Die vaskopstut Johannes (Aranos) Coetzee en losvoorspeler Renaldo Bothma is vanaf die reserwebank na die beginspan bevorder.
Die Namibiese hoofafrigter Phil Davies sê die denkrigting agter die veranderinge is enersyds om deurlopendheid te behou.
“Ons kyk altyd na die ruggraat van die span. Dis belangrik om seker te maak ons kies ’n span wat die wedstryd kan wen. Die spankeuse is ook in pas met ons strategie vir die 23-tal vir die wedstryd (of 22, vir die CAR-wedstryde) wat die intensiteit vir die volle 80 minute kan volhou.”
Die Griekwas-vleuel Danie Dames, wat vanjaar ook sy Superrugby-debuut vir die Cheetahs gemaak het, is in die 14-trui gekies vir sy eerste toets sedert verlede jaar se November-toer teen Portugal in Lissabon. Beserings en die aankoms van sy eersteling het verhinder dat Dames by enige van Namibië se vorige sewe toetse vanjaar betrokke kon wees.
Op die reserwebank maak die haker Rathony Becker, losvoorspeler Thomasau Forbes en skrumskakel Eneill Buitendag hul terugkeer.
Davies sê: “Ons was ook op die uitkyk om spelers soos Rathony, Thomasau en Danie geleentheid te gee wat vir twee weke saam met die groep geoefen het.
“Die kompetisie vir die komende Wêreldbeker is fantasties en dit is presies wat ons wou regkry – om diepte dwarsdeur die groep te bou. Die finale keuse van die groep van 31 vir die Wêreldbeker sal neerkom op veelsydigheid, bestendigheid en huidige vorm.”
Namibië en Zimbabwe is tans boaan die Afrikabeker 1A-kompetisie, met Namibië se punteverskil ietwat beter. Kenia is derde en Tunisië vierde.
Saterdag se botsing in die Hage Geingob-stadion is dus in wese ’n “eindstryd” wat die houer van die 2015-titel van die Konfederasie van Afrika-rugby (CAR) sal bepaal.
Die Welwitschias het tradisioneel die oorhand oor hul buurman en het 23 uit die 26 kragmetings sedert onafhanklikwording in 1990 gewen. Zimbabwe het wel drie toetse gebuit en het in hul laaste ontmoeting ’n jaar gelede in Madagaskar net met 24-20 die knie gebuig.
Die Namibiese span vir Saterdag (getal toetse tussen hakies):
1 Casper Viviers (12)
2 Torsten van Jaarsveld (6)
3 Aranos Coetzee (3)
4 Tjiuee Uanivi (9)
5 Janco Venter (7)
6 Rohan Kitshoff (kapt, 21)
7 Tinus du Plessis (42)
8 Renaldo Bothma (6)
9 Arthur Bouwer (12)
10 Theuns Kotzé (24)
11 Russell van Wyk (3)
12 Johan Deysel (8)
13 JC Greyling (7)
14 Danie Dames (11)
15 Chrysander Botha (32)
Reserwes: Rathony Becker (11), Johnny Redelinghuys (45), Raoul Larson (5), Thomasau Forbes (7), PJ van Lill (32), Eneill Buitendag, Johann Tromp (17).
↧
‘Nuwe’ span teen Zim wys diepte
↧