Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Gerhard Mans beïndruk met Welwitschias

$
0
0

Andrew Poolman - Twintig jaar het verloop vandat Gerhard Mans, die voorste driedrukker in die geskiedenis van Namibiese toetsrugby, die laaste keer in die kleedkamers van die Hage Geingob-stadion was.
Afgelope Saterdag het die beroemde oudkaptein en -vleuel van Namibië egter die rugbytruie seremonieel aan die Welwitschias-spelers voor hul toets teen Kenia oorhandig.
“Dit was lekker om weer ná twintig jaar in die kleedkamer in te stap – wat nou heel anders lyk! Ek dink die span is nou op die beste vlak van voorbereiding vir ’n Wêreldbeker wat hulle ooit was en ek sien met groot afwagting uit na hul wedstryde. Ek wens hulle alles van die beste toe!” het Mans gister hieroor gesê.
Spelers soos die Welwitschias se twee 20-jarige debutante Damian Stevens en Wian Conradie was nog beswaarlik in hul babaskoene toe Mans in 1994 die einde van sy roemryke toetsloopbaan bereik het.
Mans, wat vandag op 53-jarige leeftyd steeds as ’n fietsryer aktief is, se nasionale rekord bly staan op 27 drieë in sy 27 toetse vir Namibië.
Die Namibiërs het Kenia op ’n drafstap met 46-13 kafgedraf en het ses drieë teen een gedruk.
Dié uitslag bevestig dat komende Saterdag se ontmoeting teen Zimbabwe as die “eindstryd” tussen die enigste twee onoorwonne spanne vanjaar in die Afrikabeker 1A kompetisie sal dien.

‘ZIMBABWE IS STERKER’
Die Zimbabwiese Sables hou heel waarskynlik ’n sterker uitdaging as Kenia in, het die Namibiese losvoorspeler Renaldo Bothma gister op ’n nuuskonferensie gesê.
Die blondekop agtsteman van die Sharks het verlede jaar juis teen Kenia en Zimbabwe in sy eerste twee toetse vir Namibië gespeel toe dié spanne in Madagaskar meegeding het om ’n plek by die 2015 Wêreldbeker.
“Zimbabwe was vanjaar in Nairobi teen Kenia aan die wenkant. Dit is nie asof die Keniane die afgelope naweek nie fisiek ingeklim het nie, maar in die vaste fasette is Zimbabwe gewis sterker en beter georganiseer,” het Bothma gesê.
“Verlede jaar het ons Zimbabwe voorlangs goed hanteer, maar komende naweek sal ons in die skrums en lynstane ons planne 100 persent moet uitvoer.”
Bothma het gesê sy persoonlike deurbraak om vanjaar Superrugby te speel, was ’n droom wat waar geword het. In die kleure van die Sharks was hy ’n staatmaker.
“Om in Nieu-Seeland teen legendes soos Richie McCaw en Kieran Read mee te ding, is ’n ondervinding wat jy op geen ander plek kan leer nie,” het hy gesê.
Komende Saterdag se tuistoets is die laaste opwarmwedstryd vir die Namibiërs voor hul Wêreldbeker-veldtog volgende maand in Engeland, waar hulle in ’n groep teen Nieu-Seeland, Tonga, Georgië en Argentinië geplaas is.
Bothma, wat die afgelope maand as impakspeler in die drie wentoetse teen Rusland en Kenia uitgeblink het, het uitgewys dat die spelers se fisieke kondisie die afgelope weke verbeter het deur die harde werk wat verrig is.
Henry Kemp, die nasionale voorspeler-afrigter, het gesê die hoofafrigter Phil Davies en Pieter Rossouw het in die afgelope weke ’n reusetaak verrig om die Namibiërs se standaard te help lig.
Kemp het gesê die feit dat Namibië vandeesweek tot die 20ste plek op die wêreldranglys verbeter het, is ook ’n hupstoot vir die selfvertroue. “Dit is ’n beloning vir die harde werk wat ’n klomp mense agter die skerms gedoen het.”
Nadat hy vroeër die seisoen die afrigter vir die Vodacombekerreeks was, het Kemp gesê dit is verblydend om te sien hoe plaaslike amateurspelers soos Russell van Wyk, DG Wiese, Darryl de la Harpe en andere tans steeds sterk in die prentjie vir die finale aanwysing van die Wêreldbeker-groep van 31 spelers is.

Tags: 

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263