Verskeie positiewe aspekte is uitgewys tydens die Welwitschias se oortuigende oorwinning met 46-13 teen Kenia in hul Windhoek Draught Afrikabeker 1A-wedstryd in die Hage Geingob-stadion.
Die Namibiërs was rustyd met 25-6 voor.
Met ses drieë teen een is die nederlaag sowat ’n jaar gelede behoorlik gewreek, toe Kenia in Madagaskar met 29-20 gewen en so byna Namibië se Wêreldbeker-ambisie verwoes het.
Saterdag het die Oos-Afrikane egter ’n veel sterker Namibiese span teëgekom wat inderdaad selfs met ’n groter telling kon gewen het.
Ondanks Kenia se onlangse tuisoorwinnings tee Spanje en Portugal was hulle die naweek nie opgewasse teen Jacques Burger en sy manne nie, wat ses weke voor die komende Wêreldbekertoernooi in goeie liggaamlike en taktiese posisie verkeer.
Namibië se puntemasjien Theuns Kotzé het ná vyf minute met ’n lang strafdoel geopen, voordat sy eweknie Darwin Mukidza net ’n minuut later die telling 3-3 kon maak toe skeidsregter Pro Legoete van Suid-Afrika hulle onkant betrap het.
Die tuisspan het die eerste drie vanaf ’n aanvallende lynstaan bewerkstellig, met ’n rolmaal wat die spasie help skep het vir heelagter Chrysander Botha om in die hoekie oor te gaan.
Kotzé se doelskop en ’n verdere strafdoel het die voorsprong tot 13-3 laat aangroei, voordat Mukidza met ’n strafdoel teruggekap het.
Dit was die laaste keer dat Kenia enige sê in die wedstryd gehad het. Kotzé se visie en waagmoed om vanaf die merk van ’n strafskop ’n dwarsskop na die onbewaakte David Philander te stuur, het die regtervleuel in staat gestel om Namibië se tweede drie te druk.
Net voor rustyd was Philander weer op sy stukke toe hy met ’n teenaanval ’n Keniaan teenaan die kantlyn ontglip het en met ’n binne-aangee vir senter Darryl de la Harpe oorgestuur het.
Met die rustydtelling op 25-6 was daar geen twyfel wie in beheer was nie.
Tweekuns
Skaars twee minute in die tweede helfte het De la Harpe sy tweede drie van die dag gaan druk toe Kotzé die vlak verdediging van die Keniane met ’n lugskoppie uitoorlê het wat in die doelgebied deur die binnesenter toegeval is. De la Harpe se algehele vertoning op aanval en verdediging was een van sy bestes in jare in die Namibiese trui.
Met die telling 32-6 ná die doelskop het Kenia opnuut ’n vernederende nederlaag in Windhoek in die gesig gestaar. Sake is vererger toe skeidsregter Legoete vanweë die besoekers se sukkelende skrum ’n strafdrie aan Namibië toegeken het.
Die Welwitschias-afrigter Phil Davies het al sy reserwes opgestuur, wat tot ’n verlies aan momentum bygedra het, maar vir die groter prentjie om sy Wêreldbeker-groep te slyp, was dit beslis geregverdig.
Die Sharks se losvoorspeler Renaldo Bothma is vir die derde tuistoets op ’n streep vanaf die reserwebank gebruik en het opnuut ’n groot impak gemaak. Met sy kragtige lopies was hy onkeerbaar toe die nuweling skrumskakel Damian Stevens hom naby die doellyn weggestuur het om Namibië se sesde drie te druk.
Kenia het later ook sy slot Wilson Kopondo met ’n nekbesering verloor en hoewel die besoekers in die laaste minute alles probeer het om spasie vir sy vinnige buitespelers te skep, was hul troosdrie deur linkervleuel Joshua Chisanga te min en te laat.
Burger speel nie teen Zim
Die Namibiese kaptein Jacques Burger was in sy skik met die oorwinning, wat nietemin ook ’n paar lesse opgelewer het.
“Ons het vandag verskeie dinge probeer en was nie so klinies as wat ons kon wees nie. Teen die einde het ons waarskynlik ’n bietjie in hul hande gespeel deur die spel te vroeg te wou oopmaak. Hopelik kan ons volgende naweek teen Zimbabwe selfs verder verbeter.”
Burger sal die Zimbabwe-toets misloop omdat hy vir ’n paar dae na sy klub Saracens moet terugkeer om administratiewe reëlings af te handel. Die Engelse kampioenklub het onlangs sy kontrak met nog ’n paar maande ná die komende Wêreldbeker verleng.
Iemand soos Rohan Kitshoff of Pieter-Jan van Lill sal waarskynlik teen Zimbabwe die leierskap oorneem.
Burger is in sy noppies met die span se vordering vir die naderende Wêreldbeker. “Ons het nou drie oorwinnings op ’n streep teen internasionale spanne. As spelersgroep werk ons baie hard en die oorwinnings is ’n hupstoot vir die selfvertroue.”
Speler van die wedstryd
Die Namibiese slot Tjiuee Uanivi is as die speler van die wedstryd aangewys. In sy toespraak het die Brive-speler die toekenning aan die goeie spanvertoning opgedra. Uanivi het sowat 12 minute voor die einde ’n gulde geleentheid gehad om sy eerste toetsdrie te druk, maar in die laaste duikslag het die bal uit sy hande geglip ná belowende opbouwerk deur Uanivi en Philander.
Uanivi en sy slotmaat Janco Venter het ’n goeie werktempo gelewer om die mate van kommer oor Nico Esterhuyse se voortdurende beenbeserings van die afgelope tyd ietwat te verlig.
Die vertonings deur die twee bloedjong debutante, skrumskakel Damian Stevens en flank Wian Conradie, het gewys dat hulle oor al die talent beskik om nog lank vir Namibiese rugby van groot waarde te wees.
Die 2015 Afrika-bekertitel sal komende naweek in die finale wedstryd van die Windhoek Draught-reeks bepaal word. Namibië en Zimbabwe is tans gesamentlik bo met twee oorwinnings elk en die wenner sal dus die trofee omhoog hou.
Puntemakers:
Namibië: Drieë deur Chrysander Botha, David Philander, Darryl de la Harpe (2), Renaldo Bothma en ’n strafdrie. Theuns Kotzé slaag met vyf doelskoppe en twee strafdoele.
Kenia: Drie deur Joshua Chisanga. Strafdoele (2) en doelskop deur Darwin Mukidza.