Andrew Poolman
Die Universiteit van Namibië se geskiedkundige eerste triomf as kampioene van die land se klubrugby is die eindresultaat van vyf jaar se stelselmatige beplanning – maar ewe veel van die durf van sy spelersgroep wat Saterdag ’n klipharde eindstryd teen FNB Wanderers gewen het.
Agter die skerms het die universiteit se sportorganiseerder mnr. Werner Jeffery ’n groot rol gespeel om van die klub se uitblinkers op en van die veld te werf – van wie min Saterdag ’n belangriker rol as die heelagter Lorenzo Louis gespeel het.
Louis, ook bekend as een van Unam se premierliga sokkerspelers, was klaarblyklik die derde keuse stelskopper ná Henrique Olivier (die losskakel wat saam met die Namibiese o.20-span afwesig was), asook TC Kisting wat van skrumskakel af geskuif is om Olivier se nr. 10-trui oor te neem en heel flink gevaar het.
Louis se 15 punte van die skopringetjie af het ’n groot rol gespeel om die druk vir die volle 80 minute op Wanderers te hou. Die klein Unam-heelagter se wedstryd het boonop glad nie lekker begin nie toe hy hom in die eerste minuut teen DG Wiese te pletter geloop en dronkerig weggesteier het. Ná ’n bietjie mediese aandag was hy egter op sy stukke.
Die rustydtelling van 13-13 was ’n geldige herinnering dat die twee spanne reeds een keer hierdie seisoen gelykop gespeel het. Vreemd genoeg was dit egter Unam, wat voor 2015 nog nooit een die halfeindstryd kon haal nie, wat enduit meer koelkop gebly het, terwyl Wanderers die foute begin begaan het wat verhinder het dat hy op 2014 se posisie as naaswenner kon verbeter.
Skrumskakel Cameron Klassen het Unam se eerste drie van ’n binneaangee deur sy regtervleuel Silvano Beukes gaan druk nadat die studente oomblikke tevore nog hul eie doellyn moes verdedig. TC Kisting se doelskop het dit 7-0 gemaak, maar toe Kisting sowat 12 minute later met ’n strafskop mis korrel, is die stelskopwerk aan heelagter Louis oorgelaat.
Louis en Jacques Nell, Wanderers se senter, het beide in winderige toestande akkuraat pale toe gemik. Wanderers se enigste drie voor rustyd is deur haker Callie Swanepoel gedruk, wat byderhand was om op te pik toe heelagter Riaan van Zyl net kort van die doellyn geduik is.
Die Wit Hingste het ná rustyd eerste punte behaal met ’n drie deur regtervleuel Malcolm Moore. Die doelskop deur Hendrik von Mollendorff was egter mis terwyl Nell mediese behandeling vir ’n stamp teen die bobeen vroeër in die beweging gekry het.
Die volgende twee drieë deur Unam het hom egter die voorsprong gegee wat die studente nie weer laat glip het nie. Hul wakker agterspelers het ’n teenaanval uit hul eie helfte begin en toe linkervleuel Donavan Kandjii net betyds gekeer is, was senter Lesley Klim eerste by om die drie te gaan druk.
Ongeorganiseerde verdedigingslyne aan Wanderers-kant het bygedra dat Kandjii die volgende twee drieë gaan druk het wat saam met Louis se skoptreffers hul kanse beduiwel het om dalk nog te kon terugveg. Selfs ’n drie deur Jacques Nell halfpad deur die tweede helfte was te min om ’n duik in die agterstand te maak.
Met die eindfluitjie het Unam se geesdriftige ondersteunersgroep nie op hulle laat wag om die nuwe kampioenspelers te gaan omhels nie.
Afrigters Johan Diergaardt en Russell van Rooi, wat beide tevore ook tot FNB Western Suburbs se gloriedae bygedra het, het hulself opnuut as een van die gedugte kombinasies op die plaaslike toneel gevestig.
Spankaptein Muniovita Kasiringua het ook gesorg dat Unam die ganse jaar voorlangs vir niemand teruggestaan het nie.
Klipharde, skoon rugby was aan die orde van die dag en ’n gees van wedersydse respek het tussen die twee klubs geheers. Uit Wanderers-geledere was daar niks anders nie as hartlike gelukwensing aan die nuwe kampioene, wat die vorige naweek eers ná die eindsirene die wenpunte teen die 2014-titelhouers Trustco United behaal het.
Skeidsregter Jacky Husselmann is verreweg die land se nommer een blaser en sy rol om dié eindstryd ’n waardige hoogtepunt van die 2015 seisoen te maak, kan nie onderskat word nie. Die vertonings van enige van die ander blasers wat die afgelope naweke uitklopwedstryde hanteer het, boesem nie naastenby dieselfde vertroue in nie en hopelik is raakgesien hoe Husselmann sodanig beheer behou het sodat beide spanne vir 80 minute voltallig gebly het.