Andrew Poolman - Wie is lus om Rio de Janeiro toe te gaan vir die 2016 Olimpiese Spele?
Hierdie lekker vet geelwortel hang voor die neus van Namibië se sewesrugbyspan, maar heelwat vraagtekens bestaan of hierdie gulde geleentheid behoorlik aangegryp gaan word.
Die Namibië Rugby-unie het dit nie reggekry om Vince Dreyer om te praat om sy bedanking as nasionale afrigter terug te trek nie.
In sy plek is mnre. Les Bougard en Ronaldo Pedro intussen as afrigters en mnr. Ettienne Coetzee as spanbestuurder aangestel met die oog op Afrika se kwalifiserende toernooi vir die 2016 Rio Spele, wat in middel-November in Johannesburg gespeel sal word.
As krag- en kondisioneringsafrigter sal Sergio de la Harpe (afrigter van Western Suburbs en voormalige toetsvleuel) die span help slyp.
Tot nou was bykans al die fokus op Namibië se vyftienman-aanslag om by later vandeesmaand by die Wêreldbekertoernooi in Engeland ’n impak te maak soos nog nooit tevore nie. In hierdie stadium is dit dus ’n raaisel hoe Namibië se sewespan sal lyk wat in November sy Afrika-uitdagers moet uitoorlê.
Kenia, wat vir Rio sal moet kwalifiseer nadat hy nie soos Suid-Afrika onder die top-vier in die laaste Wêreldreeks was nie, en Zimbabwe sal as die gunstelinge beskou word, met Namibië nietemin ’n potensiaal gevaarlike buiteperd.
GESLOER
Toe Dreyer laas November vir die eerste keer die span na Windhoek Draught en die Konfederasie van Afrika-rugby (KAR) se sewestoernooi in Zimbabwe geneem het, het net twee naelskraapse nederlae teen Kenia en Zimbabwe hulle van ’n eindposisie in die top vier weerhou.
Hierdie resultaat (vyfde, wenners van die plaatafdeling) was in verskeie opsigte ’n belowende regrukpoging teenoor die vorige jaar toe hulle elke wedstryd (selfs teen Zambië en Madagaskar) verloor het.
Dreyer het egter aan die einde van Junie bedank nadat die NRU vir maande gesloer het om vir hom ’n kontrak aan te bied waarin ’n tydperk van aanstelling, vergoeding en ander voorwaardes uitgestippel word. Hy is in geen stadium betaal nie en het ook geen waarborg gehad dat hy die span na die Olimpiese Spele sou neem indien hulle suksesvol in die kwalifiserende toernooi is nie.
Uiteindelik het die oënskynlike gebrek aan dringendheid om die organisasie van sewesrugby agtermekaar te kry, vir Dreyer genoop om sy dienste te onttrek omdat hy vir maande lank geen invloed op die voorbereiding kon hê nie.
Beduidende verskille bestaan tussen die filosofieë van Dreyer en Bougard in terme van spelstyl asook die spelers waarin hulle belang stel.
PROEWE KOMENDE NAWEEK
Sedertdien het die NRU reeds aangekondig dat hy danksy ’n borgskap van die Safland eiendomsgroep ’n groot internasionale sewestoernooi op Vrydag 25 en Saterdag 26 September in Windhoek se Hage Geingob-stadion gaan aanbied.
Suid-Afrika, Zimbabwe, Pole (onder afrigterskap van ’n voormalige Bulls-afrigter, Blikkies Groenewald), Botswana, die Blou Bulle en moontlik Kenia sal van die mededingers wees.
’n Gevaarlike buiteperd is ook die Northern All Stars, wat glo verskeie voormalige SA sewe-spelers kan insluit.
Ondanks die afwesigheid van Namibië se Wêreldbeker-groep, sal die Safland-toernooi wel van groot waarde kan wees om Namibië se spelerstalent tydens ’n strawwe kompetisie in ’n hegte, kompeterende eenheid saam te snoer.
Die afgelope naweke se semifinale en eindstryde van die NRU se klubligas het opnuut die potensiaal uitgewys wat vir die seweskode handig te pas kan kom.
Bougard het gister aan die koerant gesê die klubliga se uitspeelwedstryde het tot nou toe ’n stokkie gesteek voor die sewesgroep se oefensessies, wat wel gisteraand sou hervat.
“Op hierdie oomblik het ons ’n oefengroep van 45 spelers en die meeste van die spelers wat die afgelope twee naweke beïndruk het, was wel reeds in die groep ingesluit. Ons beplan om komende Saterdag in die Hage Geingob-stadion proewe te hou, waarna die groep tot 20 spelers verklein sal word.”
Mnr. Sybrand de Beer, die NRU se uitvoerende hoof, het beklemtoon dat die oefensessies en proewe oop is vir enige speler wat reken hy het ’n kans om die span te haal.