Andrew Poolman - Wêreldrugby (voorheen die Internasionale Rugbyraad) is hoogs tevrede met die stand van die administrasie van die Namibië Rugby-unie – veral vergeleke met vier jaar gelede toe die unie op die rand van bankrotskap gewankel het.
Wêreldrugby se hoof van kompetisies en hoëprestasie, mnr. Mark Egan van Ierland, het aan Republikein gesê die NRU se president, mnr. Bradley Basson, en die uitvoerende hoof, Sybrand de Beer, het ’n uitstekende rol in die afgelope vier jaar se regrukpoging gespeel.
“Die NRU se geldsake is gesond en daar is nie krediteure wat agter die unie aan hardloop om agterstallige skuld te verhaal nie. Jy kan dit nie eens vergelyk met vier jaar gelede nie.
“Die NRU is op ’n stewige finansiële en administratiewe grondslag.
“Die huidige stand is inderdaad die normale verwagting wat Wêreldrugby aan sy lidlande stel. As jy kyk hoe rugby-unies soos Georgië, Roemenië, Kanada of die VSA bestuur word, is hul sake goed georganiseer. Dit is normaal, soos dit moet wees.”
SNY WB-KOEK
Egan sê die 2015 Wêreldbeker was die mees kompeterende een in die geskiedenis, met ’n beduidende kleiner gemiddelde punteverskil as die WB-toernooi van vier jaar tevore in botsings tussen Vlak 1 en 2 lande.
Die WB-toernooi was ook finansieel ’n groot sukses – maar ’n allemintige 103 volle lidlande van Wêreldrugby verwag om in die opbrengs te deel.
“Dit beteken dat Wêreldrugby se geldelike belegging in die kompetisies en hoëprestasie-programme van Vlak Twee-lande baie strategies gedoen word. Geen unie word aan sy eie oorgelaat om hierdie geld te bestee nie, maar dit geskied met oorlegpleging en verslagdoening. In Namibië se geval is Stef Nel die konsultant wat die NRU die afgelope vier jaar deurlopend met sy beplanning bystaan,” sê Egan.
“Wêreldrugby verwag dus verantwoordelike bestuur van elke land en sal nie geld bestee op administrateurs wat onbevoeg is of wat nie vertrou kan word nie.”
VOORDEEL
Egan sê Namibië is in ’n bevoorregte posisie om Suid-Afrika as ’n buurland te hê wat ’n erkende krag op Vlak Een is en wat reeds twee maal die Wêreldbeker gewen het.
“Die feit dat Saru julle vir 2016 ingesluit het in die Curriebeker wat sy ontwikkelingskompetisie is, sal baie vir die groei van jul rugby beteken. Dis ’n voordeel wat vergelykbare lande soos die VSA, Kanada, Georgië, Rusland en Roemenië nie het nie en hulle moet voortdurend planne beraam vir gereelde sterk kompetisie.
“Namibië se beste spelers kan nou 22 wedstryde per jaar speel (of 25 tot 30 indien toetse bygetel word) op ’n professionele of semi-beroepsvlak.
“Die uitdaging is om die nodige geld in te samel, om borge te werf en steun van die regering te kry.”
MEESTE GELD NÓG
Namibië kan verwag om in die komende jaar 200 000 pond (meer as N$4.4 miljoen volgens die huidige wisselkoers) van Wêreldrugby vir sy hoëprestasie-program te ontvang.
Bykomend hiertoe is die toelaag vir ontwikkeling van 70 000 pond aan die NRU, asook geld vir deelname aan die Nasiesbekertoernooi in Roemenië.
Hierdie betalings kan meebring dat Namibië in 2016 tot sovel as N$7 miljoen van Wêreldrugby ontvang, wat sover bekend die grootste bedrag nóg vir Namibië buiten Wêreldbekerjare sal wees.
“Die afgelope Wêreldbeker was ’n toonbeeld dat geldelike belegging in rugby wel dividende in terme van prestasie lewer.”
RUGBY-AKADEMIE
’n Kompetisie soos die Curriebeker maak dit noodsaaklik vir die NRU om ’n rugby-akademie op die been te bring as ’n hulpmiddel om meer van sy spelerstalent te ontwikkel en plaaslik behoue te laat bly.
“Aspekte soos afrigting en vaardigheidsoefening, behoorlike voeding en leefstyl as ’n professionele sportman is nodig om op ’n vlak soos die Curriebeker te kan meeding. Dit bly ’n goeie teken as jou heel beste spelers opgeraap word om in die beste ligas soos Superrugby of in Europa blootgestel te word, solank hulle terugkeer wanneer hul land in toetse betrokke is. Vir lande soos Samoa, Fidji en Tonga kom 90% van hul hul toetsspan uit hierdie topligas.
“Georgië het omtrent 15 spelers by Top 14-klubs in Frankryk.
“Jy wil dus nie in die pad staan van jou heel beste spelers wat sulke geleenthede kry nie en dit help ook nie om teen die mark te veg nie. Die fokus hier sal wees om in die vroeë deel van die speler se loopbaanpad die struktuur vir goeie ontwikkeling te skep.”
DIE REGERING
Egan sê in sy ontmoeting met adjunkminister Agnes Tjongarero van sport, jeug en nasionale diens was dit bemoedigend om te kon aflei dat sy in voeling is met wat op sport se elitevlak vereis word.
“Wêreldrugby se finansiering is op sigself nie genoeg om die verskil te maak nie. Ons koester ’n verwagting dat die regering die geldelike insette van Wêreldrugby behoort te ewenaar. Dit is wat in verskeie lande soos Kanada, Roemenië, Georgië en Uruguay gebeur, wat net soos Namibië bo hul verwagte gewigsklas by die Wêreldbeker presteer het.
“In Namibië was die regering se ekstra belegging in die Wêreldbekerjaar baie welkom. Ons boodskap is dat hierdie insette meer konstant deur die vierjaarperiode volgehou moet word om te verseker dat die rugby-unie geldelik stabiel is.”
VERTROUE
Vier jaar gelede het Egan ook ontmoetings met van die plaaslike borge van Namibiese rugby gehad – net soos vandeesweek.
“Vorige kere het ek nie oortuig gevoel dat daar by borge werklike vertroue in die Rugby-unie se administrasie bestaan het nie. Dit het nie gevoel soos ’n ware vennootskap met ’n unie wat goed georganiseer is en ambisieuse doelwitte het nie.
“Gister (Dinsdag) het ons egter twee lang vergaderings met twee baie prominente borge gehad en hulle was baie opgewonde oor die vooruitsig van die Curriebeker en baie beïndruk met die planne wat ons voorgelê het.
“Namibië is dus in ’n baie gunstige posisie vir die Curriebeker, maar dit gaan geld kos – na beraming sowat nege of tien miljoen Namibiese dollar per jaar.
“Dit sal baie goed wees indien dit as ’n nasionale projek gesien word – eerder as net die Rugby-unie se projek. Dis ’n gulde geleentheid vir die toekoms van die sport, maar as dit nie die eerste twee jaar reg gedoen word nie, sal dalk nie na behore voordeel getrek word nie.”
PROFESSIONEEL VERDEEL
Volgens die strategiese beplanning is daar voortaan ’n fokus om die Rugby-unie se amateur- en professionele sake afsonderlik te bedryf.
De Beer verduidelik: “Ons beplanning is dat die Unie sal voortgaan met ontwikkeling (insluitend sewesrugby), skolerugby, die Get Into Rugby program, vrouerugby en klubrugby.
“’n Maatskappy sal dan gestig word om die nasionale spanne (insluitend die sewes, o.19’s en o.21’s) asook die rugby-akademie te bestuur.
“Die spelers sal deur die maatskappy gekontrakteer word.”
Egan het bygevoeg dat die rol van geldinsameling deurslaggewend is en voltydse aandag sal verg om ook die gehalte van die “produk” te ontwikkel en te verseker dat die borge hul pond vleis kry.
KLUBRUGBY
De Beer sê Namibië het tot onlangs nie oor ’n struktuur vir ontwikkeling op hoëprestasievlak beskik nie.
“Vir die nasionale span het ons baie staatgemaak op spelers wat aan sterker spanne in die buiteland verbonde is. Dit het veroorsaak dat die plaaslike klubs afgeskeep voel omdat daar nie werklike ontwikkeling op hul vlak plaasvind nie.
“Die nuwe maatskappy sal baie fokus op plaaslike kapasiteitsbou. Daar sal veel meer interaksie met die klubs wees om tegniese insette te lewer.
“Kursusse en mentorskap op die gebiede van krag en kondisionering (onder leiding van Wayne Proctor) en tegniese ontleding (Andy Jones) sal aangebied word en Phil Davies en John Williams sal ook werk met van die plaaslike afrigters wat met hul vlak 3 en vlak 2 kursusse besig is.”
Volgens De Beer sal maniere ook ondersoek word vir die maatskappy om geld en borgskappe vir klubrugby te verseker.
Die motivering vir ambisieuse klubspelers sal wees om by die rugby-akademie ingesluit te word as ’n roete na die professionele vlak.
GOLD CUP
Nog ’n nuwe geelwortel is dat ’n Namibiese klub (waarskynlik die premierliga se kampioen), saam met Zimbabwe se topklub in Suid-Afrika se Cell C Gold Cup-toernooi (voorheen die Gemeenskapsbeker) ingesluit is.
Die toernooi vir amateurklubs (tersiêre instellings uitgesluit) uit elke provinsie word later in die seisoen gespeel en kry selfs TV-dekking.
Egan sê spelers wat die kans aangryp om hul spel te ontwikkel, sal ook hierdie invloed op hul spanmaats afsmeer wanneer hulle terug by hul klubs is.
“Die idee is om die kultuur van hoëprestasie ook by die klubs tuis te bring. Uiteraard kan nie elke speler eendag vir Namibië speel nie, maar genoeg van hierdie invloed behoort deur te syfer om ’n effek op die ganse rugby-omgewing te hê.
“Die trots in die Namibiese trui behoort só te groei dat mense na die volgende Wêreldbekertoernooi in Japan sal kyk en sê dat hul klub op een of ander manier ’n rol gespeel het om tot die goeie vertoning by te dra.”
Die genoemde planne was reeds met van die belanghebbendes insluitend raadslede en borge bespreek, maar sal meer deeglik met die unie se raadslede in 2016 hanteer word.