Andrew Poolman - Die beplanning van die Namibië Rugby-unie om Phil Davies as hoofafrigter van die nasionale rugbyspan aan te hou, bied deurlopendheid en kapasiteitsbou op die pad wat vir die volgende vierjaarsiklus beplan word.
Davies (hoofafrigter) en Wayne Proctor (krag- en kondisioneringsafrigter) is beide oudtoetsspelers van Wallis wat lede van die 2015 Wêreldbekerspan was en wat reeds van hul kundigheid in die plaaslike spel begin pomp het.
Volgens beplanning sal beide behoue bly vir volgende jaar, wat ’n uiters belangrike seisoen vir Namibiese rugby sal wees.
Die res van die afrigting- en bestuurspan sal oor die komende weke bevestig word.
Volgens die strategiese beplanningsvoorlegging sal Davies se rol in die Namibië Rugby-unie uitgebrei word om ook as direkteur van rugbysake te dien, met Proctor as bestuurder van die hoëprestasieprogramme.
Die NRU se topbestuur en raad was die afgelope twee weke in verskeie indringende vergaderings betrokke om die pad vorentoe te beplan.
Die NRU se vierjaarplan met die oog op ’n verbeterde vertoning by die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan moet volgende maand aan Wêreldrugby voorgelê word – soos elke ander lidland van die organisasie.
Hierdie voorlegging wat deur mnr. Bradley Basson, president van die NRU, gelei sal word, sal bepaal hoeveel geld Namibië van die wêreldbeheerliggaam ontvang om al sy programme te bedryf.
Die NRU se uitvoerende hoof, Sybrand de Beer, was saam met Davies en die hoofbestuurder van rugbysake, John Williams, sentraal betrokke in die beplanningswerk.
In die afgelope dae het selfs Wêreldrugby se hoof van kompetisies en hoëprestasie-programme, Mark Egan, besoek in Windhoek afgelê om van die ontmoetings met regeringslui by te woon en bykomende insette in die Namibiese strategiese plan te lewer.
Van die verwikkelinge wat De Beer gister eksklusief met die koerant gedeel het, sluit in:
KOMMERSIëLE STRUKTUUR
Die NRU het verlede week ’n afsonderlike werksessie belê waarheen raadslede en ander rolspelers genooi was om hul planne voor te lê om onder meer ’n nuwe kommersiele struktuur te loods om sy hoëprestasie programme en nasionale spanne in ’n professionele rigting te laat beweeg.
De Beer sal uittree as hoof uitvoerende beampte en as onafhanklike agent die unie bystaan om kommersiële vennote en borge te bekom, terwyl ’n hoofadministrateur vir die dag-tot-dag bedrywighede van die NRU een van die poste sal wees wat binnekort in die media geadverteer sal word om De Beer te vervang.
CURRIEBEKER
Namibië se insluiting in die vergrote Curriebekerreeks van 2016 sal bykomende geldelike eise stel, maar volgens De Beer was daar die afgelope paar weke baie suksesvolle onderhandelinge met potensiële borge om hulle vir die volgende vier jaar deel van die voorgenome konsortium van borge te maak.
De Beer is positief dat hierdie onderhandelinge binnekort op kontrakte sal uitloop om gedeeltelik die finansiële druk van Curriebeker-deelname te verlig.
Die reeks begin eers in April, wat vir die afrigters en die res van die bestuur genoeg tyd behoort te gee om die spelersgroep op ’n kompeterende vlak te kry.
RUGBY-AKADEMIE
Die voorgestelde Namibiese rugby-akademie se bestuurder sal heel moontlik ook as die nasionale o.20-span se afrigter diens doen. Die rugby-akademie sal op die modelle van lande soos Argentinië en Georgië geskoei wees, wat die afgelope jare reeds die trappe boontoe in internasionale rugby suksesvol geklim het.
Die rugby-akademie sal nie aan spelers se ouderdomme gebonde wees nie en sal al die aspekte van hoëprestasie sport insluit.