Andrew Poolman - In rugbykringe is dit die afgelope maande ’n ope geheim dat Henry Kemp vir 2016 as Windhoek Hoërskool se direkteur van sport aangestel sou word – soos onlangs bevestig is.
Minder algemeen bekend is dat hy volgende jaar geen rol in die afrigting van die senior nasionale span gaan speel nie.
Die Namibië Rugby-unie is die afgelope week of wat met indringende beplanning besig en behoort waarskynlik binnekort te kan aankondig hoe sy afrigterspan vir volgende jaar daar sal uitsien.
Kemp, wat vanjaar die hoofafrigter in die Vodacombeker en later voorspeler-afrigter van die Wêreldbekerspan was, het aan Republikein bevestig dat hy hom in die nuwe jaar ten volle op sy nuwe taak wil toespits.
Hy sal wel aanbly as afrigter van die Namibiese o.18-span vir die Cravenweek, asook by die o.19’s vir wie ’n internasionale toernooi in Zimbabwe voorlê.
Windhoek Hoërskool se trotse vertoningslys in skolerugby se nasionale Momentum-liga het die afgelope twee seisoene ’n knou gekry.
Kemp was die afgelope drie jaar aan Windhoek Afrikaanse Privaatskool verbonde (waarin hulle twee keer die o.19A-liga gewen het) en was voor dit by Edugate.
Die hoop word nou op hom gevestig om by WHS die regte verstellings te help aanbring om meer gereeld die knoop te kan deurhaak.
“My taak is om te help verseker dat die strukture bestaan om deurlopende ontwikkeling van spelers vanaf o.14-vlak te verseker, sodat hulle uiteindelik die regte vaardighede sal hê om as o.18’s en o.19’s mededingend te wees om Namibië op ’n hoër vlak te verteenwoordig,” het Kemp gesê.
Volgens hom is die bestaande strukture by WHS op ’n goeie standaard en is dit bloot ’n kwessie om hierop te ontwikkel en te verbeter.
“Om die o.19 Superliga te wen, word deur vele mense as die groot toets gesien, maar die liga is kompeterend en dis glad nie so maklik nie.
“WHS sal gewis hierdeur gemotiveer wees, maar vir my is die hoofsaak om te verseker dat die struktuur vir blywende sukses opgestel is.”
MENTORSKAP
Kemp het reeds die dienste van verskeie bekende nasionale spelers en ander rolspelers nader geroep om die skool se afrigterspanne te help versterk.
Tinus du Plessis en Rohan Kitshoff, twee yster-flanke wat beide by geleentheid kapteins van Namibië was, is voorbeelde hiervan. Beide was in die 2015 Wêreldbeker-span, terwyl manne soos Jan Dames, Jurie van Tonder, Darryl de la Harpe, Malcolm Moore en Daniel Arries ook huidige of voormalige spelers op senior nasionale vlak is.
Nog ’n aktiewe toetsspeler wat hierby gevoeg kan word indien die huidige onderhandelinge suksesvol is, is die buitesenter JC Greyling.
Vanuit die geledere van die Welwitschias het Kemp ook daarin geslaag om Danie von Solms (logistieke spanbestuur) en William Steenkamp (tegniese wedstrydontleding) in ’n oorhoofse rol te betrek om van die klein, maar noodsaaklike aspekte vlot te help verloop.
Hoewel Kemp as hoofafrigter van die eerste rugbyspan sal optree, sal die koördinering van die skool se ander sportkodes soos hokkie, krieket, netbal en sokker ook deel van sy dagtaak uitmaak.
“Sommige van die sportkodes se bestaande stelsels is reeds baie goed gevestig en het nie veel nuwe insette nodig nie.
“Sokker is een van die kodes waaraan ons graag in die nuwe jaar meer aandag wil skenk om dit op ’n kompeterende vlak te bring.”
WHS se gimnasium is ook sedert verlede jaar opgeknap om groter getalle te kan hanteer. Onder leiding van Herman Steytler kan dit nou met reg ’n hoëprestasiesentrum genoem word.
Windhoek Hoërskool se rugby-afrigters vir 2016:
Eerste span (Koedoebulle): Henry Kemp, Jan Dames, Ben Calitz, Jan Augustyn (spanbestuurder), William Steenkamp (ontleding).
Tweede span: Riaan Steyn, Jurie van Tonder, Leonora Henning (spanbestuurder).
Derde span: Calvyn Kennedy, PR Ackerman, Wikkie Hough (spanbestuurder).
Vierde span: Tinus du Plessis, Darryl de la Harpe, Danie von Solms (spanbestuurder).
Onder 15’s: Louis van der Berg, Riaan du Toit, Jan Rossouw, Zane Dentlinger, Guda du Toit (spanbestuurder).
Onder 14’s: Rohan Kitshoff, Daniel Arries, Heinrich Barnard, Malcolm Moore, Anton Basson (spanbestuurder).