Andrew Poolman - Soos die res van die land se rugbypubliek sal Roger Thompson ook in spanning wag op volgende week se raadsvergadering van die Namibië Rugby-unie wat die eerste duidelikheid ten opsigte van die land se post-Wêreldbeker planne sal bied.
Thompson, verdedigingsafrigter van die Welwitschias, is ook die huidige hoofafrigter van die Namibiese o.20-span, wat gekwalifiseer het om volgende jaar weer aan die Wêreld Junior Trofee-toernooi deel te neem wat in Harare, Zimbabwe aangebied sal word. Dié toernooi vir ontluikende rugbylande is ook ’n geleentheid vir die kampioenspan om vir die volgende jaar se o.20 wêreldkampioenskap te kwalifiseer.
Thompson en Henry Kemp as voorspeler-afrigter was die enigste Namibiërs in die afrigtingspan van die 2015 Wêreldbekerspan. Dié twee sal na verwagting opnuut van die voorste aanspraakmakers wees wanneer die NRU binnekort tot ’n besluit kom en die stilte verbreek oor wie vir die voorgenome deelname aan die 2016 Curriebekerreeks aan die stuur van sake geplaas sal word.
Tegniese ontledings van die nasionale span se vertoning by die Wêreldbeker en indiepte besprekings met besluitnemers van die wêreldbeheerliggaam oor die volgende stap het in die laaste twee maande plaasgevind. Die eerste vrugte hiervan behoort binne die volgende twee weke vorm aan te neem.
MENTORS
Die 32-jarige Thompson het in ’n onderhoud metRepublikein gesê hy het baie ontwikkel sedert hy sowat vier jaar gelede tot afrigting toegetree het.
“As afrigter leer jy elke liewe dag. Jy moet altyd oop wees om te leer, anders sal jy beperk wees in jou vermoë om die regte inligting doeltreffend oor te dra. Ek was bevoorreg om mentors te hê wat ’n groot impak gemaak het.”
In die opbou na die 2015 Wêreldbeker het hy baie waarde geput uit die insette van die hoofafrigter Phil Davies van Wallis en die agterlyn-afrigter Pieter Rossouw, die gewese Springbokvleuel.
Tydens die toernooi het Thompson ook die kans gebruik om insiggewende gesprekke met die All Blacks se Steve Hansen (hoofafrigter) en Wayne Smith (hulpafrigter) aan te knoop.
“Die Wêreldbeker was vir my ’n openbaring oor wat afrigting op hoëprestasievlak werklik behels. Belowende deure vir die toekoms is ook geopen, soos toe Wayne Smith my genooi het om die Chiefs tydens hul voorbereiding vir Superrugby te kom besoek.”
Hy is die afgelope maande met sy Wêreldrugby vlak 3 afrigterskursus besig. Gedurende April 2016 kan hy ook Wêreldrugby se opvolgkursus vir nasionale afrigters bywoon en op vlak 3 geakkrediteer word, ná vroeër vanjaar se eerste kursus in Frankryk wat hy saam met afrigters van dwarsoor die wêreld bygewoon het.
WÊRELDBEKER
Die Namibiërs het grootliks met eer uit die stryd getree, hoewel Thompson in ’n mate teleurgesteld is dat die eerste linie van verdediging in die latere wedstryde nie op dieselfde standaard was as in die openingswedstryd teen die All Blacks nie.
“Van die manne het soms eenvoudige duikslae verbrou wat hulle elke ander dag reg sou uitgevoer het. Die een-op-een verdediging bly maar van deurslaggewende belang, want as jou verdedigingslyn eers op een plek deurgedring is, moet jou manne begin skarrel om die gate toe te stop.”
Thompson sê dit was nietemin indrukwekkend hoe spelers soos Torsten van Jaarsveld, Tinus du Plessis en Pieter-Jan van Lill tot aan die einde van die groepfase onder die mees aktiewe duikvatters in die toernooi getel het.
“Ons spelers se tegniek van een-op-een verdediging is ’n vaardigheidsoefening wat deurlopende aandag verdien. Die waarde van aggressiewe lynspoed en duikslae om die bene wat die opponent in sy spore stuit, is deur spanne soos Argentinië en Japan bewys. As dié benadering by ons ook ingeburger kan raak, sal ons vertonings net verder verbeter.
“Sterk verdediging skep geleentheid vir teenaanvalle, wat een van Namibië se tradisionele sterk punte is. Met drie drieë teen Tonga en nog drie teen Argentinië het ons dit bewys.”
Thompson sê hy het spesiale waardering dat sy werkgewer, die Windhoekse munisipaliteit, hom vrygestel het om sy pligte as lid van die nasionale afrigterspan voor en tydens die Wêreldbeker na te kom.
“Ek was geëerd om nie net my land nie, maar ook ons stad Windhoek te verteenwoordig. Ná al my reise na verskeie rugbybestemmings bly ek oortuig dat Windhoek een van die skoonste stede is.1396986481