Andrew Poolman - Theuns Kotzé se insluiting as een van die nuwe aanwinste van die Boland Kavaliers vir die komende seisoen is vandeesweek deur dié rugby-unie bevestig.
Die Namibiese losskakel het gister opgewonde aan die koerant bevestig dat hy ook sy Superrugby-kontrak ontvang het om vir die Kings te speel, wat een van sy doelwitte was.
“Ek sal (vandag) met die Boland begin praat om vrygestel te word om by die Superrugby-groep in die Oos-Kaap aan te sluit,” het hy laatmiddag laat weet.
Sedert verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland was sy toekomsplanne nie algemene kennis nie.
Die aanbiedinge wat hy van die Franse klub Lyon asook van die Engelse premierligaklub London Irish ontvang het, was in Oktober die laaste aanduidinge wat in die media verskyn het.
Kotzé en sy vrou Ané is egter in die Kaap woonagtig en met die lewe ná sy rugbyloopbaan in gedagte, het hy teen enige van die aanbiedinge uit Europa besluit. Hy het sedert 2012 sy klubrugby in Frankryk gespeel, insluitend sy laaste klub Bourg-en-Bresse.
Nog ’n sterk oorweging was sy ambisie om Superrugby te speel. Suid-Afrika se ses franchise-oefengroepe is reeds bekend gemaak, met die uitsondering van die Kings wat nog nie ’n voltallige groep gekontrakteer het nie.
In die afseisoen het ’n interessante benadering vanuit die geledere van Amerikaanse voetbalklubs ook in Kotzé se skoot beland. Die Namibiër se akkuraatheid as stelskopper – met sy trefpersentasie van 92.3% pale toe by die Wêreldbeker die hoogste in die ganse toernooi – het tot praatjies met die Dallas Cowboy gelei, hoewel geen amptelike aanbod uiteindelik gemaak is nie.
Namibië en die Boland speel hierdie seisoen beide in die Curriebeker en is bestem om mekaar op 25 Junie in die Wellington-stadion te ontmoet. Kotzé en die 20-jarige Adriaan Carelse, wat verlede jaar vir die Boland begin speel het, is die twee losskakels in die Kavaliers-groep wat onder die leiding van Brent Janse van Rensburg as hoofafrigter staan.
Kotzé het aan die koerant gesê sy ambisie bly om die Namibiese toetsspan vir die 2019 Wêreldbeker in Japan te help kwalifiseer.
Die komende Curriebeker bied egter ’n gulde geleentheid aan die land se ontluikende jong losskakels om hulself op ’n hoër vlak bekend te stel en hul merk te maak.
REKORDBREKER
Gedurende die 2015 Wêreldbeker het Kotzé by Jaco Coetzee (335, van 1990 tot 1995) verby geskuif as Namibië se voorste puntemaker in toetsrugby, met sy totaal wat tans op 344 staan.
Kotzé is ook die losskakel wat die meeste toetse nóg (28) vir Namibië begin het, afgesien van ’n enkele verskyning as plaasvervanger.
Coetzee het in sy dae in 18 toetse as losskakel en nege keer as heelagter opgedraf en was een keer ’n plaasvervanger.
Kotzé en Coetzee se rekords lyk baie soortgelyk in terme van toetse (29 teen 28) en toetsdrieë (vier teen ses). Kotzé (vyf) en Coetzee (drie) is ook die enigste Namibiese spelers wat met meer as ’n enkele skepdoel in ’n toetsloopbaan geslaag het.
Een nasionale punterekord wat egter nie agter een van dié twee se name staan nie, is vir die meeste punte in ’n enkele toets. Kotzé se meeste was 25 punte in verlede jaar se tweede toets teen Rusland, terwyl Coetzee in 1993 in Nairobi 30 punte teen Kenia opgestapel het.
Beide word egter oortref deur Justinus van der Westhuizen se drie drieë en nege doelskoppe (33 punte) teen Zambië in Windhoek in 2007.