Andrew Poolman - Vince Dreyer sal vanaf komende Maandag die enigste (en sover bekend die eerste) Namibiër wees wat die Internasionale Rugby-akademie se hoëprestasiekursus in Palmerston North, Nieu-Seeland gaan bywoon.
Oor die volgende twee weke sal ’n string bekende voormalige All Black-spelers soos Mike Brewer, Greg Somerville, Chris Jack, Rodney So’oialo, Murray Mexted, Justin Marshall, Eroni Clarke, Jeff Wilson en Christian Cullen insette by die kursus lewer.
Dit is benewens Graham Henry, Wayne Smith en Mike Cron uit die All Blacks se afrigterskorps van die laaste klompie jare.
Dreyer (37) is die direkteur van rugby en hoofafrigter van Windhoek Gimnasium se eerste rugbyspan, wat in 2014 vir die eerste keer die Momentum o.19 Superliga gewen het en die titel verlede jaar met ’n sege teen Tsumeb Gimnasium behou het.
Dreyer het tevore ook met die Namibiese o.18 Cravenweek- en o.20-spanne, asook die senior nasionale sewespan gewerk. Vanjaar sal hy ook Jood Opperman se agterlyn-afrigter vir Trustco United se eerste span wees. In sy speeldae was hy ook ’n heelagter en vleuel in vier toetse in 2002 en 2003.
“Dit was nogal ’n omvattende proses om aansoek te doen en vir hierdie kursus gekeur te word. Ek sien dit as ’n belangrike stap in my persoonlike ontwikkeling as rugby-afrigter, om dalk eendag geleenthede te kan aangryp om in die buiteland af te rig,” het Dreyer aan die koerant gesê voordat hy vandag na Kiwiland vertrek.
“Windhoek Gimnasium strewe om teen die top rugbyskole in Suid-Afrika te kan kompeteer en daarom is die ontwikkeling van ons afrigters baie belangrik.
“Nieu-Seeland is tans die leiers in wêreldrugby en die Windhoek Gimnasium Rugbytrust het dit goedgedink om by die bestes te gaan leer.
“Gimnasium se eerste rugbyspan het reeds twee taai kragmetings wat vir hulle voorlê wanneer ons op 12 Maart teen Paul Roos sal speel, en op 2 Mei teen Grey Kollege Port Elizabeth te staan kom. Dit is maar twee van die agt wedstryde wat die eerste span vanjaar in Suid-Afrika gaan speel.”
Met sy terugkoms in Windhoek sal Dreyer klinieke aanbied om al die nuutste tegnieke in afrigting aan Windhoek Gimnasium se afrigters oor te dra.
• Volgens sy webblad word die Internasionale Rugby-akademie beskou as ’n onmisbare deel van Nieu-Seeland se ontwikkeling van spelers en afrigters in die moderne era.
Vir afrigters bied die kursus die seldsame geleentheid om in ’n praktiese omgewing intensief met van die beste afrigters ter wêreld te werk.
Spesialiste in elke speelposisie lewer ontledende insette om lig te werp op die rolle, verantwoordelikhede, vaardighede, tegniek en die liggaamlike en verstandelike vereistes wat spelers op die hoogste vlak nodig het.
Dreyer leer by bestes in Kiwiland