Christo Buchner - Die Haaie se twee Springbok-aanwinste uit die Vrystaat, die heelagter Willie le Roux en die stut Coenie Oosthuizen, is albei in die toergroep wat gister na Frankryk vertrek het vir opwarmingswedstryde teen Toulon en Toulouse.
Die voormalige Stormers- en Westelike Provinsie-slot Ruan Botha sal ook die eerste keer in die Haaie se trui gesien word.
Gary Gold, die hoofafrigter, het Vrydag ’n groep van 32 spelers vir die besoek aan Frankryk aangekondig.
Nog ’n nuwe gesig in die Haaie se toergroep is die Namibiese senter Johan Deysel.
Renaldo Bothma (nog ’n Namibiër), JP Pietersen en die flank/slot-aanwins van die Waratahs, Jacques Potgieter, is nie oorweeg nie nadat hulle tot onlangs nog in Japan gespeel het.
Spelers wat nog besig is met rehabilitasie ná beserings en nie oorweeg is vir die toer nie, is Dale Chadwick, Stephan Lewies, Thomas du Toit, Tera Mtembu en Jean Deysel.
Naas die kaptein, Patrick Lambie, is die jong Garth April, wat aan die einde van verlede jaar se Curriebeker-seisoen speelkans gekry het, die ander losskakel in die groep.
Gold sê die Haaie het ’n goeie voorseisoen gehad en is baie gretig om sekere kombinasies op die proef te stel tydens hul toer.
Die Haaie speel Vrydag teen Toulon en op 11 Februarie teen Toulouse.
Die Haaie se toergroep:
Voorspelers: Coenie Oosthuizen, Gerhard Engelbrecht, Juan Schoeman, Lourens Adriaanse, Tendai Mtawarira, Franco Marais, Kyle Cooper, Dave McDuling, Etienne Oosthuizen, Hyron Andrews, Ruan Botha, Christiaan de Bruin, Daniel du Preez, Francois Kleinhans, Jean-Luc du Preez, Marcell Coetzee, Philip van der Walt.
Agterspelers: Cobus Reinach, Michael Claassens, Stefan Ungerer, Pat Lambie, Garth April, André Esterhuizen, Heimar Williams, Johan Deysel, Paul Jordaan, Joe Pietersen, Lwazi Mvovo, Odwa Ndungane, S’bura Sithole, Wandile Mjekevu, Willie le Roux.-Netwerk24
Deysel saam met Haaie na Frankryk