Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Kus se klubs skud hul vere reg

$
0
0
Kus se klubs skud hul vere reg

Des Erasmus - Op die drumpel van die 2016-seisoen is rugby op die kusdorpe Walvisbaai en Swakopmund op en wakker. Die Walvisbaai-rugbyklub en Dolphin van Swakopmund het nou soos die West Coast Sharks van Swakopmund en Kudus van Walvisbaai aangekondig hulle is gereed vir die seisoen wat voorlê.
Op Swakopmund het Rathan Coetzee, spanbestuurder van Dolphin, beklemtoon die klub het steeds sy oog op die premierliga van Namibiese rugby. Dolphin sou verlede jaar in die hoogste liga van die land se klubrugby speel, maar weens die vertrek van verskeie spelers moes afbeweeg word na die eerste liga. Daar het Dolphin die eindstryd teen Mariental gehaal, maar die wegwedstryd verloor.
Soos die West Coast Sharks wil Dolphin vanjaar betrokke raak by rugby vir die jong klomp. Volgens Coetzee verdien skolespanne om groter blootstelling te kry. Terselfdertyd word ook na groter betrokkenheid deur die gemeenskap by rugby gestreef.
Die klub het ook verskeie nuwe spelers in sy geledere verwelkom. Onder hulle is Fernando Wohler, Quinton Fielding, Virgil Bampton, Percy Nash, Craig Swartz, Marvin Miller, Torasio Corza en Michael Himmel.
Eben Izaacs, wat as slot in twee Wêreldbekers gespeel het, is Dolphin se afrigter. Kluboefeninge is Maandae en Donderdae van 18:30 tot om 20:00.

WALVISBAAI
Walvisbaai mik steeds na die titel van kampioene van die eerste liga nadat die span verlede jaar lank die voorloper en onoorwonne in die kompetisie was.
Nico van der Westhuizen, afrigter van Walvisbaai, sê vanjaar gaan dié span die wenners van die NRU eerste liga wees. Walvisbaai is verlede jaar in die halfeindstryd van die eerste liga met 20-17 deur Dolphin uitgeskakel.
Intussen was onderhandelinge tussen Walvisbaai en die munisipaliteit suksesvol om die geriewe van die klubsaal by die Jan Wilken-stadion te benut. Die klub is reeds met verbeterings by die klubsaal besig.
“Dit moet ’n plek wees waar Walvisbaaiers ná groot wedstryde of harde werksdae kan ontspan,” sê Van der Westhuizen.
Walvisbaai het drie oefendae per week – Maandae, Dinsdae en Donderdae van 18:00 tot om 19:30.

Tags: 
Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263