Die Namibiese Rugbyskeidsregtersvereniging het sy eerste jaarlikse kursus twee naweke gelede by West Nest Lodge aangebied wat deur 18 beamptes bygewoon is.
Die arbiters se reëlkennis is gedurende die naweek op die proef gestel en hulle is ook aan ’n verpligte fiksheidstoets onderwerp. Die kursus is deur William Steenkamp aangebied op dieselfde vlak as wat deur hul Suid-Afrikaanse eweknieë die vorige maand in Kaapstad gedoen was, wat Steenkamp ook bygewoon het.
Reëlveranderinge vir die 2016-seisoen is in diepte bespreek en praktiese sessies is gehou om duidelikheid aan die beamptes oor elke nuwe toepassing te gee. Die skeidsregtersvereniging beplan om soveel klubs en skole moontlik te besoek om lig op die nuwe reëls te werp.
Die eerste ope inligtingsessie is vandag om 18:00 by die Hage Geingob-stadion. Alle afrigters van klubs en skole word deur mnr. Jacky Husselmann, voorsitter van die skeidsregtersvereniging, genooi om hulself op die hoogte van sake te bring.
KURSUSSE
Die skeidsregtersvereniging sal oor die volgende paar maande verskeie vlak 1 kursusse vir wedstrydbeamptes dwarsoor Namibië aanbied. Die eerste by die Hage Geingob-stadion begin komende Vrydag om 18:00 en sal Saterdag om 09:00 voortgesit word.
Persone wat belangstel om die kursus by te woon, kan Husselmann by chairman@nrrs.com.na of 081 100 2130 kontak. Steenkamp kan ook by 081 127 1862 of sd@mtcmobile.com.na bereik word.
Die vlak 1-kursusse sal op die volgende datums aangebied word: Swakopmund/Walvisbaai 26 en 27 Februarie; Lüderitz 4 en 5 Maart, Otjiwarongo 11 en 12 Maart. ’n Vlak 2-kursus word op 18 en 19 Maart op Walvisbaai slegs vir genooide beamptes gehou.
Williams sal ook elke Woensdag ’n sessie by die Hage Geingob-stadion aanbied om die vertolking en toepassing van die reëls duideliker te maak. Die publiek is welkom om dit by te woon, hoewel in Maart spesifiek vir rugbyliefhebbers voorsiening gemaak is om reëlslim te word.
Elke laaste Woensdag van die maand (18:30) word spesiaal vir afrigters opsy gesit om onduidelikhede betreffende die reëls op te los. Enige navrae kan aan William Steenkamp deur afrigters gerig word om hulle behulpsaam te wees. Indien videomateriaal beskikbaar is, sal dit ingespan word om sake te vergemaklik.
NUUTSTE REËLVERANDERINGE
1. Wanneer ’n rolmaalbeweging (“maul”) gevorm word, kan die bal van voor na agter met die hande aangegee word. Die baldraer mag nie sywaarts of na die agterpunt van die rolmaalbeweging beweeg of skuif nie. Indien dit gebeur, moet hy van die maalbeweging af wegbreek.
2. Wanneer ’n vaste skrum meer as 90 grade swaai en die skeidsregter kan nie bepaal watter span die swaai veroorsaak het nie, sal die span wat die vorige ingooi gehad het, dit behou. Die ingooi word dus nie meer aan die opponente toegeken nie.
3. ’n Verdedigende skrumskakel mag by skrums nie meer in die gaping tussen die agsteman of flank inbeweeg of aan hulle raak om druk toe te pas nie. Sy onkantlyn bly steeds agter die bal.
4. Die tydperk waarin ’n stelskop na die pale gemik kan word, is tot 60 sekondes verminder. Die aftelling begin sodra die drie of strafskop toegeken is.
5. Wanneer ’n strafskop toegeken is en speeltyd is verstreke, of die sirene vir rustyd het geblaas, mag die span na die kantlyn skop om ’n lynstaan af te dwing wat voltooi moet word.
6. ’n Speler wat binne die speelveld spring, ’n bal vang wat nog nie oor die kantlyn is nie en buite die veld grondvat, het die bal oor die lyn gedra.
7. ’n Speler wat binne die speelveld spring, ’n bal vang wat reeds oor die kantlyn is en buite die veld grondvat, het die bal oor die lyn gedra.
8. Speler X staan met beide voete binne die speelveld en strek oor die kantlyn om die bal te vang, dit glip uit sy hande en val buite die speelgebied. Speler X het die bal oor die lyn gedra, al was dit reeds oor die lyn.
9. ’n Speler spring buite die veld om ’n bal te vang wat reeds oor die kantlyn is en hy land binne die speelgebied. Beslissing: die bal was uit en is nie deur die speler uitgeneem nie.
10. ’n Speler staan buite die speelveld, spring om ’n bal te vang wat nog nie oor die kantlyn getrek het nie en land binne die speelgebied. Beslissing: die bal is in spel.
11. ’n Agtsteman mag nie meer sy bindposisie by ’n skrum verander nie. Hy moet in dieselfde kanaal bly soos die skrum gevorm is totdat die bal uit is. Dié reël geld nie in skolerugby nie.