Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all 263 articles
Browse latest View live

McGrath droom steeds oor terugkeer

$
0
0
McGrath droom steeds oor terugkeer

Andrew Poolman - Hy het nog nooit sy droom begrawe om dalk eendag weer die Namibiese toetstrui oor sy kop te trek nie, sê die vleuel McGrath van Wyk.

Van Wyk was in 2011 die enigste lid van die Namibiese spelersgroep wat geen wedstryd by die Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland gespeel het nie. Hy het daarna kans gekry om klubrugby in Roemenië te gaan speel voordat hy die afgelope jaar of twee 'n staatmaker vir sy Engelse klub geword het.

Die 29-jarige vleuel is in die 2014-'15 seisoen as Derby Rugbyklub se speler van die seisoen aangewys. Hy het met 29 drieë in 27 wedstryde 'n nuwe klubrekord opgestel en het ook heelwat punte as een van die stelskoppers aangeteken.

Die gebore Windhoeker wat sy skoolloopbaan by Dr. Lemmer op Rehoboth voltooi het, het aanvanklik as 'n veelsydige agterspeler van Western Suburbs na vore getree. Tussen 2009 en 2011 het hy in nege toetse vir die nasionale span gespeel (twee keer vanaf die reserwebank) waarin hy twee drieë gedruk het.

Sy ervaring van die 2011 Wêreldbeker was teleurstellend, maar hy sê hy het aanbeweeg en koester geen wrokke nie.

Ná die Wêreldbeker was hy een van 'n hand vol Namibiërs wat die kans aangegryp het om klubrugby in Roemenië te gaan speel. Van Wyk het vyf jaar hier deurgebring en het ook sy Roemeense vrou Angela daar ontmoet.

“In my eerste jaar by Farul Constanta het ons die liga gewen en ek was ook daardie seisoen die klub se voorste driedrukker.

“ Die volgende seisoen het ek aanbeweeg na 'n ander klub, Timisoara, waar ek twee jaar gespeel het. Chester Williams was die hoofafrigter daar.

“In Roemenië speel 'n klomp Fidjiane, Tongane en Nieu-Seelanders en die meeste klubs het baie bekwame afrigters aan die stuur. Die rugby is dus baie hard en dit was nie maklik om jou plek in die span te behou nie, maar ek het baie daar geleer.”

Van Wyk het hom verlede jaar by Derby aangesluit wat in die sentrale deel van Engeland naby Nottingham geleë is en in die Engelse nasionale binnelandse derde liga speel.

“Derby-klub het vir my 'n werk gekry (in inligtingstegnologie) en hulle behandel my en my vrou baie goed. Dis 'n wonderlike klub en almal is soos familie hier; hulle wil nie hê ek moet hier weggaan nie.

“Dalk kom kuier ek so teen Junie weer in Windhoek om darem nog vir oulaas 'n wedstryd of twee vir Suburbs te speel.

“Namibië bly my land en ek is baie trots om te sê ek is 'n Namibiër en dat ek vir my land kon speel. Uit my hart sal ek bitter graag weer vir Namibië wil speel – maak nie saak of dit vyftien- of sewesrugby is nie, 'n man bly droom maar dat jy daai oproep of e-pos kry wat jou 'n kans gun.”

Op 90 kilogram is Van Wyk deesdae stewiger as die 82 kg toe hy 'n klompie seisoene gelede die laaste keer vir Namibië gespeel het.

Vir nou bly sy fokus daarop gerig om Derby te help om die seisoen in een van die topvier posisies af te sluit wat sal beteken dat hulle in Mei nog in die halfeindronde betrokke sal wees. Hul volgende wedstryd is komende naweek teen Sheffield.

Rugbyskrywers het Van Wyk geprys vir sy individuele drie toe die span 'n week voor Kersfees net-net met 22-24 met Sandbach verloor het.

Die Namibiër het 'n skop teen die kantlyn gevang en met 'n teenaanval begin, een verdediger met 'n lugskoppie geklop en toe die resies hoekvlag toe gewen. Die besoekers het egter laaste gelag toe 'n strafskop kort voor die einde deur die pale geseil het.

Tags: 
Andrew Poolman

Rugbyspelers se sukses word ondergrawe

$
0
0
Rugbyspelers se sukses word ondergrawe

Andrew Poolman - Die saak van die groep beswaarde rugbyklubs het laas naweek verder veld verloor met die mees ooglopende openbaring nóg dat hulle nie op dieselfde bladsy as die spelers is vir wie hulle veronderstel is om te verteenwoordig nie.

Bestuurslede van die beswaarde klubs het Saterdag (asook vooraf) ’n dreigende houding ingeneem toe van hul spelers die nasionale sewesproewe van die Namibië Rugby-unie bygewoon het.

Rugbyspelers van al die prominente klubs het die proewe en oefenkamp bygewoon wat met die oog op voorbereiding vir die Hongkong Sewes in Aprilmaand gehou is. Dit sluit spelers van die Universiteit van Namibië, Western Suburbs, Kudus en Reho Falcon in wat tesame met Rehoboth Rugbyklub, Dolphin, NUST, Keetmanshoop en die vroueklub Reho Pandas die beswaarde groep vorm.

Die beswaarde groep het in middel-November sy protesaksie verskerp deur die NRU in te lig dat spelers van dié klubs nie aan enige bedrywighede van die NRU sal deelneem totdat die saak bevredigend opgelos is nie. Hul besware sluit onder meer tekortkominge in die NRU se grondwet en beleidsriglyne in.

Saterdag het verskeie spelers van die genoemde klubs aanvanklik huiwerig as toeskouers op die pawiljoen gaan sit, maar het algaande toestemming gevra om by die proewe aan te sluit namate hulle gesien het hoe meer en meer van hul klubmaats deelneem.

Spelers van die Universiteit van Namibië is laat verlede week met tugstappe deur die rugbyklub en moontlik selfs die universiteit se regsafdeling gedreig indien hulle voortgaan om aan proewe of oefensessies van die NRU deel te neem.

Die “skuldiges” is met teksboodskappe daaraan herinner dat hulle by die rugbyklub gekontrakteer is en dat hulle geldelike boetes opgelê kan word of hul kontrakte kan verloor.

’n Nasionale sewesspeler van 2016 soos Lesley Klim van Unam was ook op die pawiljoen as toeskouer, maar met geen rugbystewels in sig nie. By navraag het hy aan die koerant gesê dat hy nie tans in sewesrugby belang stel nie, maar dat sy fokus op goeie vertonings in vanjaar se Curriebekerreeks is. Laasgenoemde is uiteraard ook ’n NRU-aangeleentheid.

Uit die kaliber eerstespanspelers van Unam wat die nasionale proewe bygewoon het en wat sedert Desember ook saam met die vyftienman-oefengroep in die gimnasium oefen, kan die Unam-rugbybestuur hulle in ’n dilemma bevind.

Unam sal sekerlik nie uitermate streng wil optree teen die kerngroep spelers wat hulle in 2016 gehelp het om beide die premierliga én die eerste liga te wen – en hulle sodoende verjaag om dalk by ’n opponerende klub te gaan aansluit nie.

Vir die onthalwe van Namibiese rugby is dit in niemand se belang vir die baadjiedraers aan beide kante om spelers enigsins dieper by hul onderlinge meningsverskille te betrek as wat huidig die geval is nie.

PAD VORENTOE

In watter posisie laat die naweek se verwikkelinge die beswaarde groep?

Die beswaardes het die afgelope maande by meer as een geskeduleerde vergadering nie opgedaag om hul kant van die saak te stel, of om hul dispuut met die NRU op te klaar nie.

So sleep die sage reeds vir maande voort, sonder sigbare tekens van enige dringendheid om die atmosfeer te normaliseer en te verhinder dat verdere skade aan die openbare beeld van Namibiese rugby aangerig word. Die November-vensterperiode vir toetsrugby het ook vir Namibië in stilte en sonder wedstryde verbygegaan.

Die realiteite is dat die beswaarde groep hom in ’n doodloopstraat bevind deurdat die Namibië Rugby-unie die enigste nasionale beheerliggaam aan die stuur van die sport is wat erkenning van Wêreldrugby, die regering en ander toepaslike rolspelers geniet. Enige oorwegings van ’n formele wegbreekaksie sal met die implikasies van hierdie feit moet rekening hou.

Intussen is die regsgeleerde Norman Tjombe laat verlede jaar deur die Namibiese Sportkommissie aangestel om die saak te ondersoek. Die koerant kon tot dusver nie vasstel of enige datums vir vergaderings ter bemiddeling geskeduleer is nie.

Die NRU is wel besig om ’n datum vir sy algemene jaarvergadering vas te stel, wat volgens aanduidinge binne die volgende vier maande sal geskied.

Tags: 
Andrew Poolman

‘Regte visie is nou nodig’ – Bougard

$
0
0
‘Regte visie is nou nodig’ – Bougard

Andrew Poolman - Sonder om kant te kies, het die rugby-afrigter Les Bougard gister sy kommer uitgespreek oor die gesindheid waarmee die voortslepende politieke onmin in Namibiese rugby aangepak word.

Bougard het gesê die tyd behoort verby te wees vir die groep beswaarde klubs en die Namibië Rugby-unie om net na mekaar vinger te wys en die ander party vir ’n gebrek aan gesprekvoering te beskuldig.

Ware leierskap, sonder om deur ego of persoonlike agendas aangedryf te word, is tans nodig om die skaakmat tussen die NRU en die klubs op te los.

“Hierdie is nie ’n sterkmankompetisie of ’n toutrekkery nie. Ons is almal in dieselfde bootjie en ons is partye wat afhanklik van mekaar is en wat vorentoe steeds moet saamwerk.

“As elkeen sy bors wil uitsteek en oor ander wil baas speel en sy eie posisie wil beskerm, doen dit niemand goed nie. Rugby behoort aan ons almal wat lief is daarvoor en dis ons land se beeld wat op die spel is. Dit is nou tyd om op die regte dinge te fokus.”

Bougard sê die beswaarde klubs behoort hulle kant van die saak duidelik aan die rugbypubliek uit te spel, sodat elkeen kan oordeel wie is reg.

Die feit dat die Rugby-unie se ligas die afgelope jare sonder ’n borg vir klubs se onkoste of prysgeld aan die presteerders oor die weg kom, behoort een van die prioriteite vir alle rolspelers te wees. Hy is van mening dat geld “altyd en oral” beskikbaar vir goeie doelstellings met die regte visie sal wees.

“Dit help nie ons skep die omstandighede vir konflik nie. Ons moet die omgewing skep vir wat ons wel wil hê moet gebeur.

“Daar is ’n les te leer uit die drie beginsels wat Nieu-Seeland opgestel het in ’n stadium toe hulle ook ’n keerpunt bereik het: Respek vir medespelers, respek vir die stelsel en werketiek om te doen wat gedoen moet word – sonder uitstel.”

SEWESRUGBY

Bougard was tot in 2015 afrigter van die Namibiese sewesspan en het verlede jaar ook die Tisan-studentespan oorsee geneem.

Hy het sy bereidwilligheid verklaar om sy ervaring met sy opvolgers te deel – al het niemand hom ooit hieroor genader nie.

“Ons moenie so gou wees om beskikbare ondervinding bloot weg te smyt nie. Ek het ook al jare gelede my kop gestamp en lesse geleer. So stel ons altyd nuwe mense aan wat dan van voor af op dieselfde plekke struikel. Ons span se vertoning by die Safland Sewes in November was nie noodwendig ’n tree vorentoe nie.

“Die siklus herhaal hom net, dat elke nuwe afrigter ’n ruk neem om sy voete te vind en juis dán afgedank en vervang word. Daar is nie kontinuïteit in ons stelsel van afrigters nie. Ek hoef nie eens van die persoon te hou nie – solank die samewerking tot voordeel van die land se rugby is. Die plan wat ek voorgelê het om sewesrugby van grondvlak af te bevorder en waar ons spelers vandaan moet kry, lê seker iewers en stof vergader.

“Ons boer agteruit omdat ons net oor ons eie selfsugtige agendas besorg is en nie genoeg respek vir mekaar wys nie. Ons getal klubs landwyd word die afgelope jare minder – nie méér nie. Watter ontwikkeling gebeur in die noorde van die land? Of die ooste, waar die groot geboude Herero’s rondloop?

“Ons moet begin omgee dat ons rugby nie verrot raak sonder visie, sonder trots en sonder die wil om te presteer nie.”

Tags: 
Andrew Poolman

Uruguay wag vir Namibiese toerspanne

$
0
0
Uruguay wag vir Namibiese toerspanne

Andrew Poolman - Rugbyspelers van Namibië behoort voor die einde van 2017 eerstehands vertroud met Montevideo, die hoofstad van Uruguay, te wees. Beide die senior nasionale toetsspan en die o.20-span is bestem om vanjaar besoeke aan dié Suid-Amerikaanse land te bring.

Namibië is opnuut genooi om vanjaar aan Wêreldrugby se Nasiesbekertoernooi deel te neem wat vir die eerste keer in Uruguay aangebied sal word. Die bevestiging kom van die Namibië Rugby-unie (NRU) se waarnemende hoof uitvoerende beampte, me. Elizma Theron.

Die toernooi vir ontluikende lande is in sy eerste jaar (2006) in Portugal aangebied, met die daaropvolgende tien jare se toernooie wat in Boekarest, Roemenië gehou is. Namibië het in 2010 onder afrigterskap van Johan Diergaardt 'n gedenkwaardige triomf in die toernooi behaal met oorwinnings teen die gasheerspan, Georgië en Skotland se A-span.

Verlede jaar het Namibië onder kapteinskap van die agtsteman Renaldo Bothma derde uit die ses spanne klaargemaak met tien ligapunte – 'n kortkop agter die Argentinië XV (10) en Roemenië (13).

Dit was ná Namibië se openingsnederlaag met 20-8 teen Roemenië, gevolg deur 'n riller van 'n sege met die laaste beweging teen Spanje (34-32) en 'n opwindende oorwinning met 38-26 teen Ontluikende Italië.

In Junie vanjaar is die Namibiërs opnuut saam met Spanje, Ontluikende Italië en Rusland gegroepeer. Laasgenoemde beloof ook 'n goed gebalanseerde wedstryd, ondanks die Russe se 2-0 reeksnederlaag in Windhoek twee jaar gelede.

Meer as 'n dekade-en-'n-half het al verloop vandat 'n Namibiese span laas in Uruguay getoer het. Die land se rugby was in 2000 op 'n redelike laagtepunt vanweë interne struwelinge. Afrigter Sarel Losper en kaptein Henk Botha se toerspan het die enigste toets in Montevideo met 23-12 verloor.

AFRIKA-BEKER

Gedurende Julie vanjaar sal Namibië ook sy titel as die Konfederasie van Afrika-rugby (KAR) se kampioen van die laaste drie seisoene verdedig.

Die 2017-weergawe is tot ses spanne vergroot – eerder as net vier, soos in die laaste twee jare. Die toernooi is kort en kragtig, met Namibië wat sy wedstryde op vyf agtereenvolgende naweke sal speel.

Afrigter Phil Davies se span sal in die kontinentale kompetisie teen Uganda, Tunisië, Zimbabwe, Senegal en Kenia opgeweeg word. Eersgenoemde twee spanne sal die tuisvoordeel geniet – met Uganda wat verlede jaar groot respek ingewin het toe hul span in Kampala met verreweg die kleinste punteverskil van enige opponent laasjaar (net nege punte) teen Namibië verloor het.

Die jaarprogram in KAR se “Goue afdeling” is:

24 Junie: Kenia tn Uganda in Nairobi; Senegal tn Zimbabwe in Dakar.

1 Julie: Tunisië tn Namibië in Monastir (Tunisië); Senegal tn Uganda in Dakar.

8 Julie: Kenia tn Tunisië in Nairobi; Namibië tn Senegal in Windhoek.

15 Julie: Kenia tn Senegal in Nairobi; Uganda tn Tunisië in Kampala; Namibië tn Zimbabwe in Windhoek.

22 Julie: Uganda tn Namibië in Kampala; Zimbabwe tn Kenia in Bulawayo.

29 Julie: Zimbabwe tn Tunisië in Harare; Namibië tn Kenia in Windhoek.

5 Augustus: Uganda tn Zimbabwe in Kampala; Tunisië tn Senegal in Monastir.

• In KAR se “Silwer beker” (B-afdeling) sal Madagaskar, Ivoorkus, Botswana en Marokko sake uitspook, terwyl die “Brons beker” se kompetisie uit Nigerië, Kameroen, Algerië, Zambië, Mauritius en Rwanda bestaan.

• In November vanjaar sal die KAR Afrika-beker in sewesrugby ook betwis word. Twee spanne moet nog bygevoeg word om die getal spanne op twaalf te staan te bring. Die bevestigde spanne sover is Uganda, Namibië, Kenia, Madagaskar, Zimbabwe, Tunisië, Nigerië, Marokko, Senegal en Botswana.

Namibië is ook bestem om sy vrouesewesspan na die kontinentale kampioenskap te stuur, hoewel die datum en plek nog nie bevestig is nie.

O.20-RUGBY

Die Namibiese junior span van afrigter Roger Thompson het opnuut hul plek bespreek om vanjaar in die Wêreldrugby Junior Trofee-toernooi mee te ding, waarin hulle verlede jaar hul beste eindposisie in etlike jare (vierde) bereik het.

Hierdie internasionale o.20-toernooi word vanjaar ook in Uruguay gespeel, maar is vanaf sy gebruiklike April-gleuf uitgestel om nou in Augustus gespeel te word.

Proewe vir o.20-spelers met Namibiese burgerskap en gebore in 1997 of 1998 word komende Saterdag in die Hage Geingob-stadion gehou.

Tags: 
Andrew Poolman

Pasaangeërs reg vir volgende stryd

$
0
0
Pasaangeërs reg vir volgende stryd

Andrew Poolman - Die verdedigende kampioen FNB Unam – of soos hulle verkies om genoem te word, die heersende kampioen – kry môre vir die eerste keer hierdie seisoen die tuisvoordeel van hul ondersteunersgroep die “Red Army” wanneer Rehoboth Rugbyklub daar besoek aflê.

Gaan die twee finaliste van die laaste twee jare, Unam en FNB Wanderers, die naweek verder weghardloop aan die bopunt van die puntelys van die Namibië Rugby-unie se premierliga? Of kan ’n verrassing opduik voordat dié twee bulspanne mekaar juis aanstaande naweek (1 April) in die oë kyk?

Afrigter Johan Diergaardt se studentespan het sover in twee wegwedstryde in Khomasdal en in Narraville op koers gebly, met net punteverskil wat hulle in die tweede plek op die puntelys plaas.

“Ons is die naweek sonder vyf spelers wat in die Curriebeker oefengroep is en nog ’n paar nasionale sewesspelers, terwyl Chess Lawrence (vleuel) en Desidarius Sethie (stut) laas naweek teen Kudus beserings opgedoen het,” vertel Diergaardt.

Volgens hom sal sy span dit nie waag om Rehoboth te onderskat nie. Daarom is die beste beskikbare span in die veld gestoot wat gewis nie vreemd vir mekaar is in vergelyking met die groep wat laas jaar die NRU se premierliga- en reserweliga-eindstryde gewen het nie.

Die flank Renaud van Neel is ook voluit terug in aksie nadat hy ’n paar maande klubrugby in Engeland gespeel het. Volgens Diergaardt is hy stelselmatig vanuit die tweede span bevorder tot ’n verskyning van 40 minute in die eerste span. Die Wêreldbeker-speler van 2011 vertoon glo selfs beter as voordat hy weg is.

Die Unam-afrigter volhard ook met sy (tot dusver suksesvolle) eksperiment met Denver Murorua as die losskakel in sy beginspan. Murorua was tot dusver bekend as ’n vleuel wat tevore vir die nasionale o.20’s gespeel het.

FNB Unam: 1 Frank Mowa, 2 Obert Nortje, 3 Tjino Tjirare, 4 Mahepisa Tjeriko, 5 Rheinhardt Carelse, 6 Renaud van Neel, 7 Freddy Puriza, 8 Bradley Klazen (kapt), 9 Sunday Haitembu, 10 Denver Murorua, 11 Donavan Kandjii, 12 Camlo Martin, 13 Milaan van Wyk, 14 Silvano Beukes, 15 Lorenzo Louis.

Reserwes: Marino Goagoseb, Luan Esterhuizen, Berry Ngande, Simon Haitembu, Cameron Klassen, Rodney Coetzee, Luis Talaya.

KRITZINGER LEI WANDERERS

Die voorlopers Wanderers het ’n taai ontmoeting teen FNB Western Suburbs in die vooruitsig. Dit is die Wit Hingste se derde tuiswedstryd op ’n streep, maar môre sal reeds hul derde kaptein ingespan word.

Die skrumskakel Enem Kritzinger neem oor by die flank Rohan Kitshoff en senter Francois Wiese, wat beide onbeskikbaar is om vir die Curriebeker-seisoen voor te berei.

Wanderers se vorige oorwinnings was teen Trustco United en Walvisbaai.

FNB Wanderers: 1 Nian Berg, 2 Christie du Plessis, 3 Andries Rousseau, 4 Gert Henning, 5 Kevin Vorster (o.kapt), 6 DG Wiese, 7 Dirk de Meyer, 8 Adriaan Booysen, 9 Enem Kritzinger (kapt), 10 MP Pretorius, 11 Zaynor Platt, 12 Ethan Beukes, 13 Shawn Thomas, 14 Deselvano Beukes, 15 Léan Stoop.

Reserwes: Francois Heydenrych, Adriaan (Wors) Engelbrecht, John-Michael Richter, Driaan Vorster, Cody la Cock, André Visser, Keanen Titus.

• Twee kusspanne is beide op reis vir môre se ander twee wedstryde. Walvisbaai lê by Trusto United besoek af, terwyl Kudus die reis na Reho Falcon aanpak.

Die huidige puntestand (in volgorde van wedstryde gespeel, gewen, verloor, punte vir en teen, bonuspunte, ligapunte):

Wanderers 2 2 0 82 21 3 11

Unam 2 2 0 74 42 3 11

W. Suburbs 2 1 1 61 58 2 6

Rehoboth 2 1 1 56 57 2 6

United 2 1 1 37 39 0 4

Kudus 2 1 1 42 72 0 4

Reho Falcon 2 0 2 24 46 1 1

Walvisbaai 2 0 2 30 71 1 1

Tags: 
Andrew Poolman

Ontmoet die spanlede na Hongkong

$
0
0
Ontmoet die spanlede na Hongkong

HANDRÉ BEZUIDENHOUT

Gebore: 22 Februarie 1994 (23 jaar)

89 kg, 1,82 m

Trustco United

MARTIN CRONJÉ

Gebore: 27 Augustus 1988 (28 jaar)

90 kg, 1,78 m

Trustco United

JANRY DU TOIT

Gebore: 26 Augustus 1997 (19 jaar)

90 kg, 1,78 m

WP Rugby-akademie

GEORG NIEHAUS

Gebore: 30 April 1997 (19 jaar)

92 kg, 1,86 m

Universiteit van Potchefstroom

RICARDO SWARTZ

Gebore: 9 Februarie 1994 (23 jaar)

82 kg, 1,75 m

FNB Western Suburbs

HELARIUS (TC) KISTING

Gebore: 13 Januarie 1994 (23 jaar)

80 kg, 1,83 m

FNB Unam

JEAN (JR) JACOBS

Gebore: 11 Februarie 1994 (23 jaar)

75 kg, 1,83 m

Walvisbaai Rugbyklub

LLOYD JACOBS

Gebore: 17 Februarie 1993 (24 jaar)

83 kg, 1.81 m

Walvisbaai Rugbyklub

LÉAN STOOP

Gebore: 18 Februarie 1987 (30 jaar)

91 kg, 1.81 m

FNB Wanderers

SHAREAVE TITUS

Gebore: 23 Mei 1995 (21 jaar)

76 kg, 1,75 m

FNB Unam

NANDIVATU KARUUOMBE

Gebore: 10 April 1992 (24 jaar)

81 kg, 1,86 m

Trustco United

CLIVEN LOUBSER

Gebore: 24 Februarie 1997 (20 jaar)

90 kg, 1,76 m

Sharks rugby-akademie

Tags: 
Andrew Poolman

Unam speel die twyfelaars tjoepstil

$
0
0
Unam speel die twyfelaars tjoepstil

Andrew Poolman - Die FNB Universiteit van Namibië het een van die beste oorwinnings in sy geskiedenis behaal toe hy FNB Wanderers in 'n dramatiese wedstryd aan die bopunt van die NRU premierliga met 32-31 geklop het.

Soveel stukkies spel aan beide kante kon sake anders laat verloop het, maar vir afrigter Johan Diergaardt se Unam-span bly loop alles eenvoudig seepglad, met die verdedigende kampioene se 17de oorwinning op 'n streep.

Die manier hoe die studenteklub in die laaste drie seisoene uit middelmatigheid tot sy huidige hoedanigheid omskep is, spreek baie van die harde werk van mense soos Diergaardt, Werner Jeffery, Christie Windvogel (voorsitter), Greg Olivier en Ryno Visagie (spanbestuurders) en Russell van Rooi (agterlyn-afrigter), om net 'n paar te noem.

Wanderers het bykans 'n span van Curriebeker-gehalte in die veld gestoot en het in die eerste helfte na voorspronge van 19-5 en 24-8 gestorm, voordat Unam met sy stelselmatige terugvegpoging vorendag gekom het.

Die onvermoë van die Wit Hingste om so 'n sekere oorwinning te verseël, behoort vir baie stof tot nadenke te sorg. Swak plekke op die verdediging en ewe twyfelagtige besluitneming dat skopbare strafskoppe eerder kantlyn toe gemik is, het Rohan Kitshoff se span duur te staan gekom.

Die senter Lesley Klim het sy groeiende aansien as die mees plofbare Namibiese senter-vooruitsig in jare versterk met nog 'n briljante vertoning. Selfs onbedoelde aangeë het reg in sy pad beland en hy was deurgaans 'n gevaar.

Klim se eerste drie was dalk opportunisties, toe 'n Wanderers-aangee op die grond beland het en hy dit kon deurskop en gaan druk. Maar sy tweede drie was 'n individuele meesterstuk toe hy twee voorspelers voor hom in die lug laat gryp het om vanuit sy eie helfte die naelloop hoekvlag toe te wen.

Soos verwag was die Namibiese los­skakel Theuns Kotzé se uitgeslape taktiese skopvoet vir die eerste uur of wat 'n groot faktor om sy span se kragtige agttal op die voorvoet te hou – ondanks die openbaring dat sy kondisionering nog nie op die verwagte vlak is nie.

Rustyd was Wanderers met 24-15 voor. Dit was die gevolg van twee drieë elk deur linkervleuel Deselvano Beukes en buitesenter JC Greyling, plus twee doelskoppe deur Kotzé. Dit was teenoor Klim se twee drieë en 'n doelskop en strafdoel deur heelagter Lorenzo Louis.

Vreemd genoeg het die lynstane vir Wanderers (ondanks korter slotte) grootliks volgens die ingooi verloop terwyl Christie du Plessis op die veld was. Kort ná rustyd is die volle voorry egter vervang en het die lynstane begin skeef loop.

Vir minstens een so 'n skewe lynstaan op die aanval is 'n duur prys betaal, toe Unam kon deurskop en heelagter Heinrich Smit ver weg van sy ondersteuning betrap is. Hy is op die grond gestraf en dit het Unam tot in die kwartgebied gebring.

Van 'n vyfmeterskrum het Unam se agtsteman Freddy Puriza (plaasvervanger vir sy kaptein Bradley Klazen) na regs gestorm en deur die duikvatte van Smit en Kitshoff sy pad doellyn toe oorgewurm. Al was die doelskop mis, was Unam met 20-24 sterk terug in die prentjie.

'n Insident op die kantlyn, toe Deselvano Beukes laat geduik is, het 'n geruk en gepluk ingelui. Unam se slot Muniovita Kasiringua het 'n geel kaart gekry vir sy rol om die gemoedere aan beide kante te laat opvlam.

Halfpad deur die tweede helfte is Wanderers se regtervleuel Shawn Thomas deurgestuur vir 'n verdoelde drie onder die pale, wat Wanderers weer op 31-20 kon laat asemhaal.

Slot Dirk de Meyer het gedink hy het 'n drie gedruk, maar die uiteinde was eerder 'n strafskop teen sy span omdat spanmaats voor Theuns Kotzé se rolskop na die doelgebied was.

Unam se vleuel Silvano Beukes het letterlik op die doellyn 'n aangee van Klim aangeslaan wat 'n drie vir Unam sou wees. Nie lank daarna nie het Milaan van Wyk, wat later na senter verskuif is, hom egter losgeruk om 'n drie onder die pale te gaan druk. Met Lorenzo Louis se doelskop was die telling 31-27 vir Wanderers.

Speeltyd was bykans verstreke toe Unam vir die eerste keer die voortou geneem het. Slot Max Katjijeko het sy aangee weggekry om Klim deur die verdedigingslyn te laat breek. As plaasvervanger was Sunday Haitembu oop langs hom en op volspoed om die wendrie te gaan druk. Selfs Louis se verbroude doelskop het nie saakgemaak nie.

Wanderers het wel daarna nog 'n strafskop teen die kantly gekry, maar die afstand en die bedrieglike wind het meegebring dat Kotzé die skop rakelings verby die regterpaal gestuur het.

SUBURBS TE STERK VIR BLOUES

FNB Western Suburbs se eerste span het by Suburbspark 'n spannende oorwinning van 23-17 teen Trustco United I behaal. Die Khomasdallers het sodoende ook verby Wanderers op die puntelys ingeskuif, skryf Tielman van Lill.

Suburbs het eerste bloed geruik toe Justin Nel vroeg in die eerste helfte met 'n strafskop slaag. Daarna het die Filistyne ná 'n losgemaal met stut Simon Kanime aan die spits gaan druk en Winmar Rust voeg twee punte by om met 7-3 voor te loop.

United begaan 'n flater op die aanval in sy eie halfgebied en regtervleuel Russell van Wyk raap die bal op en draf gemaklik deur om vir Suburbs onder die pale te druk.

Nel is sekuur met sy doelskop om die halftydtelling op 10-7 te laat staan.

In die tweede helfte slaag Rust met 'n strafskop, maar die giftige linkervleuel Nikin Cloete gaan druk ná 'n goeie beweging vir Suburbs. Dié keer is Nel onsuksesvol en sy span loop met 15-10 voor. Die laaste drie vir die gasheerspan is deur die losvoorspeler Egon Cloete gedruk, maar Eugene Jantjies se skop is met die telling op 20-10 mis.

United val weer goed aan en heelagter Elmo van de Bijl gaan druk vir die besoekers.

Rust slaag met sy derde skop om met 'n paar minute speeltyd oor met 20-17 te volg. Dit is egter Jantjies wat die laaste sê in die dag se drama het toe hy sy span se laaste drie punte met 'n strafskop byvoeg.

WALVISBAAI KOM TOT SY REG

Met die oorwinning met 56-0 op sy tuisveld teen Reho Falcon het Walvisbaai rugbyklub gewys wat latere besoekers te wagte kan wees. Rustyd was dit 17-0.

Buitesenter Cedric Haraseb het drie drieë gaan druk, met nog een elk deur Jeroen van Dam (vleuel), Chris Klassen (haker) en die plaasvervangers Stuart McAlpine (losskakel), James Marx (flank) en Bruce Strause (flank).

Die heelagter Dirkie von Weidts het twee strafdoele en vyf doelskoppe deur die pale gejaag.

Shaun White, voormalige klubkaptein en slot, sê: “Falcon het ons onderskat. Ons het Dirkie van 10 na 15 geskuif vir die naweek omdat ons geweet het hulle gaan baie skop. Hy het die een teenaanval ná die ander geloods. Die Curriebeker-ouens stel baie belang in hom, maar dis maar moeilik vir die kus-manne om so lank by die werk af te kry.

“Almal praat oor ons pak voorspelers, maar ons agterlyn is wat gevrees moet word, met manne sos Dirkie, Charlton Brussel, Keeane Wellman, Cedric Haraseb en Marwin Kotze. Dan wag ons nog vir JR Jacobs en Lloyd Jacobs om van die Hongkong 7's af te kom, dan lyk dit goed agter.

“Ons losvoorspelers is om van te droom. Ons het baie diepte met Joe Hermann, Immo Dresselhaus, Cevin Harding, James Marx (die Curriebeker-afrigters soek hom glo ook), Ngumee Nguaiko, Riaan de Klerk, Bruce Strause, Johan de Klerk en Piere Beukes.”

KUDUS KLOP REHOBOTH

Kudus het opgeskuif tot tweede ná sy tuisoorwinning met 46-12 teen Rehoboth rugbyklub. Kudus is met 'n effens beter punteverskil voor Suburbs, wat derde geplaas is.

Die kusspan se sewe drieë het van heelagter Carlton Stevens, senter Michael Hummel, linkervleuel Elton de Smith, agtsteman Ernesto Bampton, flank Anthony Jevu, plaasvervanger-vleuel Zane Williams en losskakel Aurelio Plato gekom. Plato het ook met vier doelskoppe en 'n strafdoel getref.

Vir Rehoboth het Chase Diergaardt twee drie gedruk en heelagter Reduane Beukes het twee skoppunte bygevoeg.

Tags: 
Andrew Poolman

Kaptein Karuuombe voel baie spesiaal

$
0
0
Kaptein Karuuombe voel baie spesiaal

Andrew Poolman - Sy pa is “'n bietjie kwaai” en wil eintlik hê dat die jongste van sy vyf seuns op die familieplaas sy kant moet kom bring.

Nandivatu Karuuombe moes dus al 'n paar keer mooipraat om sy pa te oortuig dat hy met sy spanmaats moet gaan oefen of gaan toer. Soos nou by die Hongkong Sewes waar die haastige agterspeler die Namibiese toerkaptein is.

Môre, op die eerste speeldag, vier hy juis sy 25ste verjaarsdag.

Karuuombe sê die boerdery in die Hochfeld-omgewing staan nie stil nie en selfs die sewes se spanbestuurder, Robbie Dickson, moes al kom help om sy pa te oortuig.

“Ons stry nog so 'n bietjie, maar nou en dan verstaan hy. My pa het darem nou al vrede gemaak dat ek rugby speel terwyl ek jonk is. Ek dink ek sou van my kop af raak as ek nie my jeug en energie op dié manier kon uitleef nie. Daar is nie 'n ander manier nie.

“My pa is die man wat my gemaak het wat ek vandag is. Maar dis ook waar dat rugby my van dissipline geleer het. Ek kan my eintlik nie indink waar ek vandag sonder rugby sou gewees het nie.”

Sy aanwysing as Namibiese kaptein is 'n baie spesiale gevoel, “uit hierdie wêreld uit”, sê hy.

“Dit gebeur nie sommer met enigiemand om Hongkong toe te gaan nie. Dis 'n geleentheid waarvan ek nie eens sou kon droom nie.”

BEGINDAE

Karuoombe is in Windhoek gebore en het net sokker gespeel terwyl hy sy laerskooldae by Namibia English Primary School in Katutura deurgebring het. Hy is eers op hoërskool aan rugby bekend gestel toe hy onder die hande van Jan Möhr se destydse skoolhoof, mnr. Fanie van Zyl, begin deurloop het.

“Om rugby te speel, het aanvanklik teen my sin gebeur. Op die atletiekbaan het hulle gesien ek is vinnig en so het mnr. Van Zyl my by die rugbyspan ingetrek. Eers met die verloop van tyd het ek dit begin geniet. Die liefde vir die sport het wel begin posvat,” onthou hy.

Sy groot geleentheid het in 2009 opgeduik toe Ivan Gaya sy skoolspan se afrigter was. Gaya was in sy speeldae 'n stut vir United wat ook 'n paar toetse vir Namibië gespeel het en wat deesdae 'n visepresident van die Namibië Rugby-unie is.

“Meneer Gaya het gesorg dat ons span altyd fiks was om rugby te speel en so het dit gebeur dat ek in 2009 en ook in my matriekjaar 2010 vir die o.18 Cravenweekspan gekies is.”

Hierdie deurbraak het by sy terugkeer tot 'n verdere verrassing gelei toe hy ook die Namibiese o.19-span vir die Afrikabeker-toernooi gehaal het.

“Dit het ek glad nie verwag nie, maar ek het my kanse gebruik en het albei jare o.19 gespeel wat ek gekwalifiseer het. Dit was 'n baie goeie ondervinding.”

'n Telefoonoproep deur mnr. Les Bougard, gewese nasionale sewesafrigter, was sy eerste uitnodiging om sy talent in die korter weergawe van die spel te beproef.

“Ek het besluit om die kans te vat. My eerste toernooi in Namibiese kleure was na Mombasa in Kenia in 2013. Daai tyd was ek eintlik nog klein wat kondisionering betref; die kleinste outjie in die span. Maar hulle het my op die regte plek gebruik, vir my spoed. Van toe af was ek in by die sewes.”

ALTYD UNITED

Karuuombe het sy ganse klubloopbaan by Trustco United gebly – die eerste klub vir wie hy ná skool begin speel het.

“By United het ek aan die onderpunt begin. Sommige spelers wil sommer vroeg wanneer hulle iewers in die sport begin kom, hul voelers uitsteek om na die volgende klub aan te beweeg. Ek het tevore aanbiedinge gekry om by Western Suburbs te gaan speel, maar ek is gewoond om elke naweek op vleuel vir United te begin.”

In 2015 was hy ook in die oefengroep vir die Vodacombekerreeks, hoewel hy uiteindelik geen speelkans gekry het nie.

• In die Karuuombe's se huis van vyf seuns en vyf dogters word Otjiherero gepraat.

“Ek het sustertjies wat by DHPS skoolgaan en wat bietjie slim is. Hulle praat Duits en my pa verstaan dit ook, maar daar is ek nog bietjie verlore.”

Die opgang wat Herero-sprekendes die afgelope jare in plaaslike rugby maak, is vir hom verblydend.

“Dit is veral by Unam (nasionale kampioene van 2015 en 2016) waar die spelers baie goed vorder. Hulle jong manne wíl rugby speel en hulle kán rugby speel. Ek is 'n groot ondersteuner van Unam se rugby – hoewel ek myself net as 'n United-speler sien.”

ZIMBABWE

As 'n oefenlopie het die sewesspan onlangs aan die Vic Falls-toernooi gaan deelneem waar 'n paar ander Afrika-spanne ook in aksie was. Die Namibiërs het maklik tot in die eindstryd gevorder, waar hulle egter deur 'n stewige Zimbabwe geklop is.

“Die busreis na Vic Falls was baie lank, maar dit was ook 'n baie goeie ondervinding wat bygedra het om ons span hegter saam te snoer.

“Daar was nog 'n bietjie moegheid toe ons begin speel het en ons het ook 'n paar kombinasies getoets om ons wedstrydplanne mooi agtermekaar te kry.

“Die finaal het nie so goed gegaan nie, maar ná ons terugkeer in Windhoek het ons nog 'n oefenkamp gehad en ons het veral aan ons verdediging hard gewerk. Verdediging was die aspek wat ons in Zimbabwe in die steek gelaat het, maar ek glo ons is nou gereed vir Hongkong.

“Soos afrigter Jurie (Booysen) ook sê: op die aanval is ons 100 persent, sover dit die opsomming van die situasie en die uitvoering van ons planne betref. Ons het intussen ook hard gewerk om nie soveel drieë af te staan nie en ons is vasberade om in elke wedstryd hard te werk.”

NAMIBIË SE WEDSTRYDPROGRAM

In Namibiese wintertyd is die regstreekse beeldsendings op Super­Sport 5 soos volg:

Môre: teen Hongkong 06:48; teen Chili 09:26.

Saterdag: teen Sri Lanka 03:26. Kwarteindstryde: 11:18-12:50.

Sondag: Halfeindstryde 05:28-06:12. Finaal: 09:28.

Die Namibiërs se missie vir die naweek is om die stryd tussen 12 aspirerende lande te wen wat 'n enkele plek op die HSBC Wêreldsewesreeks vir 2017-'18 sal beklink.

Afrigter Jurie Booysen se manne sal beslis onder die buiteperde gereken word. Hul groepteenstanders Hongkong, Chili en Sri Lanka lyk nie onmoontlik nie, maar die taaier opposisie sal later uit Tonga, Duitsland, Uganda, Spanje, Guyana, Papoea-Nieu-Guinee, Uruguay en Jamaika te voorskyn kom.

Tags: 
Andrew Poolman

Klubs grawe dieper vir ligapunte

$
0
0
Klubs grawe dieper vir ligapunte

Andrew Poolman - Die botsing tussen die huidige nommer twee en drie op die puntelys is môre een van die invloedryke gebeurtenisse in 2017 se premierliga van die Namibië Rugby-unie.

Kudus van Walvisbaai (tweede) en FNB Western Suburbs het sover elk net een wedstryd verloor en trek kop aan kop op 14 ligapunte.

Die voorloper en verdedigende kampioen, FNB Unam (21 punte) sal dus heimlik in sy mou kan lag omdat een van dié twee uitdagers waarskynlik môre aan die verloorkant gaan eindig

Vir die meeste afrigters in die premierliga was vandeesweek 'n moeilike een omdat dit 'n terugkeer na die “normale” is – ná verlede week se inspuiting toe die nasionale spelersgroep vir klubrugby vrygestel was.

Met dié staatmakers in die Curriebeker-opset nou weer buite rekening, was verskeie afrigters gister in die posisie dat hulle eers moes kyk wie gisteraand by die oefenveld opdaag voordat hulle hul wedstrydgroepe finaal kon opstel.

Boonop is daar die immer teenwoordige komplikasies van beserings, werkverpligtinge en ander faktore wat spankeuse bemoeilik.

Twaalf Namibiërs is ook tans afwesig om die naweek by die Hongkong Sewes vir daardie ontwykende plek op die HSBC Wêreldreeks mee te ding.

Western Suburbs, wat môre in ­Khomasdal die koms van Kudus inwag, is een van dié spanne wat teen gister nog bloot geweet het dat hulle die plekke van nasionale kandidate soos Eugene Jantjies, Darryl de la Harpe, Collins Omalu, Roderique Victor, Thomasau Forbes, Russell van Wyk en Ricardo Swartz (sewes) sal moet vul.

Nog 'n gereelde agterspeler van Suburbs, die senter/vleuel Devereaux Jansen, het verlede naweek teen Trustco United sy been gebreek.

Die Kudus-span onder afrigter­skap van Donovan Paulse en met die slot Grandt Nash as kaptein, het in sy vorige wedstryde teen Walvisbaai, Reho Falcon (weg) en Rehoboth (tuis) gewen. Hul enigste nederlaag was teen Unam.

Ondanks die feit dat Anthony Jevu verlede week vir die eerste keer na flank verskuif is omdat hy glo te swaar vir sy gebruiklike posisie as binnesenter geword het, het hy teen Rehoboth nogtans sy sesde drie van die seisoen gaan druk. Sy naam het nog elke naweek sover onder die driedrukkers verskyn.

Kudus: 15 Carlton Stevens, 14 Floyd Freygang, 13 Paulo Andrews, 12 Michael Hummel, 11 Elton de Smit, 10 Aurelio Plato, 9 Percy Nash, 8 Ernesto Bampton, 7 Anthony Jevu, 6 Irvin Damants, 5 Grandt Nash (kapt), 4 Lu-Wardo Sitzer, 3 Lorenco Calaca, 2 Craig Swartz, 1 Richard Forbes.

Reserwes: Anthony Hoebeb, Cecil John Clarke, Zane Williams, Lot Petrus, Charlton Dreyer, Dario Benson, Codey Naholo.

UNAM BESOEK UNITED

Trustco United het laas naweek twee ligapunte bygevoeg toe hy naelskraap teen Western Suburbs verloor het. Môre is die Filistyne (tans in die vyfde plek) egter terug op hul tuisveld waar Johan Diergaardt se indrukwekkende Unam-span besoek aflê.

Die studentespan het met heelwat nasionale verpligtinge te make, asook 'n paar kleinerige beserings wat die gevolg van hul klipharde stryd teen FNB Wanderers was. Unam se span was teen druktyd nog nie bekend nie.

Trustco United: 15 Heini Kapolo, 14 Stefan Louw, 13 Morné Blaauw, 12 Mbimbo Mbai, 11 Felix Humpreys, 10 Ascher Coetzee, 9 Pieter Janse van Vuuren, 8 Pandoleni Ilonga, 7 Zayne Groenewaldt, 6 Jaco Bonthuys, 5 Jandré Lamprecht, 4 Winmar Rust (kapt), 3 Lappies Labuschagne, 2 Niël van Vuuren, 1 Simon Kanime.

• By die Wanderers-veld sal die Wit Hingste geen keuse hê as om vol punte teen die reisende Reho Falcon te jaag nie.

Opeenvolgende nederlae teen Suburbs en Unam het verlede jaar se finalis skielik vanaf die eerste na die vierde posisie laat terugsak. Afrigter Charl du Toit en sy manne sal dus geensins kan bekostig om verder teend ie voorlopers veld te verloor nie.

• Ná Walvisbaai se vernietiging van Reho Falcon (56-0) laas naweek op die hawedorp, is dit môre die kusspan se beurt om na Rehoboth te reis. Teen druktyd was die Walvisbaai-span nie bekend nie.

Rehoboth (groep): Agterspelers: Paulus Hangula, Serge Loock, Keaton Freygang, Chase Diergaardt, Julian Afrikaner, Hilton Neethling, Elrich Jansen, Romeo Visagie, Jason Olivier, Gerald Claassen. Voorspelers: Fillemon Moses, Carl William Freygang, Godwin Goaseb, Winston Strauss, Kevin Cloete, Charl Fortuin, Eugene Forbes, Jerome Schumann, Johann Wohler, Werner Meyer, Sharks Likando, Allister Groenewaldt, Ian Clark, Charl Freygang.

EERSTE LIGA

Môre se wedstryde in die eerste liga is soos volg:

15:00 Etosha Leeus tn Otjiwarongo op Tsumeb

15:00 Grootfontein tn Jaguars op Grootfontein

15:00 Erongo Rugby Academy tn Eastern Bulls op Swakopmund

15:00 West Coast Sharks tn NUST op Swakopmund

Laas naweek se tellings in die eerste liga was: Eastern Bulls klop Coastal Sharks met 23-20 (drie drieë elk); Otjiwarongo klop Jaguars met 44-17 (agt drieë teen twee); Ocean Swallows klop Oranjemund met 34-29; Unam III klop NUST met 23-22 (drie drieë elk).

• In die reserweliga is die tweede spanne van Unam en Reho Falcon ná drie wedstryde nog onoorwonne. Unam (21 punte) word gevolg deur Falcon II (19), Western Suburbs II (16), Wanderers II (11) en Kudus II (10)

Laas naweek se tellings in die reserweliga: Reho Falcon II klop Walvisbaai II met 28-15 (vier drieë teen twee); Western Suburbs II klop United II met 51-0 (agt drieë teen nul); Unam II klop Wanderers II met 15-12 (twee drieë elk).

Tags: 
Andrew Poolman

Drama, omstredenheid in klubstryde

$
0
0
Drama, omstredenheid in klubstryde

Andrew Poolman - FNB Unam se eerste span het Saterdag na sy 18de opeenvolgende oorwinning geseil, maar die bonuspunt vir vier drieë is laat glip en sy voorsprong boaan die puntelys van die Namibië Rugby-unie se premierliga het van sewe punte tot ses gekrimp.

Die studentespan het sy wegwed­stryd teen Trustco United met 30-22 gewen (drie drieë teen een) en sodoende die enigste onoorwonne uit die agt spanne gebly.

Rustyd was die Filistyne met 12-10 voor, maar soos gewoonlik was daar in die tweede helfte nie keer toe die verdedigende kampioenspan die krane begin oopdraai het nie.

Drieë deur die stut Tjino Tjirare, agtsteman en kaptein Bradley Klazen en regtervleuel Silvano Beukes het die knoop deurgehaak op 'n naweek waarin die spanne sonder hul nasionale staatmakers moes klaarkom.

Heelagter Lorenzo Louis was 15 punte werd met drie strafdoele en drie doelskoppe.

United se enigste drie is deur die vleuel Niel Bouwer gedruk, terwyl die slot en kaptein Winmar Rust 17 skoppunte behaal het.

WANDERERS 43 FALCON 31

FNB Wanderers het na die tweede plek opgeskuif met sy dubbele bonuspunt-sege (sewe drieë teen vyf) op sy tuisveld teen Reho Falcon. Die wedstryd is egter sowat sewe minute voortydig stopgesit toe 'n bakleiery uitgebreek het waarby toeskouers en bestuurslede ook betrokke geraak het.

Vir die Wit Hingste was haker Gerhard Lotter (2), senters Theuns Kotzé en Henning Snyman III, agtsteman Stef Botha, slot Dirk de Meyer en vleuel Deselvano Beukes sy driedrukker. Vier keer het Theuns Kotzé verdoel.

In 'n humeurige wedstryd het De Meyer en Botha (twee keer) egter geel kaarte gekry, met Botha se tweede laat in die wedstryd.

Ná straks Reho Falcon se beste vertoning van hardlooprugby dié seisoen kan komende opponente maar weer ligloop. Die swarttruie se drieë het van die agterspelers Anthony Brandt, Hillian Beukes, Greg Stein en Brandon Dentlinger asook stut Jason Benade gekom. Daar was ook drie doelskoppe deur Xavier van Wyk.

Reho Falcon se voorsitter, Heleon Beukes, het die einde só opgesom: “Die wedstryd was gekenmerk deur vuil en gemene spel aan die kant van Wanderers. Met tien minute speeltyd oor maak ons kaptein Jakkals (Milando Titus) 'n goeie lopie waarna hy vir Hillian Beukes vir ons laaste drie deurstuur. By hierdie beweging het Jakkals en die heelagter van Wanderers in 'n stamp en stoot aksie slaags geraak wat 'n groepgeveg ontlont het. Spelers sowel as ondersteuners het vuishoue uitgedeel.

“As voorsitter van Reho Falcon is ek van mening dat die dissipline van sommige Wanderers-spelers nie rugby bevorder nie. Hier kan hulle drie losvoorspelers genoem word wat hul bydrae tot blatante vuilspel gelewer het.

“Dit wil ook voorkom of die skeidsregter nie beheer vir die hantering van die wedstryd kan vat nie.

“Daar is daadwerklik 'n oplewing in die spel van Reho Falcon en die oorblywende wedstryde behoort 'n positiewe nadraai te hê.”

Uit Wanderers-geledere is gesê die optrede van die besoekers se bestuurslede was geen voorbeeld vir hul spelers nie en dat die algemene taalgebruik bygedra het om die situasie te laat opvlam.

SUBURBS 21 KUDUS 13

In Khomasdal het FNB Western Suburbs ook sterk in die wedloop gebly, hoewel hy vanaf tweede tot derde teruggesak het ná in sy tuisoorwinning teen Kudus waarin hy drie drieë teen een gedruk het. Voor die naweek was beide spanne op 20 ligapunte.

Die eerste helfte het verreweg beter rugby as die slordige tweede helfte opgelewer. Beide spanne het aanvalskanse geskep wat desperate keerwerk op die verdediging geverg het.

Heelagter Japhet Tjinho, senter Alastair Miller en vleuel Gino Wilson was Suburbs se driedrukkers, terwyl losskakel Justin Nel met drie doel­skoppe geslaag het.

Beide die eerste twee drieë het naby die doellyn begin, onderskeidelik met 'n tikskop en 'n insnybeweging, terwyl opportunisme tot Wilson se drie gelei het. Kudus was op die aanval en 'n voorspeler was op pad vir 'n stormlop naby 'n losskrum, maar die skrum­skakel se aangee is deur Suburbs se flank Vaughan Petersen onderskep. Hy het 'n hele ent gehardloop voordat die nasionale toetsvleuel by was om oor te neem.

Aurelio Plato se vroeë strafdoel was Kudus se enigste punte van die eerste helfte. Hy het kort ná rustyd weer so gemaak, voordat hy ook met die doelskop vir flank Ernesto Bampton se drie in die kol was.

REHOBOTH 45 WALVISBAAI 39

Rehoboth rugbyklub het al sy tuisvoordeel nodig gehad om die aanslag van 'n hardnekkige Walvisbaai te bowe te kom.

Dit was die Rehobothers se eerste keer dié seisoen dat hulle sewe drieë in 'n wedstryd gedruk het om ses ligapunte te kan byvoeg. Sodoende skuif die Rooi Bulle na die vyfde posisie op 12 punte, voor United (11) en Walvisbaai (10).

Rehoboth se driedrukkers was senter Chase Diergaardt (2), agtsteman Charl Freygang (2), flank Johann Wohler, losskakel Jason Olivier en vleuel Paulus Hangula gedruk. Doel­skoppe het van Diergaardt (4) en die flank Werner Meyer gekom.

Walvisbaai het op sy beurt vyf drieë ingeryg om ook 'n tweede bonuspunt vir die naweek by te voeg.

Chris Klassen, haker en kaptein, was drie keer oor die doellyn, insluitend twee keer as deel van 'n maalbeweging. Die vleuel Jeroen van Dam, buitesenter Cedric Haraseb en slot Shaun White was die ander driedrukkers, terwyl losskakel Dirkie von Weidts 'n strafskop en drie doelskoppe oorgeklits het.

Walvisbaai se slot Shaun White sê die veggees was verblydend. “Ons het baie ontwrigting gehad, met ses stutte onbeskikbaar. Ons het dus in die skrums swaar gekry en Rehoboth het twee oorstootdrieë gedruk. Vrydagaand moes die vleuel Marwin Kotze met 'n liesbesering onttrek en Saterdagoggend moes Johan de Klerk (flank) ook weens 'n maagvirus vervang word. Die vleuel wat Marwin se plek gevat het, se kar het ook op pad Rehoboth toe gebreek.

“Tydens ons opwarming was daar ook 'n totale fratsongeluk. Dirkie het sy skoppe pale toe geoefen, toe skep die wind die bal en dit beland reg op Ngumee Nguaiko se duim. Sy duim het oopgebars en die ligamente is geskeur.

“Voor die afskop is ons reserwebank dus van sewe spelers na vier uitgedun. James Marx (flank) het vroeg sy knieligamente beseer, maar het vasgebyt en 70 minute lank met sy af knie gespeel. Dit was 'n baie skoon wedstryd en altwee spanne het mooi hardlooprugby gespeel.”

Tags: 
Andrew Poolman

Paastoernooi bring Reho byeen

$
0
0
Paastoernooi bring Reho byeen

Rehoboth Rugbyklub bied Saterdag sy jaarlikse Paasfeestoernooi vir die 24ste agtereenvolgende keer aan.

Die toernooi word deur Coca-Cola met N$20 000 geborg.

Altesame agt spanne sal aantree vir die toernooi wat by die veld van Rehoboth Hoërskool gespeel word. Die eerste wedstryd begin om 07:30 met Reho Falcon se eerste span teen Rehoboth se tweedes. Wedstryde word in twee helftes van tien minute elk gespeel. Geen voorsiening word vir beseringstyd gemaak nie.

Die hoofkompetisie se deelnemende spanne is Rehoboth (twee spanne), Reho Falcon (twee spanne), Kudus van Walvisbaai, Dolphins van Swakopmund, Unam van Windhoek en die Reho Legends team wat uit oudspelers van die dorp se twee rugbyklubs saamgestel is.

Die semifinale is vir 14:30 en die eindstryds vir 16:30 geskeduleer.

Vrouespanne van Reho Pandas en die nasionale studente-sportorganisasie Tisan sal mekaar ook drie keer in seweswedstryd die stryd aansê (09:20, 11:50 en as die hoofvoorwedstryd om 15:30).

Reho Falcon is die verdedigende kampioenspan nadat hy in verlede jaar se eindstryd sy buurklub Rehoboth met 12-3 geklop het.

“Geen alkohol sal deur die toeganghekke ingebring mag word nie. Toeskouers word ook gemaan om hulle van vuil taal te weerhou.

“Die organiseerders behou die reg voor om oortreders uit die stadion te verwyder,” sê mnr. Marschell Diergaardt, bestuurslid van die gasheerklub.

Toegang beloop N$20 vir volwassenes, N$10 vir kinders, N$10 vir spelers, N$20 vir bestuurslede en N$20 per voertuig.

Tags: 
Andrew Poolman

Thompson se o.20's sien uit na Madagaskar

$
0
0
Thompson se o.20's sien uit na Madagaskar

Andrew Poolman - Afrigter Roger Thompson en sy Namibiese o.20-rugbyspan het gister in Antananarivo begin kamp opslaan nadat hulle vroeg­oggend via Johannesburg na dié hoofstad van Madagaskar gevlieg het.

Vir 'n verandering is geen kwalifiserende beloning vir 'n hoër geleentheid in vandeesweek se toernooi op die spel nie. Die toernooi van vier Afrika-spanne word gehou ter nagedagtenis aan wyle Jean-Luc Barthez, 'n Fransman wat namens Wêreldrugby vir jare tot die ontwikkeling van die spel in Afrika en spesifiek Madagaskar bygedra het.

Die jong Namibiërs speel reeds môre in die openingswedstryd teen die gasheerspan, voordat Kenia en Zimbabwe onmiddellik daarna uitdraf. Sondag sal die twee verloorspanne ontmoet, voor die hoofwedstryd om die toernooi se wenner te bepaal.

Die onder 20's het voor die langnaweek 'n opwarmwedstryd teen 'n onder 23-uitnodigingspan gespeel en met 35-0 gewen. Stortreën het gedurende die wedstryd neergesous om toestande te bemoeilik. Vastrapplek vir die skrums en die ingooiwerk in die lynstane was maar twee van die aspekte waarin sake nie altyd vlot verloop het nie.

Nogtans is afrigter Thompson tevrede met die oefenlopie en reken hy dat sy span redelik voorbereid vir die komende uitdaging is.

“Afgelope Maandagoggend het ons 'n laaste oefensessie gehad om van die aspekte uit te stryk waarmee ons in die oefenwedstryd gesukkel het. Die toestande was moeilik om in aan te pas en die spelers het eintlik eers halfpad deur die eerste helfte hul voete begin vind,” sê hy.

Volgens Thompson het die o.20's ses uit hul tien lynstaan-ingooie skoon bemeester, en net drie uit die ses afskoppe wat hulle moes ontvang.

“Op die aanval het ons ook net twee keer daarin geslaag om die bal vir vyf fases of langer te behou en sodoende die opposisie onder druk te plaas. Die o.23's kon op hulle beurt nooit meer as vier fases opstel nie. Dit is juis een van ons strewes om baie sterk by die afbreekpunte mee te ding, sodat ons losballe kan wen om teenaanvalle te loods.

“Vanweë die nat omstandighede kon ons teenstanders nie eintlik geleent­hede skep om ons verdediging in die wyer kanale deeglik te toets nie.

“In die geheel voel ek ons is goed voorbereid en ons beplanning is in plek,” sê die afrigter.

Volgens hom was sy kaptein en onderkaptein, die losskakel Cliven Loubser en flank Prince //Gaoseb, twee van die uitblinkers in die opwarmwedstryd.

Thompson, wat reeds sedert 2015 die hoofafrigter van die nasionale onder 20's, is later vanjaar ook aan die stuur van dié span se aanslag op die Wêreldrugby Junior Trofee-toernooi in Uruguay. Namibië het verlede jaar sy beste eindposisie nóg (vierde) bereik in die jaarlikse toernooi vir agt ontluikende rugbynasies.

Vandeesweek se toernooi is dus 'n gulde geleentheid vir hom om van die ou staatmakers én die nuwelinge deur te kyk met die oog op die reis na Suid-Amerika in Augustus.

Die toergroep is:

Voorspelers: André Rademeyer (stut, WP Rugby-instituut), Norman Erasmus (stut), Nelius Theron (FNB Wanderers), Obert Nortje (haker, FNB Unam), Jan Basson (haker, studeer op Klerksdorp), Sam Kuvare (stut, NRU rugby-akademie), Marino Goagoseb (stut, Unam), Rheinhardt Carelse (slot, Unam), Diamando Tjombe (slot/flank, Gimnasium), Lezardo Vos (slot/flank, Blou Bulle rugby-akademie), Le Beau du Preez (slot, Pukke), Tjingairi Katjivi (flank, FNB Western Suburbs), Prince //Gaoseb (onderkaptein en flank, Blou Bulle rugby-akademie), Riaan de Klerk (agtsteman, Walvisbaai rugbyklub).

Agterspelers: Jay-C Olivier (skrumskakel, Blou Bulle rugby-akademie), Wihan von Wielligh (skrumskakel, Pukke), Chad Plato (los­skakel/heelagter, Blou Bulle rugby-akademie), Cliven Loubser (kaptein en losskakel, Sharks rugby-akademie), Brandon Groenewald (senter, ETA College Durban), Georg Niehaus (senter, Pukke), Alastair Miller (senter, Western Suburbs), Luke Jansen (vleuel, Blou Bulle rugby-akademie), Collins Omalu (vleuel, Western Suburbs), Rudi Pretorius (vleuel, Windhoek Gimnasium), Romanzo Lento (heelagter, Unam).

Die spanbestuur is Roger Thompson (hoofafrigter), Irvin Newman (spanbestuurder), Sergio de la Harpe (krag en kondisionering), dr. Wilfred Bezuidenhoudt (spandokter), Armand von Wielligh (video-ontleder).

Tags: 
Andrew Poolman

Welwitschias laat Valke ontglip

$
0
0
Welwitschias laat Valke ontglip

Andrew Poolman - Met twintig minute speeltyd oor, was sake nog kop aan kop met net ses punte verskil, voordat die Hino Valke die krane oopgedraai het om Saterdag hul openings­wedstryd van die SuperSport uitdaagreeks met 50-33 teen die Windhoek Draught Welwitschias te wen.

Rustyd was die Namibiërs nog met 20-17 voor in Kemptonpark se Barnard-stadion. Die vertoning in die eerste deel van die wedstryd, asook die bonuspunt wat met vyf drieë in die wedstryd verdien is, sal vir afrigter Lyn Jones 'n basis gee om op voort te bou.

In die tweede helfte van die wedstryd het die tuisspan in die rooi truie altesame vyf van hul sewe drieë gaan druk, om sodoende 'n gerieflike oorwinning in die noordelike groep van die kompetisie te behaal.

Dit was die Namibiërs wat die wedstryd op die voorvoet begin het toe hulle ná net twee minute 'n drie vir die linkervleuel Gino Wilson geskep het. Buitesenter JC Greyling het die halwe gaping geskep en sy aangee weggekry om Wilson op 'n lopie van 40 meter weg te stuur.

Losskakel Theuns Kotzé het oorgeskop, voordat sy eweknie van die Valke, Warren Potgieter, 'n strafdoel op die telbord geplaas het.

Lesley Klim – op regtervleuel straks buite sy beste posisie gekies – het nietemin gewys hoekom hy so giftig met die bal in die hand is toe hy 'n opponent weggestamp het om met twee manne op sy rug in die hoek te gaan druk. Kotzé se skop was mis.

Die Valke se vlugvoetige linkervleuel Etienne Taljaard het 'n paar verdedigers op pad na die eerste van sy twee drieë geklop, wat Potgieter verdoel het.

Te midde van 'n hewige stryd tussen die voorspelers het die Valke 'n kans vir flank Dian Koen geskep om van naby die doellyn oor te bars. Met Potgieter se ekstra skoppunte was die tuisspan met twee punte voor, nadat Kotzé kort tevore 'n strafdoel deur die pale gejaag het.

Voor rustyd het die Namibiërs egter 'n lynstaan gewen en die slot Max Katjijeko oorgedryf. Kotzé kon nie verdoel nie en die voorsprong met op drie punte vasgesteek.

'n Keerpunt was toe die Valke kort ná rustyd twee vinnige drieë behaal het om gebrekkige konsentrasie aan die Namibiese kant uit te buit. Taljaard en sy vleuelmaat Grant Janke het die drieë afgerond.

Die Welwitschias het met 'n Kotzé-strafdoel teruggeslaan, maar nog twee verdoelde drieë deur flank Ernst Ladendorf en heelagter Keaton Gordon het die punteverskil vinnig laat aangroei.

Kaptein Eugene Jantjies en agt­steman Leneve Damens het onverdoelde drieë aan die Namibiese kant gaan druk, maar die Valke het die laaste sê gehad met 'n drie deur die plaasvervanger-agterspeler Maphutha Dolo in die doodsnikke.

Hino Valke 50: Drieë deur Etienne Taljaard (2), Dian Koen, Grant Janke, Ernst Ladendorf, Keaton Gordon, Maphutha Dolo; doel­skoppe: Warren Potgieter (6); strafdoele: Potgieter.

Windhoek Draught Welwitschias 33: Drieë deur Gino Wilson, Lesley Klim, Max Katjijeko, Eugene Jantjies, Leneve Damens; doel­skoppe: Theuns Kotzé; strafdoele: Kotzé (2).

• Die Welwitschias speel komende Saterdag hul eerste tuiswedstryd teen die Blou Bulle – wat laas naweek twee Namibiërs ingespan het in hul tuisnederlaag teen die Pumas.

Buitesenter Divan Rossouw was 'n driedrukker, terwyl agt­steman Renaldo Bothma ook teen sy gewese spanmaats in aksie was.

Die naweek se ander uitslae van die SuperSport uitdaagreeks: Grens Bulldogs 28-25 Boland Kavaliers (Port Elizabeth); Sharks 7-28 Griekwas (Durban); Griffons 17-29 Luiperds, Oostelike Provinsie 18-30 Westelike Provinsie (Port Elizabeth).

Tags: 
Andrew Poolman

O.20's verniel Kenia met groot telling

$
0
0
O.20's verniel Kenia met groot telling

Die Namibiese o.20-rugbyspan het gister in Antananarivo, hoofstad van Madagaskar, aan al die verwagtinge voldoen toe hy die eindstryd van 'n vierhoekige toernooi gewen het.

Kenia moes gister in die eindstryd van die Jean-Luc Barthes-gedenktoernooi ook die knie voor afrigter Roger Thompson se belowende jong span buig.

Rustyd was die Namibiërs reeds met 26-12 in beheer, voordat hulle daarna die krane begin oopdraai het om die wentelling tot 66-24 op te jaag.

In die eerste helfte het heelagter Romanzo Lento, vleuel Rudi Pretorius, slot Rheinhardt Carelse en nog 'n speler Namibië se drieë gedruk. Ná rustyd is verdere vyfpunters deur Lento, Pretorius, skrumskakel Wihan von Wielligh, Carelse en agtsteman Riaan de Klerk (twee) opgestapel.

Die losskakel en kaptein Cliven Loubser het met sewe doelskoppe geslaag.

In die uitspeelwedstryd om die derde plek het die gasheerspan Madagaskar verras deur Zimbabwe met 'n enkele punt (36-35) te klop.

Namibië het die afgelope jare die oorhand oor sy kontinentale uitdagers (buiten Suid-Afrika) en het ook reeds deurgedring om in Augustus in Uruguay by Wêreldrugby se o.20 Junior Trofee-toernooi vir ontluikende rugbylande aan te meld.

Tags: 
Andrew Poolman

Walvis wen naelbyter teen Suburbs

$
0
0
Walvis wen naelbyter teen Suburbs

Andrew Poolman - Die twee kusspanne Walvisbaai en Kudus het beide laas naweek met tuisoorwinnings en bonuspunte hul posisie op die puntelys van die Namibië Rugby-unie se premierliga verbeter.

Walvisbaai het 'n waardevolle tweede bonuspunt bygevoeg deur sewe drieë te druk, toe haker Chris Klassen en sy manne 'n dramatiese oorwinning met 43-28 teen FNB Western Suburbs beklink het.

Western Suburbs het 'n droombegin gehad met 'n drie binne die eerste sekondes, toe die tuisspan die afskop laat wip en die bal in die wakker flank Vaughan Petersen se hande beland het. Hy is egter nie lank daarna nie met 'n kniebesering af.

Walvisbaai se eerste drie het gekom van 'n dryfmaalbeweging oor die doellyn, waarna skrumskakel Keeane Wellmann met die bal opgestaan het.

'n Vloeiende lopie deur Walvisbaai se drie losvoorspelers het op 'n drie vir die flank Immo Dresselhaus uitgeloop en later in die eerste helfte het losskakel Dirkie von Weidts en slot Wolfgang Rohl ook gaan druk, maar Suburbs se agterspelers het met 'n drie van hul eie teruggekap.

Die Khomasdallers het kort voor rustyd 'n gulde geleentheid laat glip toe skrumskakel JC Winkler deurbreek en met ondersteuning aan beide kante hom teen Walvisbaai se heelagter Lloyd Jacobs vashardloop. Dit kon die rustydtelling anders laat lyk het, as dat Walvisbaai met 26-17 voor was. Winkler het later die veld met 'n besering verlaat.

Die Windhoekers het die tweede helfte sterker begin deur die eerste twee drieë te behaal en die voorsprong met 33-26 te neem.

Die kusspan moes dus met 'n terugvegpoging vorendag kom en die agterspelers het saamgespan om die vleuel Jeroen van Dam oor te werk vir 'n drie toe hy twee verdedigers saam met hom oor die doellyn gesleep het (Suburbs 33-31 Walvisbaai).

'n Slim hardlooplyn deur buitesenter Cedric Haraseb (voorheen van Suburbs) het vir hom 'n drie teen sy voormalige spanmaats gebring. Weer eens het die Windhoekers dadelik met 'n drie teruggeslaan om die telling gelykop (38-38) te maak.

Walvisbaai se wendrie het van heelagter Lloyd Jacobs gekom, maar daar was nog tien minute oor waarin die tuisspan desperaat moes keer om die een aanval op die ander af te weer.

“Ons lostrio Joe Hermann, Immo Dresselhaus en Cevin Harding het meters gemaak elke keer wanneer hulle die bal gedra het. Cevin het 'n geel kaart gekry, maar in daardie tien minute het ons twee drieë gaan druk. Ons plaasvervangers het ook hul kant gebring en agterlangs het Lloyd Jacobs en JR Jacobs (vleuel) gereeld die manne na lug laat gryp met hul aftrappe. Ons het die ander klubs 'n guns gedoen om Suburbs te klop wat 'n plek in die Gold Cup-reeks jaag,” sê Walvisbaai se slot, Shaun White.

Suburbs se driedrukkers was Vaughan Petersen (flank), losskakel Justin Nel (2), vleuel Nikin Cloete (2) en heelagter Japhet Tjinho. Nel en Ricardo Swartz (2) het doelskoppe bygevoeg.

KUDUS KLOP UNITED

'n Paar kilometer verder in Narraville het Kudus met 31-25 die oorhand teen die besoekende Trustco United gekry.

Die wenspan se driedrukkers was senter Michael Hummel, vleuel Donovan Hummel, losskakel Ulriato Lawrence en die plaasvervanger Anthony Hoebeb. Van die skopskoen van Lawrence het nog elf punte (vier doelskoppe en 'n strafdoel) gekom.

United het drie drieë (deur slot Jandré Lamprecht, senter Handré Bezuidenhout en heelagter Elmo van der Byl) behaal, tesame met twee doelskoppe en twee strafdoele deur kaptein Winmar Rust.

WANDERERS BLY TWEEDE

FNB Wanderers het met 'n oorwinning van 39-6 van sy besoek aan Rehoboth rugbyklub teruggekeer (rustyd 19-6).

Met 'n tweede bonuspunt vir sewe drieë sal afrigter Charl du Toit tevrede met die naweek se uitstappie wees. “Die wedstryd is in goeie gees gespeel en daar was geen onnodige drama nie,” het hy agterna laat weet.

Die loskopstut Nian Berg het twee drieë gedruk om te wys dat hy dalk weer fiks vir 'n hoër aanspraak is. Wanderers se ander driedrukkers was vleuel Malcolm Moore, senter Dion Venter, losskakel MP Pretorius en agtsteman Adriaan Booysen. Heelagter Keanen Titus het twee doelskoppe oorgeskop.

Rehoboth se senter Chase Diergaardt het met twee strafskoppe geslaag.

Aan Wanderers-kant het die kaptein vir die dag, slot Kevin Vorster, en flank DG Wiese geel kaarte vir herhaalde oortredings gekry gekry, teenoor een geel kaart vir 'n Rehoboth-stut.

Die terugkeer van Nico Esterhuyse vanaf die reserwebank is vir die Wit Hingste 'n bonus, nadat die slot se planne vir uittrede oënskynlik nie suksesvol was nie. Benewens hul nasionale staatmakers was Wanderers ook sonder heelagter Léan Stoop (uitstedig) en die slot Stef Botha wat 'n skorsing vir twee wedstryde uitdien.

UNAM BLY ONOORWONNE

'n Moedige vertoning deur Reho Falcon kon nie verhinder dat FNB Unam sy string onoorwonne wed­stryde verder opstoot om boaan die puntelys te bly nie.

Unam het met 26-15 gewen (ses drieë teen twee) met drieë wat van skrum­skakel Sunday Haitembu (2), flank Kami Mieze (2) en die vleuels Silvano Beukes en Chess Lawrence gekom het. Heelagter Lorenzo Louis het drie keer met sy doelskoppe geslaag.

Slot Elroy van Wyk en vleuel Greg Stein het vir Reho Falcon drieë gedruk, terwyl heelagter Xavier van Wyk 'n strafdoel en 'n doelskop behaal het.

• Na afloop van die naweek is die agt spanne se puntestand soos volg: Unam 30 punte, Wanderers 25, Western Suburbs 20, Kudus 19, Walvisbaai 17, Rehoboth 12, United 12, Reho Falcon 3.

RESERWELIGA

Western Suburbs se tweede span klop Walvisbaai II met 34-5 (ses drieë teen een; Wanderers se reserweligaspan klop Rehoboth II met 33-19 (vyf drieë teen drie); United se tweedes wen met 30-18 teen Kudus II op Narraville, en Unam se tweede span klop Reho Falcon II met 29-17.

• Uitslae van die eerste liga: Eastern Bulls klop Dolphin met 24-20; NUST klop Erongo Rugby Academy met 20-10; Etosha Leeus druk tien drieë in hul oorwinning met 62-0 teen Jaguars.

Tags: 
Andrew Poolman

Sharks vat Deysel saam na Jaguares

$
0
0
Sharks vat Deysel saam na Jaguares

Die Namibiese senter Johan Deysel pak sy tasse vir sy eerste oorsese Superrugby-toer saam met die Sharks, wat vir hul volgende wedstryd na die Jaguares se tuiswerf Buenos Aires op pad is.

Die oudskolier van Windhoek Hoërskool se insluiting is gister bevestig, nadat hy die plek van die geskorste André Esterhuizen moes neem. Esterhuizen sal ses weke op die kantlyn moet deurbring as straf vir die gevaarlike omdopduikslag op die Melbourne Rebels se vleuel Sefa Naivalu het hom Saterdag ook 'n rooikaart besorg het.

Sy afwesigheid vir meer as 60 minute het 'n groot aandeel in die tuisspan se sukkelvertoning gehad. Die wedstryd in Durban het met 9-elk gelykop geëindig.

Die beginspan teen die Argentyne sal môre aangekondig word. Deysel sal waarskynlik teen Jeremy Ward opgeweg word vir die voorreg om Lukhanyo Am se vennoot in die middelveld te word.

Intussen het Deysel laas naweek in die voorwedstryd as skopper 'n enkele doelskop bygedra toe die Haaie XV 'n teleurstellend eensydige nederlaag teen Tafel Lager Griekwas gely het (28-7).

Die Namibiese skrumskakel Damian Stevens was ook in die Natallers se beginspan vir die openingsrondte van die SuperSport uitdaagreeks.

Ander Namibiërs wat laas naweek provinsiale unies in die SuperSport-reeks verteenwoordig het, was Chrysander Botha as heelagter van die OP Kings teen die Westelike Provinsie; Alcino Izaacs as buitesenter vir die Boland Kavaliers teen die Grens Bulldogs; Divan Rossouw en Renaldo Bothma as onderskeidelik buitesenter en agtsteman vir die Blou Bulle teen die Pumas.

Die Maties se slot Janco Venter het ná sy universiteitspan se nederlaag in die eindstryd van die Varsitybeker aan die koerant gesê hy fokus in die komende maande eers op sy studies, nadat hy in 2017 'n paar maal die Westelike Provinsie in die Curriebeker verteenwoordig het. Die losvoorspeler Christo van der Merwe is nog een van die Streeptruie se gekontrakteerde Namibiërs.

In Superrugby is Aranos Coetzee en haker Torsten van Jaarsveld twee gereelde staatmakers vir die Cheetahs. Botha en Johann Tromp is beide as heelagters of vleuels in die Southern Kings se groep.

Tags: 
Andrew Poolman

Bulle-wedstryd: Foute kan deurslaggewend wees

$
0
0
Bulle-wedstryd: Foute kan deurslaggewend wees

Andrew Poolman - Om 'n span soos die Vodacom Blou Bulle te klop, sal alles reg gedoen moet word en is daar baie min ruimte vir foute.

Onmoontlik is dit egter gewis ook nie – soos die Steval Pumas verlede naweek op Loftus Versfeld gewys het deur die Bulle met 31-23 op hul neus te laat kyk.

Alle aanduidings is dat môremiddag dalk nog 'n bietjie te vroeg in die ontwikkeling van die Namibiese groep, die Windhoek Draught Welwitschias, is om sulke verwagtinge te koester.

Sal die Namibiese agttal dit byvoorbeeld regkry om soos die Pumas meters met hul lynstaandrywe te vorder en op dié manier alleen drie drieë in die wedstryd te druk?

Of het die Bulle en hul breier, Pote Human, in die afgelope dae hierdie swak punt genoegsaam reggestel?

Afrigter Lyn Jones en sy manne het dié week selfvertroue geput uit die feit dat hulle laas naweek in sommige fasette oorheers het in hul wegwedstryd teen die Valke in Kemptonpark. Dit was basies grootliks deur hul eie foute dat die Rooi Duiwels dit reggekry het om met 50-33 te wen.

'n Bonuspunt omdat hulle vyf drieë gedruk het, wys dat die Welwitschias doeltreffend kán aanval. Die skakelpaar Eugene Jantjies en Theuns Kotzé het hul opsies goed uitgeoefen.

Die verslapping wat egter ingetree het nadat die Namibiërs rustyd nog met drie punte voorgeloop het, sal nie bekostig kan word as hulle planne het om 'n seldsame oorwinning teen die Pretorianers te behaal nie.

Jones het sy vertroue in sy jong groep gewys deur minimale veranderinge aan te bring. Ruan Ludick sal op slot begin in die plek van Max Katjijeko, wat hom om familieredes moes onttrek.

Die ander veranderinge is meestal op die reserwebank, waar Andries Rousseau, Thomas Kali en die veelsydige agterspeler Heinrich Smit moontlik hul kans kan kry om indruk te maak.

'n Opwindende wedstryd is in die vooruitsig en toeskouers behoort geensins spyt te wees nie.

Die hekgeld beloop N$60 op die hoofpawiljoen, N$30 op die ooppawiljoen en N$10 vir kinders.

Die Windhoek Draught Welwitschias:
15 David Philander
14 Lesley Klim
13 JC Greyling
12 Darryl de la Harpe
11 Gino Wilson
10 Theuns Kotzé
9 Eugene Jantjies (k)
8 Leneve Damens
7 Thomasau Forbes
6 Rohan Kitshoff
5 Ruan Ludick
4 Muniovita Kasiringua
3 AJ de Klerk
2 Shaun du Preez
1 Christo McNish
Reserwes:
16 Gerhard Lotter
17 Collen Smith
18 Andries Rousseau
19 Mahepisa Tjeriko
20 Thomas Kali
21 Cameron Klassen
22 Heinrich Smit

• Die SuperSport uitdaagreeks se ander wedstryde die naweek (afskop Namibiese tyd):

Vandag: SWD Arende tn Oostelike Provinsie Kings (Outeniqua Park, George) 19:00.

Môre: Westelike Provinsie tn Grens Bulldogs; Vrystaat Cheetahs tn Griffons (Toyota-stadion, Bloemfontein) 13:30; Tafel Lager Griekwas tn Luiperds (Hoër­skool Diamantveld, Kimberley) 14:00; Pumas tn Goue Leeus (KaNyamazane, Nelspruit) 14:00.

Tags: 
Andrew Poolman

Bitter min beloning vir dapper werk teen Bulle

$
0
0
Bitter min beloning vir dapper werk teen Bulle

Andrew Poolman - Vir die tweede naweek op 'n streep moes die Windhoek Draught Welwitschias 'n kwalik verdiende wegholtelling afsluk wat baie min verklap hoeveel meer kompeterend hulle stadig maar seker in die Suid-Afrikaanse provinsiale reeks begin word.

Rugbymedia en ondersteuners met 'n terloopse belangstelling sal dalk ná die Vodacom Blou Bulle se oorwinning met 50-25 Saterdag in Windhoek kan aanvoer dat Namibië maar steeds sukkel om in die SuperSport uitdaagreeks die mas op te kom.

Die feit is dat selfs naelskraapse nederlae vir die Welwitschias nie die Suid-Afrikaanse professionele unies óf hul rugbymedia werklik sal beïndruk nie. Hulle verwag inderdaad dat Namibië nie vir 80 minute die pas kan volhou nie en dat die damwal iewers in 'n stadium breek.

Van die betekenisvolle unies sal dus eers weer geklop moet word voordat Namibië se naam soos in vroeër jare met groot respek genoem word. Tot dan sal onvleiende woorde soos “oorrompel” en “oorweldig” seker in die opskrifte bly verskyn.

Dit was grootliks deur die Namibiërs se eie toedoen (en natuurlik opportunisme aan die kant van die Bulle) dat die tuisspan ná net 13 minute met 19-0 agter geloop het en van daar inhaalrugby moes speel. Ongelukkig het die terugvegpoging dié keer geen bonuspunt vir 'n vierde drie opgelewer nie.

Die Bulle se heelagter Divan Rossouw en skrumskakel Ivan van Zyl het die eerste drieë gedruk, voordat laasgenoemde ook 'n onderskepping van sy direkte teenstander Eugene Jantjies raakgevat het om 40 meter vir 'n drie in die hoekie te hardloop (19-0). Van Zyl het die wedstryd uiteindelik met 'n driekuns afgesluit.

Van die Namibiërs se goeie werk is ook ongedaan gemaak wanneer hulle veldposisies op die aanval bewerkstellig, maar dan hul eie lynstaan-ingooi verloor het.

Goeie opbouwerk het wel tot 'n strafskop gelei wat Theuns Kotzé getik het en vir heelagter David Philander op spoed deurgejaag het doellyn toe, tussen twee voorspelers deur. Vroeër was Kotzé ongelukkig om ná nog 'n tikskoppie en 'n lang lopie net kort van die doellyn gekeer

te word sonder dat Namibië met 'n drie beloon is.

Kotzé het wel met twee strafdoele teruggekap nadat die Bulls die stut Andrew Beerwinkel vir 'n maaldrie oorgewerk het (24-13).

Vleuel Lesley Klim het daarna 'n skoppie deur Eugene Jantjies in die kassie op volle vaart aangeslaan. Klim sou waarskynlik geleer het om nooit op te hou speel tot die fluitjie blaas nie, toe die Bulle onmiddellik optel en begin hardloop en 'n drie vir agtsteman Clyde Davis geskep het.

Die Pretorianers was verder in beheer (36-13) met Van Zyl se derde drie, ná 'n binne-aangee deur sy skakelmaat Tony Jantjies.

Namibië se plaasvervanger-stut Andries Rousseau het vir 'n drie naby die pale oorgedryf en senter JC Greyling het vyf punte bygevoeg toe 'n taktiese skop vir die Bulle verkeerd gewip het (36-25).

Uitgeputte verdediging het tot die laaste twee drieë deur Eduan Lubbe en Jade Stighling aanleiding gegee, wat die vyftigtal op die telbord geplaas het.

Aan die Namibiese kant het die lostrio Leneve Damens, Rohan Kitshoff en Thomasau Forbes opnuut 'n deurlopend hoë werktempo gelewer.

• Die Namibiërs speel komende naweek 'n wegwedstryd teen die Goue Leeus, wat op Nelspruit indrukwekkend met 40-29 teen die Pumas gewen het.

Tags: 
Andrew Poolman

Welwitschias treffen auf Lions

$
0
0
Welwitschias treffen auf Lions

Windhoek (omu) - Namibias Rugby-Auswahl wird am Samstag (15 Uhr) bei den Xerox Golden Lions in der SuperSport Rugby Challenge antreten. Der Vierte hat bisher ein Spiel gewonnen und eines Unentschieden beendet und wird auch gegen die Welwitschias punkten wollen. Nach dem 40:29 gegen die Steval Pumas, liegt das Momentum auf der Seite der Gastgeber.

Namibias Nationalmannschaft, die am vergangenen Wochenende eine 25:50 Schlappe gegen die Blue Bulls einstecken musste, kann nur aufgrund einer signifikanten Leistungssteigerung ein zählbares Ergebnis erzielen. Trainer Lynn Jones hatte aber nur eine Woche Zeit, an der Fitness der Spieler zu arbeiten. Das ist der Bereich, bei dem es am meisten hapert.

Wie auch im Spiel gegen die Hino Valke vor zwei Wochen, hatten die Welwitschias gegen die Bullen aus Südafrika anfangs gut dagegen gehalten, sind aber in der zweiten Spielhälfte kräftemäßig eingebrochen. In der zweiten Partie des Spieltags der Gruppe-Nord empfangen die Bulls die Valke und könnten den ersten Tabellenplatz weiter behaupten.

Olaf Mueller

Welwitschias streef na akkuraatheid

$
0
0
Welwitschias streef na akkuraatheid

Andrew Poolman - Die Goue Leeus is verreweg die sterkste span in die noordelike groep van die SuperSport uitdaagreeks en sal heel moontlik die sterkste opposisie wees met wie die Windhoek Draught Welwitschias in die eerste helfte van die provinsiale seisoen te doen gaan kry.

So het die Namibiërs se afrigter, Lyn Jones, erken toe hy sy span vir môre se wegwedstryd teen die Leeus op Alberton aangekondig het.

Volgens hom is dit ’n goeie geleentheid om te wys in hoe ’n mate die Welwitschias hul kompeterendheid in die fisieke stryd verbeter het.

“Die Leeus het indrukwekkend gelyk toe hulle laas naweek die Pumas geklop het. ’n Mens kan sien dat hulle baie goed georganiseerd en baie goed afgerig is. Dit was verreweg die beste rugby wat ek sover in vanjaar se reeks gesien het.

“Ons sal dus baie hard moet werk om ons wedstrydplan af te dwing en om minstens vier drieë te druk.

“Ons reis nie na Gauteng met ’n ingesteldheid dat ons ten alle koste moet wen nie. Ons weet wat die rimpeleffek sal wees as ons vordering maak om beter, meer akkurate rugby te speel.”

ROTERING

Jones het sewe veranderinge aangebring aan sy span wat laas Saterdag die tuiswedstryd teen die Vodacom Blou Bulle met 50-25 verloor het.

Die ganse voorry wat laas naweek in die tweede helfte opgestuur is, kry dié keer hul kans in die beginspan. Haker Gerhard Lotter sal saam met Collen Smith en Andries Rousseau opdraf.

Die ander twee stutte, Christo McNish en AJ de Klerk, sal op die reserwebank gereed sit, terwyl Shaun du Preez weggelaat is om die nuweling Obert Nortjé vanaf die reserwebank bekend te stel.

Op slot maak Max Katjijeko sy terugkeer in die plek van Ruan Ludick, wat ’n goeie werktempo teen die Bulle gelewer het.

In die lostrio word Roderique Victor op agtsteman ingebring, terwyl Leneve Damens na die kant van die skrum verskuif in die plek van Rohan Kitshoff, wat ’n ruskans kry ná twee vurige vertonings van 80 minute elk teen die Valke en die Bulle.

In die agterlyn kry linkervleuel Gino Wilson ook ’n ruskans. David Philander skuif van heelagter na die 11-trui, terwyl Aurelio Plato die laaste vesting sal beman.

Op binnesenter maak Francois Wiese sy eerste verskyning in die beginspan in die plek van Darryl de la Harpe, wat in die eerste twee wedstryde goed op dreef was.

Windhoek Draught Welwitschias: 15 Aurelio Plato, 14 Lesley Klim, 13 JC Greyling, 12 Francois Wiese, 11 David Philander, 10s Theuns Kotzé, 9 Eugene Jantjies (kapt), 8 Roderique Victor, 7 Leneve Damens, 6 Thomasau Forbes, 5 Max Katjijeko, 4 Muniovita Kasiringua, 3 Andries Rousseau, 2 Gerhard Lotter, 1 Collen Smith.

Reserwes: Obert Nortje, Christo McNish, AJ de Klerk, Mahepisa Tjeriko, Thomas Kali, Cameron Klassen, Heinrich Smit.

“Ons het tot dusver goeie belofte getoon, maar ons het nie konstant genoeg presteer nie. Wat ons laas naweek van die Bulle gesien het, wys die verskil in die vertoning van ’n span wat in staat is om tien keer per week te oefen eerder as vier keer, soos ons,” sê Jones.

“Die veggees van ons spelers om kompeterend teen die Bulle te wees, was verblydend. Ons besef dat ons nog ’n agterstand moet inhaal. Ons ken die vrae wat gedurende ’n wedstryd gevra word en ons weet wat die antwoorde is. Ons vertoning was egter nie akkuraat genoeg nie.

“Solank ons aanhou om hard en doelgerig te werk, sal die oorwinnings kom.

“Dit was ongelukkig dat ons nie ’n vierde drie kon druk nie, want dit sou welverdiend gewees het. Dit is ’n sterk fokus vorentoe om in elke wedstryd na vier drieë te strewe – want só plaas jy 30 punte op die telbord en bring jouself in ’n posisie om die wedstryd te wen Al wat oorbly, is dat jy ook die opposisie op die verdediging uithou met duikvatte om die bene.

“Dis nie altyd maklik nie, maar ons het ’n groep wat vasberade is om voortdurend te verbeter.”

Jones sê die SuperSportreeks is die platform waar volgende jaar se Superrugby-spelers vir Suid-Afrika gebrei word, terwyl dit vir Namibië ewe belangrik is om sy plaaslike spelers vir toetsrugby te help voorberei. Volgende week word Namibië se nasionale afrigter, Phil Davies, hier verwag en sal hy eerstehands die vordering op die oefenveld en in die wedstryde besigtig met die oog op die toetsseisoen in Junie en Julie.

JONG VOORUITSIG

Die afrigter is veral opgewonde om Obert Nortjé sy kans op die groter verhoog te gee.

“’n Indrukwekkende atleet met ’n groot toekoms wat puik spel in die eerste deel van die seisoen gelewer het,” noem Jones die haker van Unam wat steeds in sy tweede jaar as ’n nasionale o.20-speler is.

“Ons wil Obert in die vinniger baan sit om hoër hoogtes in die sport te bereik.”

Jones het ook ’n hoë dunk van Francois Wiese om Darryl de la Harpe se skoene op binnesenter te kan volstaan en hy wil ook sien waartoe Auerlio Plato in staat is.

“Die voorry het goed gevaar toe hulle teen die Bulle opgestuur is. Hul plek in die beginspan laat hulle toe om verder te ontwikkel en om hul fiksheidsvlak te verbeter en om die werk te verdeel wat ons die naweek in die gesig staar.”

Volgens die afrigter is heelwat aandag bestee om ’n fikser en meer beweeglike eenheid op te bou wat oral kan bykom om te verdedig. Die onakkuraatheid in die lynstane sal ook ’n groot verbetering verg – nadat soveel goeie opbouwerk teen die Bulle daar ongedaan gemaak is en die Pretorianers

“In die eerste kwartier het ons buffet-rugby gespeel, soos ek dit noem. Net deur ons eie foute het ons die opposisie genooi om hulself te help en 19 punte op die telbord te plaas. Sportspanne op die topvlak maak nie sulke foute nie en laat ook nie sulke halwe kanse verby gaan nie.

Tags: 
Andrew Poolman
Viewing all 263 articles
Browse latest View live